Sy maak van besonder skeppende Afrikaans gebruik

Die waarde van stil bure

Uitgewer: Kwela Boeke

Skrywer: Zelda Bezuidenhout

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Hierdie boeiende spanningsroman wat om hoogs geheime stamselnavorsing draai, neem jou op ’n wipwarit van intrige, gewetenlose ambisie, professionele jaloesie, burokrasie, rugstekery, afguns en verraad. Die agterplat lui dat ’n gevaarlike vreesloosheid intree as die ergste ding wat in die lewe met jou kan gebeur, reeds gebeur het. Die hoofkarakter, Magdaleen Verster, probeer die stukke van haar lewe optel na die dood van haar geliefde identiese tweelingsuster, die model Misha. Sy weet nie hoe om te lewe as sy nie meer een van twee is nie. Haar ander helfte is weg.

Die tweeling is heel gepas deur hul huiswerker Evalyn, “Selle Selle” en “Sym Sym” genoem. ’n Naam wat na haar suster se dood bly vassteek. Magdaleen het darem nog haar beste vriendin Evalyn se dogter Puleng, wat vir die tweeling soos ’n suster was, wat saam met hulle grootgeword het en wat haar huisdokterjaar doen.

Wanneer Magdaleen ’n onwaarskynlike vriendskap met haar brandarm, superslim, eksentrieke buurman, Darius Ackerman aanknoop, bevind sy haar in die opwindende maar omstrede wêreld van stamselnavorsing wat in groot geheimhouding op Darius se werf in Melville geskied. En dit, skryf sy droog, terwyl ander mense mampoer stook of orgideë in hul agterplaas kweek.

Gematigde en maagdelike Magdaleen gee haar skielik aan roekelose en anonieme seksuele gedrag oor in ’n vreemde poging om haar suster se dood te verwerk. Dis vir haar ontsnapping om met wildvreemdes seks te hê en dalk ook ’n manier om skuldig te voel oor haar oorlewingskuld. Haar lewensbeskouing raak fatalisties.

Sy raak ook intens betrokke by die onwettige stamselnavorsing in die hoop om haar goeie vriend Zack se gestremde seun Ben, wat na ’n motorongeluk in ’n rolstoel beland het, moontlik weer te laat loop. Dit raak byna ’n obsessie by haar, want sy voel dat al kan sy nie haar suster terugbring nie, kan sy moontlik wel ’n verskil aan ander se lewens maak. Byna al die karakters in die boek met die uitsondering van Zack is ietwat van lotjie getik. Die uiteenlopende vriendskappe in haar lewe is ’n deurlopende tema in die boek.

In ’n onderhoud met Phyllis Green, boekredakteur van Sarie, vertel Bezuidenhout dat die gedagte vir die roman ontstaan het nadat sy na ’n gesprek geluister het tussen ’n wetenskaplike en ’n mediese dokter wat oor die huidige stand van stamselnavorsing gesels het. Sy was verbaas oor die wedywering, moddergooiery en burokrasie wat op hierdie gebied plaasvind.

Bezuidenhout pak verskeie dapper temas in die roman aan. Die tema rondom stamselnavorsing kan maklik as te onrealisties beskou word, maar hierdie is per slot van rekening fiksie. Met die hoogs wetenskaplike proses van stamselnavorsing slaag sy daarin om moeilike begrippe, mediese en wetenskaplike feite eenvoudig en in verteerbare taal te vertel sodat selfs linkerbreinloses dit kan verstaan. Ook net genoeg daarvan want dit gaan immers oor die storie.

Dan is daar ook rasseverhoudings wat baie meer verwikkeld en absurd is as wat mens wil erken, selfs al wil dit voorkom asof almal betrokke kleurblind is, asook opvattings oor die huwelik en oorbetrokke ouerskap. Onderwerpe waarin lesers dalk hulself kan raaklees.

Dis duidelik dat sy behoorlike navorsing oor identiese tweelinge en die hegte band tussen hulle gedoen het wat tot fassinerende inligting lei.

Dit is ’n riem onder die hart dat Magdaleen ’n joernaal aanhou waarin sy haar hart hoofsaaklik teenoor Misha uitstort. Sielkundiges beskou skryfterapie hoekal as een van die top terapieë.

Bezuidenhout skryf roerend oor die rouproses en verlies en oor die wyse waarop mense die treurende behoort te hanteer.

Sy gee ook deurleefde beskrywings van Melville waar Magdaleen in ’n skakelhuisie woon sowel as van die Seychelles. Die feit dat sy self in Melville gewoon het en sy en haar man ’n eiendom op die eiland het waar hulle soms bly, beskryf die plekke oortuigend. Sy ken die leefwyse, omgewing en die kultuur.

So beskryf sy die ondraaglike hitte in die Seychelles so dat jy skoon begin sweet. Daar is reënbuie wat onverwags uitsak en “die tropiese boomtoppe wat mekaar soos Frida Kahlo-wenkbroue in die middel van die pad ontmoet.” Sy het selfs moeite gedoen om hier en daar Kreoolse dialoog te gebruik. Dis nie net gegoogle nie.

Bezuidenhout behou haar humorsin en maak van besonder skeppende Afrikaans gebruik. Daar is skerpsinnige beskrywings soos: “Melville met sy skeppende cool nie-konformeerders” en Darius Achenbach “in al sy onversorgde glorie”, en as “die meester van onderbeklemtoning”.

En dan: “Haar vingers lyk vir haar onvanpas op die ryklik getatoeërde landskap van sy vel. Amper soos nonne in ’n nagklub.”

Die naam “Alida”, skryf sy, “klink bietjie soos ’n tronkbewaarder se naam. Groot antie wat na sweet ruik, met ’n bos raserige sleutels.”

Oor ’n troue wat Magdaleen bywoon, filosofeer sy dat sy “’n ooggetuie van die mens se mees optimistiese instelling is.” Die paartjie is “so ontstellend stralend gelukkig.”

Dan is daar die ernstige stellings oor ondenkbare verdriet soos: “Sy is die obskure helfte van die Verster-tweeling. As jy een van ’n tweeling is en haar presiese replika gaan dood, sien die wêreld haar gedurig in jou.” Die oorlewende hou die ander een lewend deur aan te hou leef.

Soms raak-raak die storie aan ’n krimi. Die slot is iets wat jy nooit sou kon voorsien het nie. Die prys (om vermoor te word) wat vir die stamselnavorsing betaal moes word, was eenvoudig te hoog.

Maar wie is die moordenaar? Die antwoord laat jou mond oophang en herinner aan ’n Agatha Christie “whodunnit”.