Voorouer. Pelgrim. Berg
Outeur: Ingrid Winterbach
Uitgewer: Human & Rousseau)
Resensent: Francois Bekker
Met Ingrid Winterbach moet die leser hom oopstel en bereid wees om stip te lees. Winterbach voer nie met ’n lepeltjie nie. Haar romans vra net soveel van die leser as wat sy gee. Die beloning is verrykend en verruimend. As jy Voorouer. Pelgrim. Berg klaar gelees het, is die boek nie klaar met jou nie.
Katerina Steenkamp bly saam met haar tweede man in die Kaap met ’n uitsig op ’n berg. As taalwetenskaplike was haar studieveld die morfologie gewees. Sy skryf deesdae prulromans. Sy het juis ’n buitengewone vermoë om haar ervarings, vermoedens en omgewing sekuur onder woorde te bring. Op die oomblik waag sy haar hand aan ’n wraakroman. Sy staar dikwels na die berg en drink tee saam met haar eggenoot met wie sy oor kuns en die lettere praat. Aweregse afleiding van die daaglikse sleur vind sy deur geselsies aan te knoop op ’n aanlyn afspraakwebwerf. Andersins is sy diep bekommerd oor die naderende Dag Zero, die dag wanneer daar nie water in die krane sal wees nie. Behalwe soms vals beloftes van reën bly dit droog. Is dit die apokaliptiese gevoel wat haar noop om bestekopname van haar lewe te maak? Sy dink oor haar huwelik wat misluk het, ’n verhouding na haar egskeiding wat op die rotse geloop het, haar lewe in die algemeen en haar kindertyd. Die hier en nou asook die verre verlede en die bydrae wat haar moeder, ouma en tantes tot haar menswees gemaak het.
Die ongewone titel – drie onderbroke woorde – bied reeds ’n leidraad dat die storie op ’n ongewone manier vertel word. Struktureel word die verhaal aangebied op ’n manier wat die leser van meet af laat wonder waarop dit afstuur. Amper soos losstaande vinjette en fragmente, ook essay-agtig word die oënskynlike afwesigheid van samehang opsigself raaiselagtig.
Voeg hierby ’n uitgebreide en uiteenlopende dramatis personae wat die verhaal uitspattig inkleur. Daar is Katerina se eksman en sy Marxistiese vriende. Haar man se vriend, ’n joernalis, wat worstel met die onreg in die land en haar lover word. Smouse wat by haar huis aandoen. ’n Flaneur (rondloper) wie gereeld in die straat opgemerk word. Die vrou wat aanklop vir aalmoese. Haar eksentrieke broer. Om dan nie eens te praat van die mense wat sy op die aanlyn afspraakwebwerf ontmoet nie. Mans wat hulle dae verwyl met of die vooruitsig van buiteruimtelike opraping, seksspeelgoed en die ou wat sy neef van Dostojefski wil red. Daar is ook haar betroubare tweede man met wie sy oor die kunste filosofeer.
Voorouer. Pelgrim. Berg word verder aangevul met interteks. Katerina lees wyd. Veral Anne Carson se Plainwater speel in op Katerina se kyk na haar lewe en lewenspad. Die pelgrimmotief kom hier sterk aan die bod. Die lewe as pelgrimstog. Die rol van kuns, veral met die oogmerk om te konfronteer, is ’n belangrike leitmotif. En natuurlik die metgeselle op ons lewenspad.
Om nie die berg, opsigself ’n sentrale karakter in die verhaal, waarna Katerina gereeld staar, na te laat nie. Teen hierdie berg soek sy dikwels tekens van water. Tekens van hoop dus. Die berg begogel haar met sy aanskyn wat daagliks verander na gelang van die weer, en die tyd van die dag. Sy beleef die berg op ’n spirituele vlak.
Uiteindelik is dit ’n verhaal wat iets sê oor Katerina se leefwêreld en ’n dreigende apokalips, asook ’n distopie met politieke en sosiale waansin waarteen sy haar moet verweer. As toegif, skreeusnaakse en donker humor wat die andersins ernstige teks deurgaans vergesel. Oor politici uit die vorige bedeling hierdie opmerking as voorbeeld: “Die ou vrouens ewe dun van lip en swaar van kaak as die ou mans. Geborsrokte kweens, die lot van hulle” (bl. 59).
Voorouer. Pelgrim. Berg is ’n fenominale roman. Wat my betref, ’n oeuvre hoogtepunt vir Winterbach. Onthutsend subliem. ’n Voortreflike letterkundige prestasie.