Dis wat saak maak – Marius Lubbe

Die eerste dekade van die nuwe millennium was ’n bloeitydperk vir Afrikaanse popmusiek, met kunstenaars soos Fredi Nest, Kurt Darren en Nicholis Louw wie se musiek die dansvloere net so maklik volgemaak het as dié van oorsese kunstenaars.

Die musiektoneel het egter intussen heelwat verander, en daar is deesdae min jong kunstenaars wie se musiek op diegene in hul twintiger- of dertigerjare gemik is. Marius Lubbe het egter in 2020, in die moeilikste moontlike tyd en te midde van Covid-19, tot die mark toegetree met sy debuutalbum, Dis wat saak maak.

Die album is met die hulp van Hugo Ludik en Vaughan Gardiner, wat ook die meeste snitte geskryf het, vervaardig, en die eerste snit, “Dit blaas my brein”, gee ’n mens reeds ’n aanduiding van wat om te verwag. Veral die volgende snit, “Ek gaan nie byt nie”, sal by jonger luisteraars byval vind. Hoewel Marius nie die titelsnit, wat ook sy debuut-enkelsnit was, geskryf het nie, stem die lirieke ooreen met sy lewensuitkyk. In hierdie komposisie van Vaughan Gardiner sing Marius van die moderne mens se beheptheid met sy of haar eie welvaart wat maak dat daar geen tyd meer vir naasteliefde of deernis is nie. “Lewenslank” is nog ’n moontlike treffer, waarin hy sing van ’n liefde wat die potensiaal het om lewenslank te hou. In “Ek spoeg my woorde uit” sing hy van ’n verhouding wat skeefgeloop het. Die woorde van “So lank soos dit vat”, het ’n dieper betekenis; want dit gaan oor geloof in jouself en die najaag van jou drome. “Matriekvakansie” is ’n snit waarmee baie jongmense hulle kan identifiseer, aangesien dit amper ’n tradisie geword het om na die matriekeindeksamen saam met ’n groep vriende weg te breek.

“Dans my onder die tafel in” gaan ’n treffer word en gaan die dansvloere gou vol kry. Die tweede enkelsnit van die album is “Mure”. Dit laat ’n mens verlang na die tyd toe mense lekker kon kuier sonder vrees vir ’n wêreldwye pandemie of politieke onrus. Die musiekvideo is ’n fees vir die oog. Die boodskap van “Meer as woorde” is dat woorde nie genoeg is om liefde te bewys nie, terwyl “Sê” eintlik die teenoorgestelde boodskap oordra, naamlik dat ’n mens moet sê hoe jy voel, veral as jy wil hê iemand moet weet dat jy hom of haar liefhet. Die laaste snit op die album is “Soldaat”, maar die klem het op die verkeerde lettergreep in die titel geval. Dit word egter later reggestel.

Marius het in ’n televisieonderhoud gesê dat die groep Adam sy groot gunsteling is, en dis duidelik dat hulle ’n groot invloed op hom as kunstenaar het. Hugo Ludik, wat betrokke was by die vervaardiging en sommige van die liedjies help skryf het, is immers deel van dié groep. Met hierdie album bewys Marius dat hy beslis die potensiaal het om dit nog ver in die musiekbedryf te bring, en sommer gou met die groot name sal kan saamgesels.