Ondanks die feit dat al hoe meer albums op CD uitgereik word en musiek hoofsaaklik aanlyn beskikbaar is, is daar tog debuutkunstenaars wat hul verskyning maak.
Een van 2021 se nuwelinge is Rita Li, wat op ’n plaas naby Clocolan in die Vrystaat gebore is, en wie se debuutalbum Roekeloos verlief, pas uitgereik is. Die eerste snit was ook haar debuutenkelsnit, “Iemand anders”, wat Danny Smoke en Dewald Wasserfall saam geskryf het. Hierin sing sy van verbode liefde, en die moontlike gevolge daarvan. Christelle Combrink is nie net die hoofsangeres van die lof-en-aanbiddingsgroep Duis-Lig nie; sy het reeds twee kommersiële albums onder die naam Stella vrygestel en is sonder twyfel een van ons land se mees talentvolle kunstenaars. Sy het die volgende snit, “Dink aan jou lyne”, geskryf. Elvis Blue het twee komposisies tot die album bygedra, en die eerste een, “Tyd staan stil”, gaan beslis ’n treffer word.
In “2 uur in die oggend” sing sy van die seer van ’n gebroke verhouding, en iemand wat haar geliefde gedurende die nag wil bel maar hoop hy sal nie antwoord nie. Daar is drie snitte wat al voorheen opgeneem is. “Sewende hemel” was ’n komposisie van die twee Coleske-broers, Arnold en Ewald, en was die laaste snit wat hulle tot dusver saam opgeneem het. Rita Li sing dit saam met Dewald Wasserfall en dit kan van voor af ’n treffer word. Stella se tweede bydrae tot die album is “Vir ewig anders”, en dit gaan oor die verskil wat ’n geliefde in iemand se lewe kan maak. Die jongste enkelsnit is Elvis Blue se tweede bydrae tot die album, “Kleur my in”, waarin sy sing van die behoefte na kleur te midde van ’n vaal en vervelige lewe. Dewald Wasserfall was verantwoordelik vir die titelsnit, en byna enigiemand kan identifiseer met ’n verhouding waarin ’n mens halsoorkop betrokke raak ondanks moontlike nadelige gevolge, maar wat op die ou einde werk.
“Lugballon” is ’n spanpoging deur Leon Gropp, Anique Jordaan, Len Muller en Joshua Na Die Reën, wat almal saamgespan het om die konsertreeks Musiek soos grond aan te bied. Dit is ’n uitstekende snit, soos wat ’n mens van ’n aantal van ons land se voorste liedjieskrywers kan verwag. “Toe vind liefde my” is ’n pragtige klavierballade wat deur Johan Oberholzer geskryf is en gereelde radiolugtyd verdien. “My eerste, my laaste” was ook al ’n treffer, waarvoor Johan Oberholzer verantwoordelik was. Die laaste snit op die album, “Peace”, is die enigste Engelse snit, en is oorspronklik deur die lof-en-aanbiddingsgroep Hillsong gesing.
Hoewel Rita Li nie ’n liedjieskrywer is nie, het sy haar omring met musikante wat al in die verlede werk van hoogstaande gehalte gelewer het, en wat met musiek met integriteit vorendag kom. Daarom is daar geen twyfel dat daar vir haar ’n plek in die musiekbedryf is nie. Hierdie album bevat nie ’n enkele swak snit nie, en kan met die grootste vrymoedigheid aanbeveel word vir diegene wat op soek is na musiek wat die toets van die tyd sal deurstaan en van integriteit spreek.