Nie almal tree op ’n jong ouderdom tot die musiekbedryf toe nie, en sommige mense bereik eers hul doel op ’n gevorderde ouderdom.
C-Storm is die verhoognaam van Carel Jansen van Vuuren, of Callie soos sy vriende hom ken. Hy het in September vanjaar 54 jaar oud geword en in 1985 aan die Hoërskool Waterkloof gematrikuleer, waarna hy in grafiese kuns gaan studeer het. Hy het onder meer kuns en metaalwerk as skoolvakke geneem, met die gevolg dat kreatiwiteit al van jongs af deel van sy lewe was. Hy het reeds op ’n jong ouderdom kitaar begin speel en op hoërskool na kunstenaars soos U2, The Police, The Eagles, Thomas Dolby, Dire Straits en Pink Floyd geluister, en veral laasgenoemde twee groepe het sy musiek beïnvloed.
Sy eerste album Haal asem, is vroeër vanjaar vrygestel, en die Pink Floyd-invloed kan dadelik op die eerste snit, “Soos ’n clown”, gehoor word. Sy stemkwaliteit herinner baie aan dié van Prophet se hoofsanger en liedjieskrywer Koos van der Merwe. Veral die elektriese kitaarwerk op hierdie snit is uitstekend. “Kersvader” het eintlik ’n dieper betekenis as wat ’n mens dink. Nog ’n snit met skitterende kitaarwerk is “Om en dom”, waarop hy gemaklik tussen sy hoë en lae register beweeg. In “Môre sal die son weer skyn” sing hy van die foute wat hy in sy lewe gemaak het, en hy hoop dat God hom sal vergewe. Callie se pa is vroeg in 2016 oorlede, en “Kol op die maan” is een van die liedjies wat uit sy verdriet gespruit het. Hierin vertel hy die verhaal van ’n oupa en ’n kleinseun wat op ’n metaforiese boot klim en na ’n eiland vaar waar daar net liefde is. Die oupa is egter nie hy self nie omdat hy eers op 32-jarige ouderdom vir die eerste keer pa geword het. Hy beskou die kol op die maan as ’n metafoor vir die moeilike tye waardeur ons almal soms gaan. Die boodskap van die liedjie is dat mense meer verdraagsaam teenoor mekaar moet wees, al gaan dit nie altyd goed nie.
“Klokke” is een van die rustiger snitte op die album, en vir hom is dit ’n metafoor vir vryheid. Die Pink Floyd-invloed kan duidelik op die langste snit op die album, “Boem”, gehoor word. Callie het “Vaderland” geskryf te midde van sy pa se stryd met kanker. Dit was vir hom ’n moeilike tyd, omdat hy terselfdertyd deur ’n egskeiding gegaan het. Hierdie snit getuig ook van ’n diep liefdesverhouding met Suid-Afrika; hierin pleit hy nie net om liefde vir mekaar nie, maar ook om vrede tussen verskillende rasse. Soos hy tereg sê; almal wil net ’n toekoms vir hulself en hul kinders bou. Die donker klank vang die onheilspellende atmosfeer van die grendeltyd ook baie goed vas. Soos met die res van die snitte op die album is “Hoekom is die hemel blou” sy eie komposisie. In die titelsnit, die laaste snit op die album, maak hy gebruik van klanknabootsing, naamlik van ’n persoon wat reg aan die begin hard asemhaal. Hierin verwoord hy die pyn en frustrasie van die grendeltydperk baie goed, en sy boodskap is dat ’n mens net moet voortgaan met die lewe. Soos hy self sê: “As jou hart en kop nie saamstem nie, moet jy maar na jou longe luister.” Hy sê verder dat die moeilike tye nie vir altyd sal aanhou nie, en dat ’n mens te midde daarvan net rustig moet raak. Dit is dalk een van die mees aangrypende Afrikaanse liedjies wat die afgelope tyd verskyn het, en dit roep jou op tot selfondersoek oor hoe jy moeilike tye in jou lewe hanteer.
In C-Storm se geval is dit “liewer laat as nooit”, en die blote feit dat hy wel hierdie album vrygestel het, is ’n bewys dat dit nooit te laat is om oor te begin en iets nuuts met jou lewe te doen nie. Sy lirieke getuig van absolute integriteit en die musikale verwerkings op die album is uitstekend. Hierdie album is beslis een van vanjaar se heel bestes!