Hartedief

Skrywer: Rudie van Rensburg

Uitgewer: Queillerie (NB-Uitgewers)

Resensent: Francois Bekker

 

 

Hy is enige ma se droom skoonseun. Sag op die oog, bedagsaam, goed met kinders en skatryk. Hy is ook voortvlugtig. Hy vlug van sy verlede, van homself en die gereg. Sy hartewens is om alleen gelos te word, sy eie ding te doen – hy het ieder geval nie nodig om te werk nie. Die probleem is net, hy trek die skonere geslag soos ’n magneet aan, veral omdat hierdie aantreklike kêrel nie desperaat is om vroue se aandag op hom te vestig nie. En wanneer jy as enkellopende vrou hierdie oënskynlik hubare man probeer inkatrol, het jy vir alle praktiese doeleindes jou doodsvonnis onderteken.

Omdat Pieter Vermooten finansieel onafhanklik, slim en uitgeslape is, is hy aan niemand en niks verbonde nie. Met hom kry die woord glibberig ’n nuwe betekenis. Waar soek jy iemand wat met ’n dosyn aliasse werk en nêrens bekend is aan iemand nie.

Wanneer hy toeslaan op Langebaan is die polisie in rep en roer in die Wes-Kaap, want Kaapstad se vroue is met hom in die omgewing nie veilig nie. En omdat hy al lank reeds een van die mees gesoekte mense in die land is, word die hulp van die Spesiale Spookeenheid benodig. Kaptein Kassie Kasselman en adjudantoffisier Rooi Els is die staatmakers op wie se skouers die verantwoordelike taak val om hierdie gevaarlike man so vinnig moontlik aan te keer.

Kassie en Rooi is gewoond daaraan dat ’n polisieondersoek ’n doolhof word met gangetjies wat net mooi nêrens heen lei nie. Waarop hulle nie voorbereid is nie, is die feit dat daar magte binne die polisie is wat om duistere redes hulle ondersoek in die wiele wil ry. Hoe beveg jy misdaad as die aanslag op jou werk uit eie geledere kom?

Wat op dees aarde kan Kassie se lewe verder kompliseer? Ontmoet Amalia Keyser – nie alleen stel sy soos ons held ook in seëls belang nie, alles dui daarop dat sy Kassie se geselskap sommer uitermatig baie geniet. Om die hart en sy kop te sinchroniseer ter wille daarvan om gefokus te bly, word ’n bykomende uitdaging vir Kassie.

Veral een aspek van Hartedief het gehinder. Omdat die leser van meet af weet wie die booswig is na wie gesoek word, sukkel die verhaal met ’n spanningslyn. Wat ook ingeboet word met so storie-opset, is misterie en ’n verrassingselement.

Wanneer die verhaal van Sylvia vertel word, raak dinge interessanter. As iemand met ’n twyfelagtige verlede wie met alle erns ’n nuwe blaadjie in haar lewe wil omslaan, trek Sylvia by ’n nuwe woonstel in om naby die maatskappy te wees waar sy vir die eerste keer in haar lewe ordentlike werk gaan verrig. Hier is dit die aantreklike buurman wat haar aandag onmiddellik trek. Die interaksie tussen haar en die buurman vergoed vir ’n andersins afwesige spanningslyn.

Voeg hierby wolwe in skaapsklere binne die polisie en alles is darem nie verlore nie.

Ek het egter die karakters wat Sylvia en haar vriendin Benita as karikatuuragtig gevind. Hiermee saam is die situasieskepping ook nie altyd ewe oortuigend nie.

Uiteindelik word Hartedief eerder ’n storie wat in die kop van ’n reeksmoordenaar wil klim. Wat gaan in so persoon se kop aan? Waarom doen hy wat hy doen? Wat is die sielkunde daaragter? Die verkenning van hierdie aspekte is wel interessant.

Alhoewel nie ’n oeuvre-hoogtepunt nie, sal getroue Rudie van Rensburg-lesers Hartedief as lekkerlees ontvlugtingsvermaak ervaar.