Die 3 van ons
Zelda Bezuidenhout
Uitgewer: Pan Macmillan
R165,00
Oor hierdie boek:
Ek en Azlynn kyk vir mekaar. Dis nou interessante nuus. Daar’s ‘n nuwe meisie in die buurt, sy’s so oud soos ons en boonop gaan sy in ons skool wees. Ek kan sien hoe opgewonde dit vir Azlynn maak. Haar oë vonkel en sy glimlag breed. Maar ek is meer bang as opgewonde. Wat as dit ‘n simpel meisie is? Of nog erger, wat as dit ‘n wonderlike, superslim, vriendelike meisie is wat dadelik Azlynn se beste vriendin word? Wat as ek my graadsewejaar stoksielalleen moet deurgaan? My maag voel skielik hol …
Uitgewer: Tafelberg (NB-Uitgewers)
Prys: R 290,00
Oor hierdie boek:
Wat onderskei die rykes van ‘gewone mense’? Hulle dink anders. In Dink soos ‘n miljardêr verduidelik Daniel Strauss, die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss, wat dit beteken om soos ’n miljardêr te dink en deel sy geheime tot sukses, soos hoe om toegang tot kapitaal te verkry, die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik en hoe om jou gedagtes van selfopgelegde beperkings te bevry, sodat jy ook soos ’n miljardêr kan dink – en uiteindelik self een kan word.
Laramie – ’n Terugblik op Eugène N Marais saamgestel deur Jeanette Ferreira
Uitgewer: Minimal Press
Prys: R280,00
Eugène N. Marais is in 2021 honderd en vyftig jaar gelede gebore en het vyf en tagtig jaar gelede aan eie hand gesterf. Hy het ’n breë terrein bestryk as prosaskrywer, digter, dramaturg, natuurkundige, hipnoterapeut, regsman en joernalis. Sy versamelde werke het twee uitgawes beleef en ouer sowel as jonger lesers vind steeds daarby aanklank.
Laramie bevat bydraes deur eietydse skrywers in die vorm van prosa, poësie en essays uit die regte, natuurwetenskappe, sielkunde, filosofie en geskiedenis. Standaardafrikaans, Gariepafrikaans en Kaaps, selfs Nederlands, loop saam op Marais se spoor. Lof en meelewing maar ook fel kritiek bied ’n gebalanseerde kyk op hierdie geroemde, omstrede en tragiese figuur. Dit bevat iets vir almal.
Seisoene op parool
Hans Pienaar
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R220,00
Agtergrond:
Bekende digter en resensent Louis Esterhuizen het die volgende oor hierdie versameling gedigte gesê: “Kenmerkend is die ironiese, selfs sardoniese, toon terwyl die stem se personasie in die gedigte dikwels skollieagtig is; iets wat direk verband hou met die titel se verwysing na parool: Iemand wat voorwaardelik vrygelaat is, dog streng by beheermaatreëls moet hou ten einde daardie gewaande vryheid te handhaaf en hernieude tronkstraf te voorkom. Die digter slaag om indrukwekkende wyse daarin om dié filosofiese beskouing van vryheid vs gebondenheid verteenwoordigend van die mens se algehele lewenslot te maak.”
Die Familiebybel
Uitgewer: Lux Verbi (NB-Uitgewers)
Prys: R480,00
Die Familiebybel het die volledige Bybel in die 2020-Afrikaanse vertaling met bykomende materiaal deur Johan Smith, spesiaal gemik op gesinne. Dit bevat artikels oor die gesinslewe deur die familiekenner, dr Johan Smith van Vita Amp; kaarte en ‘n woordelys, Bybelstudiemateriaal vir ’n jaar; Bybelleesplan; ruimte vir julle familiestamboom en ‘n bladsy om trou- en geboortedatums aan te teken. Hierdie Bybel sal ‘n kosbare erfstuk vir julle gesin en groter familie word.
