Dis moeilik om te glo dat Janie Bay al tien jaar lank deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is.

Hoewel haar loopbaan reeds in 2011 begin het, het dit regtig momentum gekry nadat sy in 2014 van Kaapstad na Pretoria verhuis het.

Haar eerste groot treffer was “Veilig”, waarop sy saam met Jack Parow gewerk het; dit het mense wat gewoonlik nie na sy musiek luister nie, aan hom blootgestel en haar sangloopbaan ’n hupstoot gegee.

In 2019 het sy die treffers “Amper daar” en “Die heelal”, saam met die kletsrymer Early B vrygestel, terwyl haar volgende treffer, “Jammer”, in 2020 kort voor die staat van inperking opgeneem en vrygestel is. Intussen het sy ook saam met Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties, asook saam met Jan Bloukaas gewerk.

Haar jongste album, Prisma, is pas uitgereik en bevat ses snitte wat sy tussen 2019 en 2021 geskryf het, asook een nuwe opname van ’n bekende snit. Sy het in ’n onlangse radio-onderhoud gesê sy glo dat samewerking met medekunstenaars die pad vorentoe is, aangesien kunstenaars baie by mekaar kan leer. Die huidige enkelsnit, “My lief”, is ’n voorbeeld daarvan; Majozi sing saam met haar terwyl Early B weer sy verskyning maak. Dit is reeds besig om ’n groot treffer te word. Die tweede snit, “Babylon”, is nog een wat sy self geskryf het en ’n treffer kan word. Dit beskik oor ’n minimalistiese klank saam met ’n dansritme, en hierop bewys sy dat sy ook falsetto kan sing.

Op “Kalmeer” sing sy van die gejaagde hedendaagse lewe en die onvoorspelbaarheid van die lewe. Daar is net een snit op die album wat nie oorspronklik is nie; “Tevrede” is ’n heelwat rustiger weergawe van ’n liedjie wat Francois van Coke se Polisiekar-groep geskryf en oorspronklik opgeneem het. Die volgende snit is nog een waarop sy met iemand anders saamwerk. Danie Reënwolf sing saam met haar op “Ek glo nog in jou”, en hierdie snit het die eerste plek op Jacaranda FM se algehele Top 20, waarop plaaslike en internasionale liedjies voorkom, gehaal; ’n uitsonderlike prestasie vir ’n plaaslike liedjie. Die volgende snit, “Lewens”, is nog ’n moontlike treffersnit. Die snit waarmee die album afsluit, is “Sweef”; die kortste snit op die album, wat effens aan Taylor Swift herinner.

Die feit dat hierdie album net sewe snitte bevat, laat ’n mens met gemengde gevoelens. Aan die een kant sal daar altyd diegene wees wat glo dat selfs tien snitte op een album te min is, en dat so ’n kort album nie die moeite werd is nie. Daar is egter ook die ander kant van die saak. Noudat musiek slegs op digitale platforms beskikbaar is, is mense meer kieskeurig oor die snitte wat hulle van daardie platforms aflaai, en hulle het nie meer geduld met “weggooisnitte” nie omdat hulle afsonderlik vir elke snit betaal. Dis beter om sewe goeie snitte te hê as ’n spul snitte wat net daar is om die album vol te maak en buitendien nooit radiolugtyd sal kry nie.
As ’n mens dit alles in ag neem, is dit dalk goed dat Janie Bay net sewe snitte vir hierdie album opgeneem het; almal het die potensiaal om gewild te word, en daarom is die album in sy geheel die moeite werd. Die twee enkelsnitte tot dusver gaan beslis nie die enigste treffers vanaf die album wees nie.