Dit lyk asof al hoe meer kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf in die rigting van musiek met ware betekenis begin beweeg en asof mense ’n bietjie moeg raak vir musiek met niksseggende lirieke.
Een van die jongste kunstenaars wie se musiek in die kategorie van alternatiewe rock val, is Zaan Sonnekus, wie se debuutalbum met die slim titel Zonneblom, pas uitgereik is. Zaan het al vroeg in sy lewe begin om musiek te maak en sy eerste kitaar vir sy tiende verjaardag gekry. Hy het al vir kunstenaars soos Jack Parow, Francois van Coke en Spoegwolf geopen en beskou John Mayer, Kings of Leon en Green Day as die kunstenaars wat hom die meeste beïnvloed het. Hy het agt maande lank saam met Tertius Human van Coolerbox Productions aan die album gewerk. Benewens sy musiek hou hy hom besig met die verkoop en verhuring van klanktoerusting, terwyl hy saam met sy beste vriend ’n onderneming bedryf wat verharde glas op industriële vlak vervaardig en keramiek-drukwerk doen.
Met die eerste snit, “Dis fyn”, kom jy agter dat ons te doen het met ware talent. Sy lirieke het meer om die lyf as die gemiddelde sokkietreffer, hoewel dit dalk nie in die smaak van meer konserwatiewe luisteraars sal val nie. Volgens Zaan is musiek ’n manier om woede en pyn te verwerk en ’n mens kan dit duidelik hoor in die volgende snit, “Tienerkwaad”, wat reeds radiolugtyd kry. Hierin sing hy onder meer van een van die groepe wat een van sy mentors, Francois van Coke, gestig het. “Ten minste vir my” is een van daardie snitte wat jy teen volle volume móét luister; dit is ’n lekker rock-snit wat veral geskik is vir die langpad. Soos hy tereg sing, sit harder die musiek! “Hoog” is nog een van die snitte wat al op die trefferslyste was; dit is effens rustiger as die meeste ander snitte op die album. “Ritalin” is natuurlik medikasie wat vir kinders met aandagafleibaarheid voorgeskryf word, en hierin sing hy van iemand wat met hierdie toestand saamleef; dalk is dit hy self, hoewel ’n mens nie vir seker weet of dit is nie. “Plastiekswaard” is nog ’n lekker snit waarin hy beswaar maak teen mense se valsheid. “Krapmerke” is een van die rustiger snitte op die album, en sal goed klink met niks anders as ’n akoestiese kitaar nie.
“Ek kan net bid”, was Zaan se heel eerste enkelsnit; hy het dit geskryf nadat sy ma aan Covid-19 oorlede is. Dit het amper gemaak dat hy besluit het om sy musiekloopbaan te laat vaar. Dit is seker een van die mees aangrypende Afrikaanse liedjies wat die afgelope jaar vrygestel is. “Soos hel” is nog ’n skitterende snit wat besig is om ’n treffer te word. “Dis jy” is voor ’n gehoor opgeneem, en sy klavierspel op hierdie snit is uitstekend. Dit is ’n snit wat by oud en jonk aanklank sal vind. In “Verander” sing hy van iemand wat só deur die lewe ontnugter is dat hy nie meer dieselfde is nie. “Vingerverf” is die laaste snit, en regtig iets besonders. Hierin sing hy van ’n vriend wat hy aan die dood afgestaan het.
Dis goed om te sien dat daar nuwe kunstenaars is wat nie bang is om te waag nie, en vir wie integriteit belangriker as kommersiële sukses is; Zaan val beslis in daardie kategorie. Daar is genoeg snitte op die album wat toeganklik genoeg vir die radio is, maar dis duidelik dat foefies en fieterjasies nie vir hom belangrik is nie. Zonneblom is beslis een van die heel beste debuutalbums wat die afgelope jaar vrygestel is.