Suid-Afrika het ’n indrukwekkende spookgeskiedenis wat oor eeue sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap strek

Boekresensie: Ware spookverhale van Suid-Afrika

Skrywer: Daniël Lötter

Uitgewer: Protea Boekhuis

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

“Vir ’n spook is ek nie bang nie. Hy kan my nie vang nie. Hy’t nie eers ’n hand nie. Hy’t nie eers ’n tand nie. Hy kan my niks maak nie, want hy kan nie aan my raak nie. Maar oeeee, ek sal so bewe as hy hier voor my kom swewe!”

Dis die rympie wat ek as kind geleer het. Tot my groot vermaak.

Ek het nog nooit aan spoke geglo nie. In 70 jaar het ek ook nog nooit een gesien nie. Maar met die lees van hierdie boek het ek tot vieruur in die oggend wakker gelê. Daar is immers meer dinge op hemel en op aarde wat ons nie kan verklaar nie.

Ag wat, dink jy dan, in die ou dae het mense mos nie televisie en WhatsApp gehad nie. Hulle moes mekaar maar met stories vermaak. Verkieslik van die soort wat jou laat ril en gril. Vandaar ons volk se voorliefde vir spoke.

Ek moes glimlag toe ek die titel sien. “Ware spookverhale” nogal. Met ander woorde jy lees nie oor hierjy of denkbeeldige spoke nie. Maar regte egte spoke.

Hierdie boek het my spookkennis aansienlik verbreed. Nooit het ek besef dat daar soveel verskillende soorte spoke is nie. Dit wissel van verjaarspoke en saampraatspoke tot krisisspoke en spookdiere. (Runnikende, skoppende, galoppende perde, asook spookkatte en wit wolwe en veral honde is hier die uitblinkers.) Daar is ook sappige inligting oor tydspronge, voorbodes en nakennis en daardie gevreesde paranormale spesie; goël- en geraasspoke – glo die stiefkinders van die spookfamilie. Soos ek kan aflei, is hulle wannabe of have-never-been spoke. Verskonings van spoke wat net ’n helse lawaai opskop, klappe uitdeel, porseleinborde breek, wreed en gemeen is. Rammel en ratel en raas. Boos. Nie die woord “spook” waardig nie.

Party spoke sal wel tot bedaring kom as jy ’n bietjie gatkruip by hulle. Soos die skooljuffrou wat ’n handvol kappertjies op ’n treiterspook se graf gaan sit het.

Suid-Afrika het ’n indrukwekkende spookgeskiedenis wat oor eeue sedert Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap strek. Party spoke is vriendelik en skadeloos. Ander laat jou bloed stol.

Verjaarspoke is dikwels die gevolg van iemand wat ontydig die ewigheid in is en elke jaar getrou sy opwagting maak. Behalwe natuurlik met skrikkeldag wat hom skoon deurmekaar maak omdat hy streng gesproke eintlik elke vierde jaar behoort te spook. Hulle is aldus die skrywer nogal onbeskof en verskyn ongenooid aan vreemdelinge wat hulle boeglam skrik.

Maar diegene wat voorbereid was op die ontmoeting met ’n spook wat na 142 jaar klokslag op Oujaarsdag opgedaag het, het maar eerder vir die nag by ’n hotel gaan inboek om die verskyning van ’n reisige man op ’n perd wat by die huis se trappe opgalop en die slaweklok sonder ’n lewende wese naby laat lui het, ’n mis te gee. Perd en ruiter het vanmelewe by die einste trappe afgetuimel, hul nekke gebreek en is op slag dood.

Party minder intimiderende spoke is musikaal soos die een van Andy Wauchope wat in die Lord Milner Hotel sy verdrietige doedelsakmusiek speel. Sy gees het glo nooit tot rus gekom nie omdat hy na die Slag van Magersfontein in 1899 so ver van sy manskappe af begrawe is.

Daar is ook lagspoke wat allesbehalwe vrolik maar eerder honend en sarkasties lag. Party is weer waarskuspoke (myns insiens omgeespoke) soos die twee “voetgangers” op die Oos-Rand wat motoriste teen ’n gevaarlike spooroorgang gewaarsku het.

Dis beslis nie net plebs wat in spoke glo nie. Van die spookkenners is hoogs geleerd. Soos wyle prof. PJ Nienaber wat vertel het van die afkopspook wat onder genl. De Wet teen die Engelse geveg en gesneuwel het. Dié het hom kleintyd ingelig dat hy nie sal rus voor sy kop wat soek was, saam met sy gebeendere begrawe is nie. Die hulpvaardige prof. het als mooi bymekaar gekry en die spook het woord gehou deur hom met die inhoud van ’n ysterkissie te beloon.

Die hoofstuk oor die tydspronge is besonder interessant. Jy lees dat geestesverskynings van lewendes ook voorkom. Jy kan die gedaante van iemand sien terwyl hy daar naby in vlees en bloed sit. Krisisspoke verskyn wanneer die waarnemer in nood verkeer of weens ’n waarskuwing oor moontlike gevaar. Party mense spook as hulle skaars begrawe is, terwyl ander eeue lank aankarring.

Voorbodes is iets wat dikwels ervaar word. So vertel Lötter dat die windmakerige jaagduiwelrolprentster James Dean in 1955 deur Sir Alec Guinnes gewaarsku is dat as hy in sy silwerkleurige Porsche sou klim, hy die volgende week nie meer sou lewe nie. Dan is daar die somber siele wat met “die helm gebore is” wat doodstydings bring deur ’n wolk bo jou kop te sien en jou te waarsku om jou voor te berei vir die min tyd wat jy op die ondermaanse oor het. Al wat leef en beef koes vir hulle.

Hospitale word heel verstaanbaar ook behoorlik bespook. In Groot Schuur dwaal daar glo ’n dokter met die mooiste blou oë rond wat “nagdiens” doen, maar kort nadat ’n verpleegster hom raaksien, sterf drie van haar pasiënte.

Dis nie net dooie mense wat spook nie. Daar is ook spookwaens en spookskepe soos Die Vlieënde Hollander.

Lötter se beskrywings uit die era van die ovaalraam familieportrette met die bolglas wat van die mure afval, laat jou sidder. Spoke is beslis in die verlede ernstiger opgeneem as wat vandag die geval is. Soms is die dokter, die dominee en die polisie sommer na spooktonele toe ontbied.

Lötter vertel jou ook waar die spookhuise in ons land voorkom vir ingeval jy jou lyf spookspeurder wil hou.

Die skrywer het ’n lekkerlees, informele verteltrant, soms aspris en ondeund en met ’n goeie dosis humor.