Smith skryf gemaklik, boeiend en toeganklik

 

Die Getuienis

Skrywer: Francois Smith

Uitgewer: Tafelberg

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Die treffende voorblad van Die Getuienis trek jou dadelik in. Daar is iets geheimsinnig of sinister aan die gang. Wat kan dit wees? wonder jy. Twee donker figure staan voor ’n motor in ’n verlate landskap. En dan lees die subtitel: “’n Mens bevraagteken nooit sy wil nie, nooit nie.” “Sy” met ’n kleinletter “s” geskryf. Hoekom?

Dalk, dink mens, beeld die illustrasie ’n motorkaping uit? Of miskien het hul petrol net opgeraak. Of het dit iets met die wegraping te doen?

Die agterplat van die boek lui dat Die Getuienis ’n egpaar se verslag van ’n reis is. Dit is die verslag van drome en visioene, van wonderwerke en vloeke, van bloedverwantskappe en sluimerende woede. Die Getuienis kom aanvanklik as ’n Christelike boek voor en mens vra jou af hoekom dit nie onder die druknaam Lux Verbi of Cum gepubliseer is nie. Totdat jy dit begin lees …

Die Getuienis gaan oor ’n egpaar in die bevrydingsbediening. Hulle is fundamentele Christene. Die soort mense wat nie ’n gesprek kan voer sonder om na die Here te verwys nie. Hulle neem die Bybel letterlik op en al hul besluite word op die Woord gegrond.

Wanneer hulle genooi word om aan ’n seminaar deel te neem, twyfel hulle nie vir ’n oomblik nie en pak hulle die lang reis van Naboomspruit na Ventersdorp toe aan in ’n geleende Ford Figo.

Hulle glo dat dit ’n opdrag van bo is om totaal platsak, maar met hope geloof te reis. Oral word mildelik voorsien. Selfs ’n arm pensioenaris dra by. Hoewel die Bybel lui dat dit saliger is om te gee as om te ontvang, ontvang hierdie egpaar met groot geesdrif en skryf dit aan die Voorsienigheid toe. Dis mos die Vader se geld.

Mens wil nou nie sinies wees nie, maar hulle is besonder uitgesproke oor hul geldelike penarie wat hulle wyd en syd verkondig wanneer hulle tydens hul reis by verskeie goedhartige mense oornag. Is dit nie dalk die rede waarom hul petroltenk altyd vol is nie?

Maar dalk is die paartjie toe nie heeltemal so vroom nie. Daar ’n slang in die gras van hul aardse paradys en elkeen moet maar hul eie duiwels besweer as hul nader aan die “wortel van alle kwaad” kom. Gerbrand beleef ’n onthutsende innerlike stryd en Retha se verlede is ook nie juis onbevlek nie.

Dis interessant hoe Smith aan sowel Retha as Gerbrand om die beurt in die eerste persoon ’n stem gee – stemme wat dieselfde klink maar tog ook verskil.

In ’n onderhoud met Naomi Meyer op Litnet na aanleiding van die feit dat Die Getuienis die kortlys van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021 gehaal het, vertel Smith dat hy reeds in 2013 met Gerbrand en Retha kennis gemaak het toe hy van hulle reis gehoor het.

Hul beweegredes was vir hom onverstaanbaar, maar die verhaal het in hom vasgesteek en hy het geweet dat hy eendag iets daarmee wou doen. Hy het ook aan Naomi vertel dat hy aanlyn na tientalle preke oor die bevrydingsbediening vir sy navorsing geluister het.

Retha herinner nogal aan Gretha Wiid as sy gereeld woorde soos “awesome”, “amazing”, “crazy”, “foundation” en “gebless” gebruik. Sy skryf gemoedelik oor haar maer ou man, “haar ou Valkie, haar ou Bokka” met foute en al. Sy maak vrede met haar armoede en glo Vader vat alles weg in jou lewe wat belangriker as Hy is, want Hy wil nommer een in jou lewe wees. Hy wil hê dat jy na ander uitreik.

Hy moes hulle “platslaan” sodat hulle “in sy lig kon opstaan”. In die proses het hulle ook nie die balju vrygespring nie.

Gerbrand wie se klere oud, goedkoop en uit die mode is, is fanaties gekant teen die elektroniese “games” wat Retha in ’n stadium gespeel het want dis “aliens” en “aliens” kom van gemengde saad – “die gebroedsel tussen mens en demoon”. Hy glo in demone wat van die een geslag na die ander trek as die Bloed van Jesus hulle nie keer nie.

Die duiwel vertolk ’n lewendige rol in hierdie boek. Daar is sommer ’n duiwel agter elke bos. Hy skuil in “video games” en op Facebook en kom op ’n listige manier in jou lewe.

Gerbrand glo dat as jy medikasie gebruik, moet jy ook nie vir Satan onderskat nie. Dis sy mening dat skisofrenie byvoorbeeld een van die ergste vorms van besetenheid is wat jy kry. Dis Satan op sy “kragtigste”.

Boosheid skuil oral. Hy beskou selfs sy vrou se funky nuwe haarstyl, wat baie komplimente uitlok, as iets wat in ’n “Jezebelgees” tuis hoort.

Smith skryf gemaklik, boeiend en toeganklik. Die boek lees maklik en vinnig.

Hy maak van kreatiewe beskrywings gebruik soos byvoorbeeld met verwysing na ’n visvangepisode: “Dis asof jy die rivier saam met hom uittrek.” En dan staan Gerbrand saam met Jak “soos die nommer tien”. Gerbrand is die lang een en Jak die kort ronde nul.

Arme Gerbrand kom van Pretoria-Wes af en die beter as dit gewoond-Retha, van die welvarender Ooste. Haar pa wys hom voor die paartjie se troue waarop hy (die omgekrapte pa) amper nie was nie, Retha se matrieksertifikaat met drie onderskeidings aan Gerbrand soos “’n spietkop vir jou ’n verkeersboete wys.”

Die stemme van die vertellers is heeltemal oortuigend. Ek ken sulke fundamentele Christene goed. (Ek het van hulle in my familie en vriendekring.) Hulle dink presies soos Smith se karakters en tree ook presies so op. Op ’n manier is dit seker makliker om so te leef want die Here moet verantwoordelikheid vir al jou besluite neem.

Die skrywer se navorsing is duidelik want hy klim letterlik in die karakters se koppe. Maar sonder om hulle te veroordeel.