Sangoma Sandilands & Jou pa se Posse Maanskyn – Neil Sandilands

Ons almal onthou vir Bart van 7de Laan met sy twee duiwe Breëbors en Bekkie.

Die akteur wat hierdie rol vertolk het, Neil Sandilands, was voor die tyd ook te sien as die jong Dolf Groenewald in die televisiereeks Konings. Hy het in Jakhalsdans, waarin hy saam met onder meer Theuns Jordaan en Elizma Theron te sien was, sy sangtalent vir die eerste keer ten toon gestel.

Sedertdien het Neil oorsee bekendheid verwerf, en sy album, Sangoma Sandilands & Jou pa se Posse Maanskyn vrygestel. Hierdie ongewone titel gee ’n mens reeds ’n idee van wat om te verwag. Die eerste snit, “Woestynroos”, waarop Inge Beckmann saam met hom sing, is ook die eerste enkelsnit, en die musiekvideo is op YouTube te sien. Op die volgende snit, “Frikkie se tema”, kom ’n mens agter dat Jan Blohm ’n groot invloed op hom gehad het, al sê hy dit nie. Die jazz-trompet op hierdie snit is iets baie besonders aangesien ’n mens dit nie gereeld in Afrikaanse musiek teëkom nie. “Maanskyn” is ’n lekker snit, waarop Neil wys dat hy weet hoe om ’n storie te vertel. “Dipper se dittie” bevat ’n paar vloekwoorde wat maak dat dit ongeskik vir radiolugtyd is. Die kitaarspel op hierdie snit is al met dié van die Amerikaanse kitaarspeler Joe Satriani vergelyk.

David Kramer is natuurlik ’n legende in die Afrikaanse musiekbedryf, en hy sing saam met Neil op David se komposisie “Piet soek vrou”. “Liedjie vir Miekie” is nog ’n snit waarop taalgebruik wat nie geskik is vir radiolugtyd nie, voorkom. “O Moeder” is ’n pragtige, effens onkonvensionele snit wat wegbeweeg van die sentimentele aard waarin so ’n snit maklik kan verval. “Goue graal”, ook bekend as “Die ballade van Frik en Dot”, is ’n baie lang snit waarop eksplisiete taalgebruik ongelukkig voorkom. Daar is egter ook ’n radioweergawe wat drie minute korter as die albumweergawe is. Die musiekvideo, waarin ’n 1966 Ford Mustang voorkom, is by die Bainskloofpas verfilm. Die eerste lirieke van “Vuiljas se vloek” is die rympie wat laerskoolkinders leer om die name van die planete te leer ken; die klassieke kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. Die enigste Engelse snit op die album is “Desert Rose”, waarin Tracey Lee Oliver saam met hom sing.

Neil het met hierdie album bewys dat hy die “Bart van 7de Laan”-beeld finaal afgeskud het, al was dit die rol wat hom beroemd gemaak het. Daarby het hy nie van sy Afrikaanse herkoms vergeet nie al woon hy deesdae in die buiteland. Op hierdie album het hy saam met ’n paar van die beste musikante in die bedryf, onder meer Theo Crous asook Schalk Joubert, wat met die aktrise Vicky Davis getroud is, gewerk, en daarom kan daar geen twyfel oor sy musikale integriteit bestaan nie. As die vloekwoorde op ’n paar snitte jou nie pla nie, en jy na iets onkonvensioneel op soek is, sal jy hierdie album geniet, maar as jy maklik aanstoot neem, moet jy dalk na iets anders gaan luister.