Saadjie en Spikkel

 

Deur Alex Latimer, David Litchfield en vertaal deur Elsa Silke

Uitgewer: Human & Rousseau

Prys: R 175,00

 

 

Oor hierdie boek:

Saadjie en Spikkel is soos vinkel en koljander, maar terwyl hulle vriendskap groei, word hulle self ook groter. Vir Saadjie beteken dit dat hy wortels kry. Maar Spikkel kry vlerke – en sy kan nie wag om hulle uit te toets nie. Al skei die lewe hulle van mekaar, vind ware vriende altyd hulle pad terug, en niemand is groter maats as Spikkel en Saadjie nie.
 
 

Hou die kruit droog

Deur C. Johan Bakkes

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R250,00 

 

Agtergrond:

Johan Bakkes is die geliefde skrywer van aweregse reisjoernale soos Norrevøk, Moertoe die vreemde in en Nou’s ons in ons donner in en Erfgeld is swerfgeld. Hierdie boek bevat sy roerende, inspirerende en vreksnaakse Facebook-plasings in inperkingstyd, toe hy gereeld vir sy lesers gevra het om hul kruit droog te hou. Saam met foto’s uit sy albums en lekker filosofiese, snaakse brokke uit sy vorige boeke word dit so persoonlik soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur. Die kwasterige Bakkes tree in al sy grinterige glorie na vore.

Dis ʼn dol reis vol humor en deernis.

 

Speurhond Willem in Skotland

Deur Elizabeth Wasserman, Chris Venter

Uitgewer: Tafelberg

Prys: R 175,00
 

Oor hierdie boek:

Hoofkommissaris Servin het ‘n ou kasteel naby Edinburg gekoop, maar ‘n doedelsakspelende spook veroorsaak dat gaste hulle vinnig uit die voete maak! Willem en Adriaan moet kom help. Maar daar’s ook ‘n bende bankrowers doenig in Skotland en soos dit maar gaan, bevind Willem en Adriaan hulle kort voor lank in nog ‘n speurtog, op die spoor van die Bandy-broers. 
 
 
 

Die Stella-moorde

Deur: Susan Cilliers
Uitgewer: Lapa
Prys: R295,00
 
Agtergrond:
 
“Maar, Xander, wat het by die koshuis gebeur? Ons weet jy was by die koshuis. Wat het presies gebeur daar? Vertel vir my. Jy kan maar met my gesels, Xander… Praat met my, ou seun, moenie slaap nie. Wat het gebeur by die koshuis? Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, maar jy moet. Wat het gebeur by die koshuis, Xander?” En toe is dit asof die damwal meegee. Die moord op twee pragmeisies in hul skoolkoshuis vroeg op ’n wintersoggend in 2018 het die hegte boeregemeenskap van Stella in Noordwes onherroeplik getraumatiseer. Die ysingwekkende feite van die saak het trouens die hele Suid-Afrika geruk. Xander Bylsma (19), ’n aantreklike boerseun van die omgewing, is aangekla van die wrede wurgmoorde op die sprankelende Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, ’n skrander donkerkop. Watter intriges het tot die moord gelei? En hoe leef die gesinne van drie belowende en geliefde jong mense met die gevolge van ’n grudaad in ’n gemeenskap van vervlegte lewens? Susan Cilliers, skrywer van die topverkoper Huis van Gruwels, skryf indringend oor die vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord bly, oor lewens vernietig in hul fleur en oor die moontlikheid van berusting en vergifnis.
 
 
 

Jungu Josh 3: Die waters van Wafu

 

Deur Costant van Graan

Uitgewer: Tafelberg

Mei 2021

Prys: R 210,00

 

Oor hierdie boek:

Na die ontstellende gebeure by die viering van sy ma terugkeer, vlug Josh van Liba af weg. Op soek na slaapplek dwaal hy en Charlie die misterieuse Geelwoud binne. Hier vind Josh tydelik geluk wanneer die kinders van die Nuwe Jerusalem hulle in hulle boomdorpie laat bly. En Jandja, die tienerleier van die groep, is ‘n seun soos hy. Maar Josh weet Kalimbula brand. Hy moet iets doen. Dan is daar nog vrae: Het Njeri hom regtig verraai? En wat lê agter tannie Verona se obsessie met die Wafu-water?
 
 

Eerste liefde Omnibus 1

Deur Janie Oosthuysen, Helen Brain

Uitgewer: Human & Rousseau

Prys: R160,00

 

Oor hierdie boek:

Drama, humor . . . en natuurlik liefde en liefdesdriehoeke. Drie van die gewildste Eerste Liefde-stories in een. In Rugbyballe en bikini’s kan niks Anelle se vakansie op Duinebaai bederf nie. Maar hoekom laat Martin haar so anders voel? In Daar’s’n ou in my aarbei-smoothie steek ’n geheime bewonderaar boodskappe in Yolandé se tas weg. In My hart klop muffins laat die ou met die Franse naam Kat se hart jaag. Maar wat is Pierre se donker geheim?
 
 

Ouma Hester en die Dreadnought 

Deur Janie Oosthuysen, Alistair Ackermann
Uitgewer: Human & Rousseau

Prys: R145,00

 

Oor hierdie boek:

Die Dreadnought is reg vir aksie, ouma Hester se harnaspakke is gelaai met plofbare verrassings en haar yskas kreun onder die smulgoed! Maar wat gaan sy in Kanada maak en nogals by PESBEHEER, PILLE & PREPARATE van alle plekke? Sal Mamma vir Tian en Lisa laat saamgaan? En wat vang die bose dokter Lewendkerwen alles in haar onderwaterse laboratorium aan? Gelukkig laat ouma Hester en Graatjie nie met hulle mors nie!
 
 

Bure van nature – Waar mens en natuur skouers skuur

 

Deur: Hennie van Deventer

Uitgewer: Protea Boekhuis

Prys: R250,00

 

Agtergrond:

Hierdie stories is inheems soos kremetartbome, onderhoudend soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur.

Die skrywer en sy vrou het ’n huis in Sabiepark, ’n private natuurreservaat aan die Sabierivier, waar wilde diere name het, soos die luiperd Vin Diesel en die vlakvark Brood. Waar ’n hiëna vir aandete by die stoeptafel opdaag. Hulle het met die jare boekgehou van buitengewone verskynings en gebeurtenisse. Sy stories oor Sabiepark en die Wildtuin blaai die veld oop en gee ons ’n intieme kykie op wilde diere. Dit stem tot nadenke, soos die uitstekende “Skurwe slaapmaats” waar die leser leer hoe om ’n olifant te benader: met groot nederigheid, neergeslane oë en geknakte nek. Daar is interessante inligting, soos dat baldadige jong olifantbulle uit die trop verban word totdat hulle geleer het om hulle te gedra. Dat olifantkalwe 100 tot 120 kg kan weeg.

Die stories word gekenmerk deur fyn waarneming, ’n droë humorsin en buitengewone woordvaardigheid.