Sommige kunstenaars glo dis nodig om elke jaar, of elke agttien maande, nuwe musiek vry te stel, terwyl ander eerder jare sal wag voordat hulle dit doen, en telkens musiek uitreik waarna ’n mens nog jare lank kan luister.
Een kunstenaar wat tot dusver in laasgenoemde kategorie geval het, is Neil Somers. Sy eerste album, Anderkant Atlantis, het in 2009 reeds verskyn en die treffers “40 beeste” en “As die plaas huil” opgelewer. In 2015 het sy tweede album, Hierdie hande, verskyn en hierdie keer het hy selfs groter sukses behaal, veral as gevolg van sy groot treffers “Eendag op ’n reëndag”, “Skipper” en veral die aangrypende “Silwer kombers”.
Nou is Neil eindelik terug met sy derde album, Jy is water en weer eens het hy al die snitte self geskryf. Die titelsnit, waarin hy sing van die verskil wat ’n geliefde in ’n mens se lewe maak, is reeds besig om radiolugtyd te kry en om ’n treffer te word. “Neonlig-nagdans”, die tweede snit op die album, het beslis ook trefferpotensiaal en bewys dat Neil ook opgewekte liedjies kan skryf, maar sonder om oppervlakkig te wees. Nog ’n snit waarop hy dit reggekry het, is “Rum en morango”, wat jou sommer lus maak vir ’n eiland-wegbreek. Dit kan een van die grootste treffers vanaf die album word.
Neil se dieper kant kom na vore in “Ek sou”, waarin hy terugkyk na ’n mislukte liefdesverhouding. “Boer genoeg” het ’n lekker rock-klank en hierin sing hy van ’n meisie wat aandag trek as gevolg van haar Afrikaner-agtergrond. Baie mense se geneigdheid om terug te kyk op wat kon wees, word baie goed in “As” verwoord, en sy boodskap is dat dit sinloos is om daaroor te bespiegel. “Vergenoegd” sluit tot ’n mate daarby aan; sy boodskap is dat ’n mens dankbaar en tevrede moet wees al het jy min aardse besittings. “In my gebore” is egter die teenoorgestelde, en weer eens het hy hier met ’n rock-klank vorendag gekom.
Neil kan ewe goed in Engels as in Afrikaans sing en skryf. “Always the good ones” kan as die “Silwer kombers” van hierdie album beskou word, want op hierdie snit sing hy van iemand wat hy aan die dood afgestaan het. Dit is sonder twyfel die mooiste snit op die album. In “Liefde uit die suide” sing hy weer eens oor die verskil wat liefde in ’n mens se lewe maak. In “9 jaar” sing hy van ’n man wat effens sukkel om sy liefde vir die vrou in sy lewe te verwoord, maar tog dankbaar is dat sy in sy lewe is. Op die laaste snit, “In die Bosveld”, sing Juan Boucher saam het hom; dit is ook reeds ’n treffer.
Met hierdie album bewys dat Neil dat daar geen twyfel oor sy talent as sanger en liedjieskrywer kan bestaan nie. Sy lirieke het meer om die lyf as die gemiddelde radiotreffer en hy kan maklik tussen ’n hoë en lae register met sy baritonstem beweeg. Die feit dat dit maar net sy derde album in twaalf jaar is, maak glad nie saak nie, want ’n mens sal hierna kan luister lank nadat jy van die liedjies wat tans bo-aan die trefferslyste is, vergeet het.