In 2018 het die musiekwêreld vir die eerste keer regtig van Appel, wie se regte naam Christoph Kotze is, kennis geneem toe sy debuutalbum, Lei my na die water, vrygestel is.

Die titelsnit was een van ’n trilogie wat hy geskryf het nadat hy deur ’n baie moeilike tyd in sy lewe gegaan het; die ander twee dele daarvan was “Kom lê my neer” en “Vroumens”. Die vierde treffer vanaf hierdie album was “Lemoene”, wat hy saam met Bok van Blerk gesing het. Daarna het twee verdere albums, Boer loop deur my are en Patriot, gevolg en nou is hy terug met sy jongste album, Hardwerkende man, wat reeds baie gewild is.

Die eerste snit op die album is “Dina”; en dis duidelik dat die volksliedjie “Ek soek na my Dina” hom geïnspireer het. Dit is reeds besig om ’n treffer te word en kan dalk net so gewild soos sy vorige treffer “Nonna” wees. Die titelsnit is ’n huldeblyk aan alle mans wat deur harde werk hul brood verdien het. Die eerste treffersnit vanaf die album was “Hier sal jy boer”. Hierin sing hy van die boere wat te midde van moeilike omstandighede vasbyt en getrou aan Suid-Afrika bly. “Boer is ’n bok”, waarop Ricus Nel konsertina en banjo speel, gaan ’n baie groot treffer word. “Oeste af” is, soos die meeste ander snitte, op die boeregemeenskap gemik.

“Boerenooi” vertel die storie van ’n jong boer se meisie; die saksofoon wat in hierdie snit voorkom, is regtig iets besonders. “Hanna” is rustiger as die meeste van die ander snitte op die album. “Monoloog” is ’n pragtige snit wat ’n treffer kan word. In “’n Laaste een” sing hy van die “goeie ou dae”; omtrent enigiemand kan hiermee identifiseer. “Susanna” is nog ’n lekker snit waarvan hy sing van ’n jong man wat na ’n meisie vry. Dis duidelik dat Anneli van Rooyen se treffer “Sewe sakke sout” hom geïnspireer het, terwyl ’n deel van die volksliedjie “Hoe ry die boere” ook hier voorkom. “Lunalief” is die kortste snit op die album, maar dit is ’n mooi snit wat radiolugtyd behoort te kry. “Mampoer” is die laaste snit op die album, hierin sing hy van drank wat ’n man nog nooit teleurgestel het nie, wat meer is as wat hy van mense kon sê.

Appel is een van daardie kunstenaars wat sy teikengehoor al vroeg geïdentifiseer het, en vir hulle gee presies wat hulle wil hê. Soos die meeste van sy vorige albums is dit op die konserwatiewe, plattelandse gehoor gemik, en hulle sal dit weer eens baie geniet. Sommige mense is dalk nie konserwatief genoeg nie, maar selfs hulle sal hier en daar iets op hierdie album kry waarvan hulle sal hou.