In die 1990’s was die Melktert-kommissie een van die mees progressiewe groepe op die Afrikaanse musiektoneel, en hoewel hulle lank laas nuwe musiek vrygestel het, het hulle nooit regtig ontbind nie en tree hulle nou en dan saam op.

Lucinda Neethling, wat deel van die groep is, het egter nou haar eerste solo-album, Uitgeskryf, vrygestel. Dit bevat tien snitte (onder meer een snit waarvan twee weergawes op die album voorkom) wat hoofsaaklik tussen 2019 en 2020 geskryf is. Wesley van der Westhuizen het feitlik al die instrumente op die album bespeel, en hy was ook medeverantwoordelik vir die regie. Die album is deur Peach van Pletzen, die seun van die akteur Pierre van Pletzen, vervaardig. Die titel kom van die feit dat sy graag sketse met ’n balpuntpen maak, en sy het al ’n uitstalling van haar werk met dieselfde titel as die album aangebied.

“Ego” is die eerste snit op die album, en is soos elke ander snit, haar eie komposisie. “Meer as die reën” is, soos sy self sê, ’n liedjie met ’n hartseer tema maar op ’n vrolike wysie. Hierin sing sy van die verlange na ’n geliefde wat oorlede is. In “Sinne” sing sy van die misverstand wat soms tussen mense kan voorkom. “Weerloos” was die eerste enkelsnit vanaf die album en dis die een snit waarvan twee weergawes opgeneem is. Sy sing dat sy weerloos maar nie hopeloos of liefdeloos is nie, en die boodskap van die liedjie is dat mense eerlik met mekaar moet wees. “Rede vir vrede” is ’n baie mooi snit waarop sy aanvanklik praat maar later ook sing.

Die hoofsanger van Klopjag, John-Henry Opperman, is ’n jarelange vriend van haar, en hy sing saam met haar op “Ons is ons”. “Engele kom” is die kortste snit op die album; dit is ’n kuns om heeltemal a capella te sing maar sy kry dit baie goed reg en dis regtig ’n uitstekende snit. “Kwaadpraat” is een van Lucinda se gunstelinge op die album; sy sing oor die feit dat ’n mens liewer moet stilbly as jy kwaad is. Die aktrise Mila Guy sing saam met Lucinda op “Jou grap”. Mila het self ’n baie goeie stem, en miskien kan sy dit oorweeg om self meer gereeld te sing. Die laaste snit op die album is ’n baie goeie akoestiese opname van “Weerloos”.

Die Melktert-kommissie was destyds een van die heel beste groepe op die Afrikaanse musiektoneel, en daarom is dit geen verrassing dat Lucinda met ’n uitstekende album vorendag gekom het nie. Elke snit is die luister werd, en haar lirieke het meer om die lyf as die meeste Afrikaanse liedjies wat gereeld oor die radio gehoor word. Hierdie album is dalk een van vanjaar se bestes en word baie sterk aanbeveel. Dis net jammer dat dit net ’n halfuur lank is.