Die duiwel maak my hart so seer

Outeur: François Bloemhof

Uitgewer: Lapa

Resensent: Francois Bekker

 

Die krimi-genre bars uit sy nate. Kompetisie tussen skrywers is straf en die gehalte is oor die algemeen wêreldklas. Omdat Francois Bloemhof wie self ’n groot aanhang as spanningsskrywer het, iets nuuts wou probeer, is Die duiwel maak my hart so seer  ’n opwindende waagstuk. Bloemhof se oeuvre is nie alleen wat die getal boeke betref indrukwekkend nie, dit getuig ook van veelsydigheid. Spanningsrillers en jeugverhale is maar drie van die verskillende genres waarin Bloemhof werk. Drie dekades se ondervinding wys duidelik in hierdie verhaal wat die speurroman op sy kop draai.

Die Van Biljon-gesin is onder beleg. Eers sterf die gesin se seuntjie. Nou is Lomeus en sy vrou, Deirdre, ekstra besorg oor hul sesjarige dogtertjie, Sonja. Deirdre se suster, Hanlie, het selfs haar werk in Engeland opgegee om te kom help. Daarna volg nog insidente wat dui op ernstige treitering. Klippe word na die huis gegooi. Nog meer word gedoen om die gesin se veiligheid op te skerp. Waarop stuur dit af? In hoe groot gevaar verkeer die gesin werklik? Dit is presies wat Ludo Labuschagne, impromptu privaatspeurder, wil uitvind. Want so seker as wat dit die jaar 1981 is, is iets nie pluis nie.

Op die oog af ’n oulike en eenvoudige storie vir lekkerlees. Wel, met die gemaklike skryfstyl van Bloemhof is lekkerlees gewaarborg. Maar, soos hulle in Engels sê: “there is more to the story than meets the eye.

Bloemhof se eerste uitdaging was om ’n nuwe speurheld teen die cliché in te skryf en te skep. Om nie ’n stereotipiese speurder te gebruik nie. Ontmoet Ludo Labuschagne.

In sy vroeë twintigs is hy nêrens heen op pad nie. Rigtingloos. En dis ook nie asof dit hom juis pla nie. Sowel ambisie as dryfkrag skiet tekort. Onvoltooide studies agter die rug, werkloos en hy bly sowaar nog onder sy ma se dak. Om ’n Trump-woord hier in te smokkel – ’n loser. ’n Onderpresteerder in die ware sin van die woord.

Dan hoor hy van die Van Biljon-gesin se terugslae en moontlike skades wat om die volgende hoek vir hulle lê en wag, heel moontlik lewensgevaarlik daarby. En so met al die wonder oor hoekom hierdie gesin die teiken van booswigte blyk te wees, ontdek hy in homself ’n onkeerbare liefde vir raaisels. Sy voorneme om agter die kap van die byl te kom en iets goed vir die mensdom (lees Van Biljons) te doen word ’n allesoorheersende strewe by Ludo.

Verby die oënskynlike oulike storie van ’n faux-speurder wat kopkrap en rondsnuffel om te bepaal of een plus een inderdaad twee is, lê ’n dieperliggende storielyn wat op verskillende vlakke verras.

Met Die duiwel maak my hart so seer bevind die leser hom in ’n tydkapsule wat die dekade tagtig op ’n aangrypende wyse karteer. Soos Karel Schoeman iewers geskryf het: “Die verlede is ’n ander land, die mense doen dinge anders daar.” Geen selfone nie, televisie-uitsendings wat met die oordenking om middernag afgesluit word, geen diefwering nie, en so meer. Dit was die jare van Pac-man, JR Ewing, Purdey, baie van die merkers van daardie tyd word treffend aangestip.

Maar agter die oënskynlike sorgelose onskuld het ’n donkerte geskuil wat die leser onverhoeds betrap as temas soos homofobie, chauvinisme, verdwaalde nasionalisme, rassisme en veel meer blootgelê word. Die illusie, selfs wreedheid van vroomheid word aangrypend blootgelê.

Die storie word verder verryk met interessante karakters en die verhoudings tussen hulle. Die driemanskap wat Ludo en sy eertydse skoolvriende, Hentie en Yolanda is, getuig van menslikheid in sy suiwerste en broosste vorm.

Nooit swaar nie, deurgaans onvoorspelbaar en verrassend veelvlakkig is hierdie roman ’n boek wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. ’n Speurroman wat hierdie resensent se hart sommer baie bly gemaak het. Genre-vernuwend en briljant bedink.