Inderdaad ’n suksesverhaal vol hart en humor

Goed, beter, Betsie

Skrywer: Elize Labuschagne-Hull

Uitgewer: Protea Boekhuis

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Gewone mense se stories was nog altyd vir my baie interessanter as dié van die sogenaamde “celebs”. En as jy ’n outobiografie skryf, moet jy dodelik eerlik wees – oor jou tekortkominge sowel as jou sondes. Pak eerder vreesloos jou geraamtes uit die kas as om jou eie begrafnisrede, gepas vir die Engel Gabriel, te skryf.

Labuschagne-Hull het geen illusies oor presies waarvandaan sy kom nie. ’n Arm gesin met ’n formidabele ma wat liggaam en gees aanmekaar hou terwyl haar pa sy brood op nederige wyse op die Spoorweë verdien en die drankduiwel aanbid. Hoewel sy “aan die verkeerde kant van die spoorlyn” en as plotkind by Derdepoort (daar word maar soms deur vlak snobiste op “maplotters” neergesien) grootword, is Labuschagne-Hull se kop nie vol saagsels nie.

Haar “boekminderwaardige” stasie inspekteur pa reken geleerdheid is ’n vermorsing van tyd. Kinders moet so gou as moontlik hul eie potjie krap. Hy glo dat boeke die lewe opmors. Sy stasietuine is onberispelik maar hy is ’n Dr Jekyll en Mr Hyde.

Hy tugtig die seuns in die gesin genadeloos met sambokke – iets wat vandag onwettig is. Dis ’n era waar kinders gesien en nie gehoor mag word nie. Haar “wipstert-menings” laat hom nie straal van geluk nie maar hy slaan nie aan die meisiekinders nie.

Soms is die dak oor hul kop armoedig, armsalig en verwaarloos. ’n Pondok met ’n long drop buite die huis. Voortdurend aan die trek van een klein stasie na die ander. Nie juis bevorderlik vir ’n blink toekoms met ’n gesin van agt wat gevoer moet word nie. Tog voel sy as kind ryk solank daar brood, botter, jêm en speel is.

Betsie swem stroomop tot sy onder moeilike omstandighede die een graad na die ander behaal en uiteindelik 12 jaar lank swot. Ek kan my niks sieldodender indink nie, maar dalk wou sy oorkompenseer vir ander familielede se ongeleerdheid met ’n “Ek sal jou wys houding” en doktorsgraad.

Die titel en slim omslag trek jou dadelik in en verklap ondanks struikelblokke ’n gesonde selfbeeld. Sy is ook nie skaam om herhaaldelik haar intellek (knipoog emoji) en bekkigheid te beskryf nie. Mens sou ook niks minder as laasgenoemde van ’n vurige rooikop verwag nie. Dalk is Afrikaanse vroue nou maar eenmaal net te beskeie.

Sentraal in die boek staan haar formidabele ma wat vir geen man terugstaan nie en haar woord laat geld. Sy is ’n yster. As haar man se “wit perd” te veel en te vinnig galop, trek sy sak en pak met haar kroos Thabazimbi toe waar hulle by familielede woon in ’n huis wat lag, tot hy homself weer gedra.

Welgedaan. Dis hoe ’n man met ’n lang oog en ’n broek vol planne wat boonop dors is, behandel moet word. Hulle sou self die mas opkom. En hulle het. Al was dit in ’n era van meer as ’n halfeeu terug toe mans nog hoofsaaklik die broodwinners was.

Haar ma het “’n mond wat wyd lag. Niemand hang ’n sjymbordjie om haar nek nie.” Sy het ook ’n eksentrieke streep weg en as dit volmaan is, praat sy met mense aan die ander kant. Sy het glo ’n verstandhouding met hulle.

Daar word met geesdrif met die tantes in die familie “Glasie” gespeel en van hulle (Betsie ook) is met “die helm gebore.” So weet Betsie net dat sy haar broer wat sy twee jaar lank nie gesien het nie, moet besoek. Sy reis ver en hy sterf die volgende dag.

Soms verstaan ek nie hoe mens Glasie met haar geloof (sy voel tuis in ’n charismatiese kerk) vereenselwig nie. Maar sy sweer darem later Glasie af.

Humor is dikwels ’n skans teen swaarkry en pyn. Mens lag soms hardop vir beskrywings soos: “Hoe kan mens met een pantoffel die ewigheid ingaan?” Dit nadat ambulansmanne haar op ’n dra-bed vasgebelt het. Sy was ook verlig dat sy darem haar hare voor die oorsese reis gekleur het “want met die grys uitgegroeide haarlyn, lyk mens darem naar op die aluminiumdoodstafel. En sê nou hulle wil die kis oopmaak vir besigtiging en almal sien my oranje hare is eintlik donkiegrys?”

Daarmee stem ek heelhartig saam. Mens wil darem glansryk by die hemelpoorte ingaan.

Dis interessant dat sy haar twee getroude vanne as skrywer gebruik en nie haar nooiensvan, Redelinghuys nie. Dalk is dit aan haar kinderjare te wyte.

Sy werk graag in spanne en met vroue. Dit lyk nie asof sy haar aan die modeverskynsel onder skrywers steur wat wyd en syd verkondig dat hulle “eintlik introverte” is nie.

Daar is soveel onderwerpe in die boek waarmee mens kan identifiseer; sibbe-mededinging, die ou Volksie waarmee baie van ons rondgery het, die roomyskarretjie wat verby jou huis ry, sigaretswiets, tweedejaars op Universiteit se meerderwaardigheid, die smagting na ’n baba en ouma-wees wat sy “as ’n heel ander stuk van jouself” beskryf.

Ek het self al stories oor die briljante ortopeed dr. Buks Maré geskryf wat haar dogter geopereer het en haar beskrywing van Koos Doep (ons was koerantkollegas in die sewentigerjare) was in die kol. Presies soos wat sy hom beskryf met “bossiekopkuif” informeel op die verhoog aangetrek “met Grasshopper-skoene wat soos vellies lyk” en sy gestroopte optrede is hoe ek hom onthou. Onpretensieus.

Labuschagne-Hull is soms net geneig om te veel beskrywings te gebruik. Teen die tyd dat sy skryf dat sy, haar ma en haar dogter sterk vroue is, weet die leser dit al. Dit kom op die ou beginsel van “wys eerder as vertel” voor.

Sy speel soms lekker met woorde soos “hartgrondelik gatvol” en die betaling wat sy as student gekry het toe sy haar lyf dranksmous gehou het wat “obseen baie” was. Dit was egter van korte duur weens die herinneringe aan haar pa se “wit perd”.

Goed, beter, Betsie is ’n voelgoedstorie oor trots, wilskrag en bloedsweet met ’n gelukkige einde. Sy skryf dit sonder verwyt en bitterheid want sy is nie ’n smartvraat nie.

Dis ’n verhaal wat vertel dat dit nie saak maak waarvandaan ons kom nie, maar waarheen ons op pad is. Hoop, optimisme en deursettingsvermoë is in haar gene. Nes haar ma is sy ’n doen-en-kry-klaar vrou. Soos op die agterplat vermeld, is dit inderdaad ’n suksesverhaal vol hart en humor.