Roman met letterkundige waarde lees so lekker

Vier susters

Outeur: Gerda Taljaard

Uitgewer: Penguin Random House SA

Resensent: Francois Bekker

 

Vier susters

Outeur: Gerda Taljaard

Uitgewer: Penguin Random House SA

Resensent: Francois Bekker

 

’n Vraag wat my geteister het terwyl ek Gerda Taljaard se Vier susters gelees het, is of ’n roman met letterkundige waarde so lekker mag lees. Wanneer laas het jy ’n storie wat jou intens vasgenael hou, in die hand gehou? Vier susters bevestig Taljaard as ’n meester storieverteller.

’n Proloog vertel van ’n ritueel wat die susters jaarliks nakom. Dit vind plaas by ’n stukkie inheemse bos op die plaas Broedersdraai. Iemand se beendere lê hier verstrooi. ’n Oorlog word genoem en ’n mening uitgespreek oor wie hieraan skuld het. Die plaas se naam ironies – broeders oftewel mans sal jy lank nie meer hier vind nie.

Die vier susters bevind hulle in 1945 weens omstandighede weer saam in die plaashuis waar hulle grootgeword  het. Hulle maak gereed vir die begrafnis van Beatrice se man. Beatrice se huwelik met Boas Putter was alles behalwe maanskyn en rose. Sy treur maar kan aan ’n skuldgevoel oor haar lewe saam met Boas nie ontkom nie. Wat aan Ivy, die jongste suster, knaag, kan niemand sê nie. Kietie bevind haar in die buitekamer – haar plek in hierdie familie-opset van meet af kompleks, selfs problematies. En Sophie probeer sin maak van hierdie noodgedwonge samekoms en haar verhouding met haar susters in die briewe wat sy aan haar man, die Engelsman Robert Wilken, skryf.

Wat onder die loep geneem word, is die lewe op ’n plaas, die drome wat die vier susters najaag en hulle poging om sin te maak van wat tans in die wêreld en spesifiek hier in Suid-Afrika aangaan. Hulle storie word die verhaal van die Afrikaners se uiteenlopende reaksies op die verloop van historiese gebeure.

In Europa die verwoesting wat Hitler se verdwaalde ideale te weeg bring. Daardie stryd oorkant die oseaan word moeilik en verskillend hier ter plaatse verwerk. Die Afrikaner se eie vryheidsideale en verset teen Engelse imperialisme word ’n katalisator van die verskillende aksente onder volksgenote.

Benewens die groter geskiedkundige woelinge het elkeen van die vier susters persoonlike aspirasies, kwellinge en impulse. Die persoonlike kan egter nie los staan van die politieke strominge nie. Niemand staan ooit onaangeraak deur die groter prentjie van die tyd waarin jy leef nie.

Kietie is ’n slagoffer van die land se politiek waaroor sy geen beheer het nie. Ivy se jeugdigheid en verliefdheid neem haar op ’n gevaarlike pad as sy betrokke raak by reaksionêre elemente wat die gesag van die regering uitdaag. Sophie blyk die verstandigste suster te wees wat die waarde van pragmatisme snap. Haar kritiese blik op die lewe bring egter vervreemding mee, asof haar houding as hovaardig beleef word. En Beattrice wie se skoonheid en sensualiteit haar lewenspad besaai het met rose sowel as dorings.

Om die situasie verder op die spits te dryf, kom die swaar gewonde Domenico Valente, ’n Italiaanse krygsgevangene, op die plaas aan. As kunstenaar is sy aanvoeling vir die onderstrominge tussen die susters en wat die oorlog aan almal doen onthutsend openbarend van aard.

Stilisties is die roman ’n meesterstuk. Met briljante karakterisering en die feit dat van verskillende vertelperspektiewe gebruik gemaak word, word die leser intens betrokke by elke karakter. Voeg hierby die rondspring tussen die hede en die verlede – dit maak die storie by uitstek boeiend. Die skrywer span ’n wye doek om ’n meesleurende verhaal met ’n epiese omvang te vertel.

Met Vier susters word meer as net die hartsnare geroer. Die leser moet saam met die susters na afloop van ’n ingrypende historiese episode in ons geskiedenis besin oor skuld en wie hom- of haarself kan verontskuldig. Jy sal jouself ’n onguns aandoen om nie hierdie aangrypende roman te lees nie.