Hoewel Ricus Nel eers onlangs as sanger tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf toegetree het, het treffers soos “Hardekole”, “Boerepompie” en “Spyt kom te laat”, tesame met sy vermoë om feitlik enige musiekinstrument te bespeel, hom ’n gunsteling onder plaaslike musiekliefhebbers gemaak.

Nou is hy terug met sy jongste album, Ploeg jy?, wat beloof om net so gewild soos sy vorige vrystellings te wees. Die titelsnit is reeds ’n treffer en dis maklik om te verstaan hoekom. Ricus se skerp humorsin, ’n musiekvideo wat ’n fees vir die oog is, asook die aansteeklike ritme en wysie, is alles belangrike redes hiervoor. Die tweede snit op die album is ook die volgende enkelsnit, naamlik “Marico mampoer”; en hierin sing hy van die voggies van oom Schalk Lourens se wêreld wat lekker skop. Hierdie snit gaan net so ’n groot treffer word!

Nog ’n liedjie waarin Ricus se humorsin sterk na vore kom, is “Mamma ek wil ’n vrou hê”. Hierin vertel hy die storie van ’n enkellopende man wat ’n meisie wil hê om mee te trou, en sy ma se raad vra. Hy vind egter “fout” met ’n hele aantal van hulle en die meeste besware is eintlik belaglik. Die eerste bekende snit op die album is “Die dae van die ysterwielkruiwa”. Zirk Berg het dit geskryf en oorspronklik opgeneem; Zirk was ’n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer wat al langs die Kaapse Weskus op en af geswerf het en met ’n aantal skreeusnaakse liedjies vorendag gekom het. Hy is ongelukkig onder tragiese omstandighede oorlede. Aangesien Ricus se musiek op baie dieselfde teikengehoor gemik is, is dit geen verrassing dat Ricus hierdie liedjie opgeneem het nie, en hopelik sal dit ’n groter treffer as voorheen word.

Die volgende snit is ’n keurspel van drie van Leon Schuster se treffers, naamlik “Dasiefoutie”, “Die rugbyonthaal” en “Swem Jannie swem”. Dalk sal ’n volledige Leon Schuster-huldeblyk iewers in die toekoms ’n goeie idee wees. In “Karavaan” vertel hy die storie van ’n vriendskap wat in liefde verander het; Ricus weet beslis hoe om ’n storie te vertel. Omdat country-musiek hom goed pas, is dit geen verrassing dat Johnny Cash se groot treffer “Ring of fire” by hierdie album ingesluit is nie; Ricus se weergawe daarvan is eenvoudig skitterend. Op die laaste snit, “Game day”, kan Radio Raps se stem gehoor word; Ricus rymklets en sing, en hulle vertel van manne wat bymekaarkom om rugby te kyk.

Die hedendaagse neiging om albums met minder snitte vry te stel, het sy voordele en nadele. Aan die positiewe kant stel niemand belang om snitte af te laai as dit nie radiolugtyd kry nie; die dae van snitte net om ’n album vol te maak, is vir altyd verby noudat musiek net digitaal beskikbaar is. Aan die ander kant begin ’n mens net lekker luister, dan is dit verby. Dit is egter beter om agt goeie snitte te hê as byvoorbeeld sestien waarvan net die helfte die moeite werd is. Ricus het met hierdie album weer bewys dat daar geen twyfel oor sy talent as sanger, liedjieskrywer en multi-instrumentalis is nie, en daarom kan dit baie sterk aanbeveel word.