Moet nooit vir ‘n T-Rex ‘n boek wys nie
Rashmi Sirdeshpande, vertaal deur Jaco Jaobs
Prys: R150,00
Oor hierdie boek:
Het jy al ooit gewonder wat sal gebeur as jy vir ‘n T-Rex ‘n boek wys? Sy sal nie weet wat om daarmee te doen nie!! Sy sal dink dis ‘n koekie, of selfs ‘n hoed! Maar wat as sy leer lees? Sy besluit dalk sy wil eerder ‘n kunstenaar wees, of ‘n dokter, of ‘n professor, of selfs die staatspresident! ‘n Skaterlagstorie propvol verbeeldingskrag, pret en die viering van boeke! Uitstekend vertaal deur Jaco Jacobs.
Nootvat. Kwashaal. Stapel
Bernard Odendaal
Prys: R250,00
Oor hierdie boek:
In sy eerste bundel sedert hy in 2007 met Onbedoelde land gedebuteer het, besin Bernard Odendaal oor woordkuns, Afrikaans en die voortbestaan daarvan; gedenk hy die heerlikheid én verganklikheid van die mens, die natuur en die liefde; registreer hy maatskaplike verwording. ’n Verlore jeugwêreld en vriende word onthou; daar word gedink aan kinders wat in diaspora verkeer. Stemminge, toonaarde en digvorme wissel mekaar af.
Nomadiese sterre
Joan Hambidge
Prys: R200,00
Meer oor hierdie boek:
Nomadiese sterre bied ʼn terugkyk op Hambidge se net meer as 60 jaar en veral ʼn blik op haar plek in die Hambidge-huisgesin (soos in die gedigreeks “Witbank-Blues” waarmee die bundel afgesluit word). Dié blik word ’n lamentoso, ’n pynlike terugkyk (“Antigone”) en die “blues” ʼn tint wat die stemming van die bundel kleur. Johan Myburg merk op: “Wat deurgaans opval is Hambidge se omgaan met “hartenswoorde”: woorde wat ʼn duidelike persoonlike betekenis het, maar só geboetseer word dat dit die leser toelaat om ʼn eie “hartensbegrip” daaraan te koppel. Wat veel vreugde bied is die spel en dikwels speelse manier waarmee sy omgaan.”
Die verwysing na sterre in die titel open verwysingsvelde van sterre, gesterntes en swerwers.
Ouma Mollie en die mensvreter
Fanie Viljoen
Uitgewer: Lapa
Prys: R160,00
Meer oor hierdie boek:
Haar naam is Mollewania Mollewiekus Nagtegaal. Maar jy kan haar sommer net ouma Mollie noem – die grootse moeilikheidmaker op Seeperdjiebaai. Gelukkig hou Nina haar ouma (gewoonlik) uit die moeilikheid.
Vandag is egter nie een van daardie dae nie. Dit begin toe ouma Mollie soos ’n verdrinkende meermin in die bad lê. Gou laai sy vir Nina en Blapsie, die basterbrak, in haar kar, Spokie. Hulle sit af see toe. Dis waar hulle in GROTER moeilikheid beland, want ouma Mollie wil mos leer surf. En sy wil die dolfyne voer. En …
Nee, wag, jy moet maar self lees wat TOE gebeur.
Kosmos en komete
Ané Kotzé
Lapa-uitgewers
R200
Kosmos en komete is die debuutbundel van Instagram en Facebook digter, Kaalwoorde. Die sukses van dié jong digter op sosiale media word toegeskryf aan haar toeganklikheid. Sy verwys na haar gedigte as bepeinsings oor gevoelens en gebeure, aansporings om te droom, en gedagtes wat die leser los met positiwiteit. In hierdie bundel val die klem op reise deur verskillende landskappe – fisies sowel as emosioneel. Kaalwoorde se gedigte is romantiese mymeringe oor die skoonheid van eenvoudige dinge soos ’n veld vol kosmos, sowel as drome wat soos komete die ruimte ingestuur word. Die gedigte is toeganklik en juis gemik op lesers wat nie tradisionele digbundels koop nie; dit herinner aan die werk van Rupi Kaur en Atticus.
