Afrikaner sondebok? – Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier
Skrywer: Albert Blake
Uitgewer: Jonathan Ball
Resensent: Francois Bekker
’n Historiese hiaat. Wat merkwaardig is, is hoe die Ossewabrandwag-leier, Hans van Rensburg, deur geskiedskrywers oor dekades heen ontken en misken is. Was dit politieke korrektheid wat hierdie miskenning ten gevolg gehad het? Albert Blake stel die fout op deurtastende wyse reg met die biografie Afrikaner sondebok? – Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier.
Aan die einde van die boek – die epiloog – besin Albert Blake oor die rol van ’n historikus. “Die taak van ’n historikus is dieselfde as die van ’n regter in sy soeke na die waarheid, maar daar hou die ooreenkoms op. Dit is nie die taak van die historikus om individue of groepe skuldig of onskuldig te bevind nie …” (bl. 289) en ook: “Een van die belangrikste beginsels van die geskiedskrywing is dat elke handeling beoordeel moet word volgens die waardesisteem van die era waarin dit plaasgevind het” (bl. 289). Inderdaad ’n nugter benadering tot ’n boek wat ’n fassinerende lewenskets is enersyds en ’n aangrypende historiese geskrif andersins.
Die Ossewabrandwag (OB) is aan die begin van 1939 in Bloemfontein gestig. Op 10 Desember 1940 word Hans van Rensburg as leier van hierdie organisasie verkies. Met van Rensburg as leier beleef die OB ’n ratverwisseling. Die ondersteuning vir ’n kulturele organisasie wat gou blyk meer as bloot ’n kulturele agenda te promoveer se groei en gevolglike invloed is ongekend.
Waarom vind die OB byval by die Afrikaner? Watter rol het Van Rensburg se magnetiese persoonlikheid in die sukses van die OB gespeel? Hierdie vrae word deeglik met hierdie biografie beantwoord.
Wat onder die loep geneem word, is die enigmatiese persoon wat Hans van Rensburg was. Was hy ’n Nazi soos die stereotipe siening dit oor hom wil hê? Die antwoord sal lesers verras, die saak is nie so eenvoudig soos die algemene opvatting nie.
Die objektiwiteit en deernis waarmee die biograaf die persoonlikheid van Hans van Rensburg aan die orde stel, dwing groot respek af. As kind word Van Rensburg – hy word in ’n pro-Brits huishouding groot – eerstehands aan die werklikhede van oorlog blootgestel. Dit het later ’n interessante, ook teenstrydige invloed op hom. Hans van Rensburg plaas sy lewe lank ’n hoë premie op militêre dissipline, maar verafsku geweld. Hiermee saam sou hy altyd ’n koestering vir sy eie mense hê – die verskynsel van broer teen broer stuit hom teen die bors.
Die vernaamste dryfvere wat Van Rensburg se missie gerig het, is Afrikanereenheid en die Republikeinse ideaal. Dit is juis omdat die biografie die groter prentjie skets dat dit histories ’n waardevolle bundel is. Dit wat aanleiding sou gee tot die Nasionale Party se oorwinning in die verkiesing in 1948 word dikwels oppervlakkig ondersoek. Die Republikeinse ideaal en die Afrikaner se afkeur aan die deelname aan ’n oorlog oorkant die oseaan aan die Britte se kant, met die Anglo-Boereoorlog nog vars in die gemoed, was ’n beduidende faktor in die politieke keuses van Afrikaners daardie tyd.
Dat Van Rensburg se OB, wie ’n afkeur in ’n partypolitieke stelsel gehad het, ’n ironiese invloed gehad het op die Nasionale Party se oorwinning in 1948, is fassinerend. Van Rensburg se aanvoeling vir politiek was power en misplaas. Aan die ander kant het die politiek hom skandelik behandel en misbruik.
Interessant is hoe veelkantig Van Rensburg as persoon was, ’n enigma en dat ook sy goeie kant belig word. ’n Man met hoë etiese waardes. ’n Knap amptenaar wat hoë ampte beklee het – hy was ’n gerekende administrateur-generaal van die Vrystaat. Daarby was hy ’n fyn opgevoede akademikus met ’n groot liefde vir die kulturele en lettere. En sy verhouding met generaal Smuts getuig van wedersydse respek wat die twee leiers vir mekaar gehad het.
Dat Van Rensburg se idee oor ’n gesagstaat misplaas was, staan soos ’n paal bo water. Dat hy die beste bedoelings vanuit ’n staatkundige oogpunt vir sy volksgenote gehad het, kan nie betwyfel word nie. En die tragedie uiteindelik is dat hy die slagoffer was van politieke opportunisme veral omdat hy nooit ’n instink vir die toksiese aard wat partypolitiek dikwels is, ontwikkel het nie.
Goed nagevors. By uitstek toeganklik vir die gewone leser. En ontsettend insiggewend. Alle lof aan Albert Blake vir ’n merkwaardige biografie.