Laaste titel in hierdie reeks is niks minder as monumentaal nie

Zirk van den Berg

Een of ander held

Outeur: Zirk van den Berg

Uitgewer: Kwela

Resensent: Francois Bekker

 

 

Een of ander held is die slothoofstuk van Zirk van den Berg se Hoghnamib-trilogie. Wat aan die bod kom is, ’n verdwaalde politieke ideologie, hebsug, liefde en les bes die heroïse.

As polisieman staan Bock op die drumpel om as held bevestig te word met die verhoor in Windhoek van die man wat sy kameraad Hans Stempsky vermoor het. Alles verloop egter nie volgens plan nie.

Terug by die Kaiserliche Landespolizei by Hochnamib gaan die lewe weer sy gang. Is daar sprake van romanse op die horison vir Bock? Kort voor lank konfronteer die verlede hom as beide herr Gerd Dehlinger, die man wie in die eerste plek met ’n verskuilde agenda daarvoor verantwoordelik was dat Bock hom ver weg van sy vaderland af bevind, en Oberleutnant Moritz Berghammer sy mes vir hom slyp.

Wat onder die loep kom, is kolonialisme met sy kollektiewe hubris asook die individu se vermoë om krities na ’n saak te kyk.

Zirk van den Berg bevestig homself met hierdie roman as ’n meesterstorieverteller wat weet hoe om enduit op die leser se aandagspan beslag te lê.

Met puik karakterisering beleef die leser die skrywer se siening oor oorlog en kolonialisering op ’n intens emosionele vlak. Aangrypend egter is die innerlike reise wat by die karakters plaasvind. Lewensinsigte wat metterwyl by die karakters registreer.

Hierdie drieluik het begin met Die vertes in (2018) wat opgevolg is met Tweegevreet (2020). Moet ’n mens eers hierdie twee titels lees alvorens jy Een of ander held opneem? Nie noodwendig nie. Jy sal jouself egter ’n guns bewys om die drieluik op jou boekrak te kry en van voor af die aangrypende wedervaringe van die Duitser Siegfried Bock van begin tot einde te volg. Die slottoneel van die derde en laaste titel in hierdie reeks is niks minder as monumentaal nie.