Die afgelope vyftien jaar het Rudi Claase hom as seker die voorste liedjieskrywer in Afrikaanse musiek gevestig, en verskeie liedjies wat hy vir ander kunstenaars geskryf het, het groot treffers geword.

Hy het egter lank laas ’n solo-album met sy musiek vrygestel, en hoofsaaklik saam met ander kunstenaars, veral Corlea Botha, Zita Pretorius en Charné Hugo, gesing. Hy is egter nou terug met sy eerste solo-album in ’n lang tyd, met die gepaste titel van Liedjieskrywer.

Die eerste snit op die album is die liedjie, “Woordeloos”, wat reeds besig is om ’n treffer te word, en dalk sy grootste treffer as sanger tot dusver kan wees. “Seile” het ’n paar maande gelede die trefferslyste van verskeie radiostasies gehaal en ’n mens laat wonder wanneer hy ’n solo-album sou vrystel; daarom is dit goed dat dit op hierdie album ingesluit is. “Bly staan” is tot ’n mate outobiografies; hierin sing hy van sy geloof en deursettingsvermoë te midde van moeilike omstandighede.

Rudi het al ’n paar liedjies met ’n Christelike strekking geskryf, en “Manna” is ’n vrolike loflied tot eer van die Here wat baie meer radiolugtyd verdien as wat dit dalk sal kry. Langenhoven is die enigste snit wat al voorheen opgeneem is; Juanita du Plessis het dit ’n paar jaar gelede op ’n album ingesluit, maar Rudi se eie weergawe is net so goed indien nie beter nie. In “Lief vir liefde” beïndruk hy met sy vokale reikwydte; hy ken immers sy eie stem en weet waartoe hy in staat is, en hy wys dat hy ewe goed in ’n lae en hoë register kan sing. “Vingers en voete” is seker die eerste snit op die album met ’n effens ernstige boodskap; hierin neem hy standpunt in teen die onvermoë of onwilligheid van mense om die lewe te ervaar uit vrees dat iets met hulle gaan gebeur. Die boodskap van “As ek stilbly”, is dat mense nie bang moet wees om te sê hoe hulle voel nie, en in “Die wiel draai” sing hy van die gevolge van verkeerde dade.

“Maak dit lekker” is ’n vrolike snit waarmee die dansvloere gou volgemaak sal word, en daarom behoort dit ’n treffer te wees, en in “Ewige kind” sing hy van ewigdurige jeug te midde van die ouderdom. Die laaste twee snitte is regtig baie besonders. Ons almal het al geliefdes aan die dood afgestaan, of verloor en in “Wit kruise” sing hy daarvan. Dit is ’n snit wat enigiemand tot trane sal dryf. “Vir die nostalgie” sluit tot ’n mate hierby aan; hierin sing hy van ’n geliefde wat hy verloor het omdat hy nie weet wat hy verkeerd gedoen het nie.

Hoewel Rudi niks meer hoef te bewys as liedjieskrywer nie, het baie min mense hom tot dusver as solosanger leer ken, veral omdat hy in die verlede hoofsaaklik duetalbums vrygestel het. Met hierdie album bewys hy ook sy talent as sanger bo alle twyfel. Hopelik sal hy voortaan nie net liedjies vir ander kunstenaars skryf nie, maar ook self sy eie komposisies opneem. Daar is juis so min oorspronklike komponiste en liriekskrywers in Afrikaans, en in daardie opsig vul Rudi ’n uiters belangrike gaping in die musiekbedryf. Hierdie album word baie sterk aanbeveel.