Die tipe krimi wat die spanningsgenre na ’n hoër vlak neem

Gerugte van ’n ontvoering

Skrywer: Chris Karsten

Uitgewer: Human & Rousseau

Resensent: Francois Bekker

 

 

Johannesburg. Die Ponte-woonstel. Oktober 2021. ’n Vrou val na haar dood by hierdie gebou wat bekend staan as die hoogste woonstelgebou in Afrika. Haar seun met sy buffelagtige persoonlikheid keer onmiddellik van Mosambiek af terug waar hy as huursoldaat werk. Al raai die begrafnisondernemer Harry Grimbeek dit ten sterkste af, dring hy daarop aan om die oorskot van sy ma te sien. Dit is nie ’n vriendelike prentjie nie.

Later kuier hy saam met Ben, sy halfbroer, en dié se vrou, Pita, ter wille van familiefatsoenlikheid ná die dood van Gusta Grimbeek. Harry en Ben het oor die jare heen kontak met mekaar verloor en nou is daar heelwat spanning in die lug – veral vanweë ’n ingewikkelde verlede wat Pita ook betrek.

Wanneer Harry na die penthouse by die Ponte terugkeer, merk hy op dat ’n skildery, wat baie spesiaal vir sy ma is, uit die woonstel verwyder is. Ene Lulu, die ander vrou in Harry se pa se lewe, maak daarop aanspraak dat die skildery aan haar bemaak is – Harry se pa het etlike maande gelede aan natuurlike oorsake gesterf.

Harry begin snuf in die neus kry oor die skildery – dit blyk ’n kunswerk te wees wat miljoene rand werd is en hy begin wonder of sy ma se dood net ’n ongeluk was. Sy poging om agter die kap van die byl te kom, laat baie mense ongemaklik voel om dit sagkens te stel. Kort voor lank word ’n vrou by ’n gesogte kunsuitstalling ontvoer en dan is die gort gaar. Harry Grimbeek sal tot die uiterste gaan om die skildery terug te kry. ’n Bloedspoor volg en die hulp van Ella Neser word ingeroep om die saak te beredder.

Chris Karsten se veertiende spanningsverhaal begin met hierdie treffende openingsin: “In die brutale toringstruktuur op die oerdrif dreig ’n treurspel.” Die manier hoe Chris Karsten hierdie grutoneel onder woorde bring, bevestig hom as ’n woord-virtuoos sonder gelyke. Dat die noodlot en die einde van ’n lewe so poëties met woorde geskilder word, bewys waartoe Afrikaans in staat is. Die mitiese geladenheid van hierdie toneel is eenvoudig verbluffend.

In ’n oogwink word die leser op die wieke van die tyd terug verplaas na België van 1444. Die liefdesverhaal van die kunstenaar Petrus Christus en die vrou wat hy vra om vir hom te sit sodat hy haar kan skilder, is so mooi en so knap afgerond dat dit op sy eie as ’n kortverhaal gepubliseer kan word. Die skildery heet ‘Vrou met ’n boek’ – ’n uitstekende voorbeeld van die Vlaamse primitiewe. Dit is die einste kunswerk waaraan Harry se ma haar hart opgehang het en waarop kunsversamelaars nou hulle hande wil lê.

Harry Grimbeek is sekerlik die interessantste karakter wat ek in ’n lang tyd by ’n spanningsverhaal aangetref het. ’n Tipe anti-held. ’n Enigma om wie se nek jy nie ’n etiket kan hang nie. Jy hou van hom. Jy respekteer hom. En jy vrees hom. Want Harry Grimbeek steur hom nie aan konvensie of reëls nie. Moenie aan sy verkeerde kant kom nie. Die woord genade is nie deel van sy woordeskat nie.

Dit is juis die briljante karakterisering wat hierdie verhaal besonders maak. Selfs die Ponte-gebou is opsigself ’n aangrypende karakter.

Karsten se Gerugte van ’n ontvoering (wat ’n kreatiewe titel is dit nie? – Dit laat die leser uit die staanspoor wonder oor wat presies hier aan die gang is), boei enduit en die leser moet raai-raai speel tot aan die heel einde van die boek. Die tipe krimi wat die spanningsgenre na ’n hoër vlak neem. Eenvoudig gestel: dit is briljant.