In 1998 het ’n paar jong musikante onder leiding van Charles Smidt ’n nuwe klank in Afrikaans geskep, uit protes teen die vertaalde Afrikaanse musiek wat destyds soveel radiolugtyd gekry het.

Meer as twintig jaar later is Beeskraal steeds aan die gang, en hul jongste album, Afrikana osbloed, is ’n huldeblyk aan Afrikaanse musiek van vroeër. Die album skop, heel gepas, af met ’n FAK-keurspel, wat bestaan uit “Suikerbossie”, “Hanoverstraat”, “Oukraalliedjie” en “My hartjie my liefie”, en hul kenmerkende Boererock-klank kan duidelik hierop gehoor word. Die volgende snit is die bekende “Kalfiewals”, maar moenie ’n tradisionele Boeremusiek-klank verwag nie. Pleks daarvan draai hulle die krane met die kitare en tromme vol oop, nie dat die konsertina agterweë bly nie. Dit is juis wat Beeskraal so uniek maak.

Charles het Anton Goosen nog altyd as ’n rolmodel beskou, en daarom is dit geen verrassing dat hulle weer ’n keurspel van sy treffers ingesluit het nie. Hierdie keer het hulle “Geelperskereën”, “Kalbassies”, wat Anton teen die einde van die 1980’s as deel van die Kommissie van Ondersoek geskryf en gesing het, “Klein bietjie wyn”, “Ta’ Mossie se sakkie-sakkie Boeredans” en “Kruidjie-roer-my-nie” ingesluit. Beeskraal kan egter nie net rock nie. Met “As dit nag is in die Bosveld”, wat onder meer ’n treffer vir Gert Potgieter was, wys hulle dat hulle dit ook rustig kan vat. Dit is trouens ’n baie mooi opname van hierdie byna vergete treffer, en die Hawaiise kitaar pas baie mooi daarby in. “Trein na Pretoria” is natuurlik een van die mees veelbesproke Afrikaanse liedjies tot nog toe, en dis goed dat ’n nuwe opname daarvan eindelik gemaak is. Beeskraal se opname verskil egter radikaal van dié van Die Briels, en weer eens kom hul kenmerkende rock-klank sterk na vore.

Daar is egter nie net ou musiek wat op hierdie album voorkom nie; die enkelsnit is Abel Kraamsaal se komposisie “Storm”, met ’n effense blues-klank. Dit is ’n baie toeganklike snit vir byna enigiemand en behoort gereelde radiolugtyd te kry. Francois Hayes se groot deurbraak was “Osbraai op Kromdraai”, wat nou reeds veertig jaar gelede vrygestel is. Vir ’n verandering is Beeskraal se opname baie soortgelyk aan die oorspronklike een. Die laaste snit is Valiant Swart se komposisie “Ware liefde”, wat lirieke bevat wat dit hoegenaamd nie geskik maak vir radiolugtyd nie.

Met hierdie album het Beeskraal weer eens bewys waarom hulle nie hul gelyke in die musiekbedryf het nie. Soos Charles al gesê het, het hulle die gaping tussen die Voëlvry-beweging van die 1980’s en die alternatiewe beweging van die nuwe millennium oorbrug deur musiek vry te stel wat op ’n jong gehoor gemik is, maar nie vergeet waar hulle vandaan kom nie. Die enigste probleem met hierdie album is dat dit nie eens ’n halfuur lank is nie; jy begin net lekker te luister en dan is alles verby. Hoe ook al, vir enigiemand wat op soek is na iets anders as die kommersiële musiek wat heeldag oor die radio gehoor word, is dit die moeite werd.