Hartedief
Rudie van Rensburg
Uitgewer: Queillerie (NB-Uitgewers)
Prys: R 295,00
Oor hierdie boek:
’n Reeksmoordenaar jag by stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek.
Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ’n aanvallige mede-seëlversamelaar. Vlerksleep is nie vir sissies nie.
Om sake vir hom en Rooi te vererger word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys.
Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.
TITEL: Versamelde dramas – N.P. Van Wyk Louw
OUTEUR: N.P. Van Wyk Louw
SAMESTELLER: Deborah Steinmair; Kristèl de Weerd
PRYS: R595.00
Agtergrond:
Die dans van die watermeid
Amee Lekas
Prys: R200.00
Agtergrond:
Die drama speel af in die Karoodorpie Willowmore. Die rol van die kerk, verkragting, verlies en familie is van die temas wat aangeraak word. Lekas kyk na ’n kind se weerloosheid en na die familie se verantwoordelikheid om na haar om te sien. Die watermeid (waternimf of meermin) is die mitiese figuur wat tot die dorpie se redding moet kom en drie kinders in die stuk hoop sy sal hulle kom red. Dit raak egter gekompliseerd wanneer die skuldige persoon ’n belangrike figuur in die gemeenskap is – die dominee.
Die dans van die watermeid wen in 2018 die Fleur du Cap-prys vir beste inheemse teks. Die teks is ontwikkel onder mentorskap van Saartjie Botha.
Waar kom ons vandaan?
Deur Andreas Engelbrecht, Schalk Engelbrecht, Marleen Visser
Uitgewer: Tafelberg (NB-Uitgewers)
R 220,00
Oor hierdie boek:
Hierdie boek vertel die verhaal van waar ons spesie vandaan kom – van die Oerknal, die ontstaan van sterre, ons son en die planete, en die vroegste lewende selle tot die eerste ape, asook die rol van argeologie in die navorsing oor die ontstaan van die menslike voorganger, Homo erectus. Ons is Homo sapiens, waarvan die oudste fossiele ongeveer 200 000 jaar oud is, en het ontwikkel van jagter-versamelaars tot landbouers tot die eerste beskawings.
Speurder Kwaaikofski: Omnibus 3
Deur Jürgen Banscherus, Ralf Butschkow, Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Human & Rousseau (NB-Uitgewers)
R170,00
Oor hierdie boek:
Kwaaikofski is ’n privaatspeurder. Hy het nou eenmaal ’n talent daarvoor. Gee hom ’n glas melk, Carpenters kougom en sy spesiale kep en hy is gereed vir enigiets! Hierdie omnibus bevat drie van Speurder Kwaaikofski se gewildste avonture vir beginnerlesers. Hierdie keer krap ’n ander speurder krap in sy slaai, hy moet uitvind wie Olga se luukse motor beskadig het en hy beland boonop in die kollig op die verhoog . . .
Jy kan die wêreld verander
Deur Lucy Bell, Fanie Viljoen
Uitgewer: Human & Rousseau (NB-Uitgewers)
Prys: R250,00
Oor hierdie boek:
Ons sien elke dag probleme, iets wat ons aandag verg. Vullis gestrooi in ’n grasgroen park, plastiekwaterbottels op die strand, ‘n oorvol vullisdrom wat die straat bemors. ’n Maer, verwaarloosde hond. Sommige van hierdie probleme is so groot, dit lyk onmoontlik vir een mens om hulle op te los. Maar ons kan dit regmaak as elkeen van ons ons deel bydra. Hierdie praktiese gids gee vir kinders hulpmiddels om aksie te neem! Dit bemagtig en inspireer hulle om ’n verskil in die wêreld te maak.