Die afgelope twintig jaar het ons Pieter Koen leer ken as veldaanbieder van Kwêla, aanbieder van Jukebox maar bo alles as ’n sanger van liedjies met veral grappige lirieke.
Hoewel Pieter tot dusver hoofsaaklik komiese liedjies gesing het, was hy ’n lid van die Drakensbergse Seunskoor en die Rondomtalies, die revuegroep van die destydse Technikon Pretoria. Daarom het hy ’n bewese musiekagtergrond, hoewel die publiek en sy platemaatskappye aan hom voorgeskryf het wat hy moes sing.
Met sy nuwe album, Timeless, het hy egter ’n heeltemal nuwe rigting ingeslaan. Nie net is dit sy eerste album wat nie Afrikaans is nie, hy het die waagmoed gehad om musiek op te neem wat nie gewoonlik met hom geassosieer word nie. Die vraag is nou net of dit ’n sukses was.
Die eerste snit op die album is Tony Orlando and Dawn se groot treffer “Knock three times”, en ’n mens kan reeds agterkom dat Pieter sy eie stempel hierop afdruk, sonder om die oorspronklike weergawe oneer aan te doen. Hy het die liedjie sy eie gemaak en sy weergawe maak dat ’n mens van voor af daarna luister. Die volgende snit is ’n baie mooi weergawe van “The last waltz” van Engelbert Humperdinck. Daar is twee keurspele van rock en roll-legendes op die album. Die eerste een wat aan die beurt kom, is Elvis Presley; die keurspel wat Pieter opgeneem het, bestaan uit “Heartbreak hotel”, “Hound dog”, “Jailhouse rock” en “Blue suede shoes”. Dis eintlik jammer dat Pieter nie die snitte afsonderlik opgeneem het nie, maar die Elvis-aanhangers sal dit geniet. Patsy Cline se treffer “Crazy” is al baie kere opgeneem, en Pieter se opname daarvan is uitstekend.
Pieter het dit gewaag om ’n liedjie van The Eagles op die album in te sluit, maar dit is nie “Hotel California” nie. Hy het eerder op een van hul laaste treffers, “Heartache tonight”, besluit, en hy gee die liedjie ’n swing-klank wat heeltemal van die oorspronklike klank verskil. Een van die heel mooiste liedjies van die 1990’s was Diana Ross se treffer “When you tell me that you love me”. Tarryn Lamb sing hier saam met hom, en hul opname is besonder goed. Rod Stewart, Bryan Adams en Sting het ’n groot treffer met “All for love” gehad, en vir sy opname het Pieter vir Ghapi en Dewald Wasserfall nader getrek om saam met hom te sing. Hierdie drie stemme werk baie goed saam. Ruhan du Toit sing saam met Pieter op sy uitstekende opname van Simon and Garfunkel se “Bridge over troubled water”, en weer eens het hulle die liedjie hul eie gemaak. Daar is twee liedjies getiteld “Have I told you lately that I love you”, en Pieter het die een wat Jim Reeves oorspronklik gesing het, ingesluit. Dit is getrou aan die oorspronklike een eerder as die weergawe wat ’n treffer vir die Ierse sangeres Geraldine was.
Die tweede legende van wie Pieter ’n keurspel ingesluit het, is Cliff Richard, en hy het op sy ouer treffers gekonsentreer. Die liedjies in hierdie keurspel is “Lucky lips”, “Summer holiday” en “Living doll”. “My life” was Billy Joel se grootste treffer en Pieter het ’n uitstekende opname daarvan opgeneem. Die laaste snit op die album is Chris de Burgh se “Lady in red”, en Pieter se weergawe verskil byna heeltemal van die oorspronklike een.
Daar is sommige radiostasies wat huiwerig is om nuwe weergawes van bestaande treffers te speel, en daarom sal dit jammer wees as hierdie album nie die lugtyd kry wat dit verdien nie. Pieter het met hierdie album gewys waartoe hy in staat is, en dat hy ’n sanger is wie se ware talent soveel jare lank deur platemaatskappye ondermyn is. Daar kan nou geen twyfel meer bestaan dat Pieter tot beter in staat is as die liedjies wat hy voorheen opgeneem het nie, en hierdie album sal vir sy aanhangers, maar veral vir sy kritici, ’n groot verrassing wees.