In die vroeë 1990’s het Prophet ’n opskudding in kontemporêre Afrikaanse Christelike musiek veroorsaak toe hulle die lied “Houtkruis” vrygestel het.
Sedertdien het hierdie sangpaar, wat uit twee pastore met doktorsgrade in teologie, Koos van der Merwe en Theo Geyser, die publiek se verbeelding met hul skerp humorsin en waagmoed aangegryp. Hulle was nie bang om skynheiligheid kaalvuis aan te pak, of om heilige koeie te slag nie, en veral snitte soos “Popoliedjie”, “Kerkraadrap”, “Psalmalternatieweliedjie”en “Paradysplagiaat” het hulle baie amper in die moeilikheid laat beland. Nogtans het hulle voortgegaan en baie aanhangers ryker geword. Hul deurbraak-album, Ban hom uit die sinagoge, is seker een van die beste Afrikaanse kontemporêre Christelike albums wat tot nog toe uitgereik is, maar dit is ongelukkig deesdae onverkrygbaar.
Hoewel hulle met twee susters getroud is, het hulle mettertyd hul eie rigtings ingeslaan, en Koos het Afrikaanse weergawes van die liedjies van Leonard Cohen en Bob Dylan opgeneem. Nou, na ’n afwesigheid van sestien jaar, is hulle op openbare aanvraag terug met hul jongste album, Die kolonie.
Die omslag van die album is reeds omstrede; dit beeld Jan van Riebeeck uit met ’n sonbril oor die oë, ’n sigaar in die mond, goue kettings om die nek en ’n selfoon in die hand, asook die woorde “Só spreek die Here XVII”. Hulle was die beheerraad van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, wat besluit het om die verversingspos aan die Kaap te vestig.
Van die eerste snit af kom jy reeds agter dat hulle nog steeds nie bang is om presies te sê wat hulle dink nie. “Jy kan nie sommer vir my sê nie” is ’n onbeskaamde dwarsklap na die streng regulasies rondom die Covid-19-pandemie, en hierin maak hulle sterk beswaar teen die voorskriftelikheid van mense wat hulle kwansuis in belangrike posisies bevind. Die titelsnit handel oor alles wat sedert 1652 in ons land skeefgeloop het, en soos hulle in die lirieke sê, was daar mense op die skepe wie se motiewe allesbehalwe suiwer was, en wat mense wou mislei. Volgens hulle het niks nog verander nie. Hulle is nogal lief daarvoor om die woord “skroef” te gebruik en die woordspelings rondom hierdie woord, is skreeusnaaks. Hulle maak ook beswaar teen naamsveranderinge.
Nog iets waarteen hulle sterk standpunt inneem, is die welvaartsteologie wat onder meer deur televisie-“evangeliste” verkondig word. Volgens hulle word daar aan mense vertel dat die hemel vol strate van goud is, en daar is mense wat hierdie strate van goud op aarde belowe, en vra dat daar groot bydraes gegee word. Volgens hulle misbruik die “evangeliste” hierdie bydraes om hulself te verryk. Op “So is dit met my hart” sing hulle van die soeke na meer as net die ekstase rondom Paasfees; die gestroopte akoestiese klank, asook Koos se lae register, is aangrypend. Op hierdie snit bewys hulle dat hulle nie net op humor of omstredenheid staatmaak om ’n standpunt oor te dra nie. Ten spyte van die titel is “Freedom song” ’n Afrikaanse liedjie. Hier maak hulle nog ’n omstrede stelling, naamlik dat diegene wat hulle kwansuis vir die belange van die armes beywer, niks anders doen as om hulself te verryk en uitspattig te lewe nie. “Dankbaar en tevrede” sluit tot ’n mate hierby aan; die boodskap van hierdie snit is dat ’n mens nie die heeltyd na meer in die lewe op soek moet wees nie, dat die mense wat jy liefhet, belangriker as aardse besittings is en dit wat jy het, genoeg vir jou moet wees.
Die gemiddelde man word geleer dat ’n mens nie oor jou gevoelens mag praat nie, en veral in die Weermag is jy gedwing om dit te ontken of te onderdruk. Prophet bly nie stil hieroor nie, en op “Huil maar nou” sing hulle daarvan. Hulle maak beswaar teen die feit dat emosies as ’n skande beskou word en hul boodskap is dat ’n mens dit vir die Here moet gee, en dat Hy dit kan gebruik om jou skoon te was. Hulle sê dat ’n mens nie net die heeltyd kwaad moet word of moet protesteer nie, maar eerlik oor jou diepste seer moet praat. “Sweetness” is ook ’n Afrikaanse snit, maar met deurmekaar taalgebruik, en Koos wys op hierdie snit hoe goed hy kan fluit. Op “Ek kuier vanaand by Rachel de Beer” is daar ’n blues-klank wat effens ongewoon in Afrikaans is.
In “Dagbreek” sing hulle van die skeppingsverhaal; die musikale verwerking daarvan is eenvoudig skitterend. Die ontnugtering van liefde wat kwyn, word baie goed in “Magtelose maan” verwoord. Die laaste snit, “Laat my sien”, laat ’n mens dink. Dit is ’n gebed tot die Here waarin hulle vra dat mense se oë sal oopgaan vir diegene in nood.
Twee dinge het, ondanks Prophet se lang stilte, dieselfde gebly en ’n mens kan nie anders as om dankbaar daarvoor te wees nie. Hulle is nie bang om standpunt in te neem teen dinge wat verkeerd is in ons land nie. Daarby is hul humorsin nog net so skerp soos jare gelede. Vir diegene wat in die storie agter die musiek belangstel, is daar ook iets besonders; hulle het mini-dokumentêre video’s oor ses van die snitte opgeneem, en ’n mens kan dit op die kanaal Prophet TV op YouTube sien. Die kommentaar wat hulle hierin lewer, is eenvoudig skreeusnaaks, soos wat ’n mens van hulle kan verwag.
Hoewel dit nog redelik vroeg in die jaar is, kan ’n mens nou reeds seker wees dat hierdie album een van die bestes van vanjaar sal wees, indien nie die heel beste tot dusver nie. Goed, dit sal nie in almal se smaak val nie en daar is radiostasies wat dit vir seker nie sal speel nie, maar Prophet het hulle nog nooit daaraan gesteur nie. Hulle het eerder vorendag gekom met ’n album wat van onberispelike integriteit spreek, wat die musiek en die lirieke betref, en daarmee kan ’n mens beslis nie fout vind nie. Welkom terug, Prophet!