Titel: Donkerbloed
Skrywer: Elrien Scheepers
Uitgewer: Human en Rousseau (Jeugfiksie)
Resensent: Carla van der Spuy
Verbeel jou net; lugtaxi’s, gedagteboodskappe en XtraTrans-mense met kuberkopstukke en elektro-prosteses wat hulself tegnologies verander en as transhumaniste leef. Voeg daarby tieners met hul flitsende AquaLumen-tatoes, geneties gemanipuleerde ontwerpersbabas vir die ryk elite en DNS-vingerkodes om jou voordeur mee oop te sluit.
Donkerbloed neem jou met ’n tydsprong na die toekoms toe wat sowel fassinerend as skrikwekkend is. Welkom in die vreemde wêreld van die jaar 2045.
Hierdie verhaal speel in die stad Etswagoli af wanneer die hoofkarakter wat nog ’n tiener is, die raaisel rondom haar ma, ’n briljante wetenskaplike en suster se verdagte dood na ’n lugtaxi-ongeluk vreesloos ondersoek. Sy beland in ’n web van donker geheime met bose karakters soos die CEO van Biotron Baba, die grootste babaplaas in Suid-Afrika met naelbyt aksietonele wat verhoed dat jy die boek toeklap. Haar pad kruis ook met Yala, ’n onwettige immigrant en hokvegter wat sy onder haar vlerk neem.
In Donkerbloed lees mens van dinge waarvan ek soveel as ’n kat van saffraan weet, naamlik hommelhittesensors, neuronet-breininplantings en antibiotikum wat al jare lank oneffektief is. Gelukkig het Sybella, die heldin in die boek net een dag in die bed nodig terwyl mediese nanobots haar witbloedselle versterk om die verkouevirus te beveg en haar koors te breek.
Ja-nee, ons nageslagte gaan beslis nie tydmors met siek wees nie.
Nog meer verstommend is die feit dat sy boodskappe vir haar direkte gedagtelyn op haar polspaneel kry en ’n meisie met horings ontmoet. Genetiese manipulasie kan inderdaad ook skeefloop.
Dis ’n wêreld van Androïd-nagwagte en blomme wat met ’n afleweringshommel afgelaai word. Sy kan sowaar met haar oorlede ma wie se aanlyn navorsing, foto’s en Facebook-data in ’n virtuele avatar omskep is op die VirEwigEk-webwerf praat as sy wil, maar sy sien nie daarvoor kans nie.
Scheepers skryf oor ’n Avatarklub in Sandon, monitorskyfies agter die oor, oor bloeddorstige insekhommels wat mense opspoor en hoe die hoofkarakter wakker word in ’n bedkapsule in ’n klein wit hospitaalkamer. Unisa bestaan helaas nie meer as ’n universiteit nie. Die gebou is in beknopte regeringswoonstelle vir arm stadsbewoners omskep.
En wie sou kon dink dat ’n ou in geslagte se onsterflike staatmaker jeans, ’n T-hemp en wit tekkies as “outyds” bestempel sou word? Ons is toe nie so cool en modern as wat ons gedink het nie. Kensington het nie ’n sterk 5 G-sein nie en is nog op die 4G-sein. Dit laat mens nogal agter die klip voel.
Die skrywer het ’n lekkerlees verteltrant en haar humorsin skemer sterk deur.
Mens verlustig jou in beskrywings soos: “Sy stem saag deur die naglug” en “dit lyk asof ’n paar laatmiddagstorms gelyktydig oor sy gesig opsteek.”
Hartbreekliefde is net so deel van die toekoms as wat vandag die geval is.
Sy vaar hartlik uit teen haar kêrel Seth, “wat geroeste spykers met ’n vierpondhamer in haar hart geslaan het.” Sy wonder hoekom hy nie oorspronkliker kon wees as om haar met haar beste vriendin te verneuk nie.
Scheepers is ook besonder kreatief met toekomstige nuutskeppings wanneer sy skryf: “Ek besluit om met die hele sak laserskywe vorendag te kom” in plaas van die hedendaagse sak patats.
Sy gebruik oorspronklike beskrywings soos: “Woede tol in my maag soos ’n brullende veldlikkewaan wat al drie dae in ’n draadhok toegesluit is” en beskryf die feeks in die verhaal soos volg: “Sy is so koud soos drie Vodkas met ys in die middel van ’n Vrystaatse nag.”
Scheepers het absolute vrye teuels aan haar verbeelding gegee – net soos wat dit ’n wetenskapfiksieskrywer betaam.
Hoewel dit normaalweg nie my gewone keuse van leesstof is nie, het ek die boek boeiend gevind. Ek dink tieners sal gek wees daaroor. Dit bevat net die regte kombinasie van vergesogte teorieë, aksie, spanning, boewe en die krag van opregte vriendskap.
Soms dink jy “Sak Sarel”. Hierdie is darem te vergesog. Is dit hoe die toekoms gaan lyk?
Maar dit bly immers fiksie. Fiksie sonder grense.