Sedert sy oorwinning in Idols in 2010 het Elvis Blue homself as een van ons land se beste sangers en liedjieskrywers gevestig, en ewe veel sukses met sy Afrikaanse en Engelse komposisies behaal.
Sy jongste album, Meer as genoeg, bevat agt snitte wat hy almal self geskryf het. In die titelsnit neem hy baie sterk standpunt in teen materialisme, en sy boodskap is dat vriende, familie en geliefdes baie belangriker as aardse besittings is. In “Goud in die vuur” sing hy van hoe goud gelouter word om die egtheid daarvan te toets; net só, sing hy, leer mense hul beste lesse wanneer hulle deur beproewinge moet gaan. In “Ek weier” sing hy van mense wat net die heeltyd negatief is en niks goeds meer wil glo nie. Dit, sing hy, sal hy nie doen nie omdat hy eerder positief wil bly.
In “Dis wie ek wil wees” sing hy van die tipe mens wat hy graag wil wees; iemand wat mense wat verlore is, op die regte pad wil help. Swakopmund het al baie gereeld ter sprake gekom in Afrikaanse liedjies, veral die laaste tyd, en volgens die lirieke is dit die plek waar hy rus kan vind te midde van ’n gejaagde wêreld. “Sluit my op” is een van die hoogtepunte op die album; nie net as gevolg van die rock-klank nie, maar ook die lirieke; waarin hy sing dat dit nie saak maak of hy soos ’n dier in ’n hok opgesluit word nie, solank dit saam met die regte persoon is. “’n Boer se lont” is seker die snit wat die meeste reaksie sal uitlok, want dit wat hy hierin sing, is die waarheid, en dwing ons volk tot introspeksie. Hierin sing hy dat ons geneig is om stil te bly wanneer ons moet praat, omdat mense kwaad word as jy ’n standpunt stel waarmee sommige mense, veral die meerderheid, nie saamstem nie. As daar een snit is wat gereelde radiolugtyd verdien, is dit hierdie een. Die laaste snit, “Hart van ’n vrou”, gaan oor die verskil wat ’n vrou in ’n mens se lewe maak.
Ongelukkig maak die feit dat alle musiek deesdae net op digitale platforms uitgereik word, dat daar geen sin meer is om volledige albums vry te stel nie en dat net ’n paar snitte op ’n album voorkom. Dit is beslis hier die geval; die album is nie eens ’n halfuur lank nie en net voordat jy lekker luister, is alles verby. Met hierdie agt snitte het Elvis Blue egter gewys hoekom hy met soveel agting onder musiekliefhebbers en medekunstenaars bejeën word; daar is nie een swak snit op hierdie album nie, en ’n mens kan eerlik sê dat hy nog nooit in sy musiekloopbaan ’n teleurstellende album vrygestel het nie. Hoe ook al, hier is een album wat ’n mens maar in sy geheel van digitale platforms kan aflaai; dit kan eenvoudig nie sterk genoeg aanbeveel word nie. Dit is beslis een van die beste albums van 2021!