Tom Moodie, skrywer van AHI Die Afrikaanse Handelsinstituut - Die kaalkop waarheid oor 75 jaar van hoogte- en laagtepunte
AHI Die Afrikaanse Handelsinstituut – Die kaalkop waarheid oor 75 jaar van hoogte- en laagtepunte
Outeur: Tom Moodie
Resensent: Carla van der Spuy
Die taamlik oninspirerende omslag van hierdie boek herinner aan ’n teksboek – feitlik en akademies. Een van daardie boeke wat jy moet gebruik om vir ’n eksamen te swot. Droog.
Wat mens egter wel inspireer en trots maak, is die verhaal van die Afrikaner se durf, moed, oortuigings, integriteit en pioniersgees. Die ystermanne (die vroue is ongelukkig dun gesaai en word gewoonlik heel outyds as eggenotes en sekretaresses vermeld) wat gerespekteerde sakelui geword het. Manne wat as’t ware uit die as van blanke armoede opgestaan het en van die grootste sakeryke in die land gebou het as deel van hul oorlewingstrategie.
Dis iets waarmee ons vandag ook kan identifiseer omdat talle Afrikaanssprekendes nou entrepreneurs is, want van die staatsdiens en ander instansies kan jy weens regstellende aksie maar vergeet.
Hierdie boek gaan soos wat die agterplat lui, oor die verhaal en gebeure van hoe die georganiseerde Afrikaanssprekende sakegemeenskap in die vorm van die eens magtige Afrikaanse Handelsinstituut oor ’n tydperk van 50 jaar van ’n nederige posisie tot leierskap gegroei het. En, helaas, sy tragiese val in minder as 20 jaar tot sy einde. Dit nadat daar in 1988 altesame 278 sakekamers en 8770 sakekamerlede was – die lewensbloed van die AHI.
Die doelstelling van die AHI was onder meer om handelsprobleme van die land en dié van die Afrikaner in besonder, wetenskaplik te ondersoek en om deur onder meer die mondstuk (die publikasie Volkshandel) ’n kampvegter vir die Afrikanerentrepreneur en Afrikanersake in die algemeen op te tree.
In die voorwoord skryf die bekende ekonoom Dawie Roodt dat die AHI ’n uitmuntende organisasie was wat die lede se belange voorop gestel het en gedurende sy bestaan talle storms moes oorleef. Dit strek oor ’n tydperk van politieke veranderinge waar die Afrikaner regeer het totdat hy sy mag verloor het.
Die AHI het geblom tydens ’n era wat as “Christelik-Nasionaal” beskryf kan word, maar natuurlik het die politiek sedert demokrasie in 1994 vir ewig verander. Die ANC is nie juis ’n aanhanger van Afrikaans nie en daar was in Moody se woorde nie ’n “big daddy”-regering waarheen die AHI kon hol nie.
Veral van belang in die boek is die FAK/AHI-verbintenis. Die FAK het na sy stigting in 1929 streng gehou by hul mandaat ter bevordering van Afrikanerkultuuraktiwiteite. Die FAK het nooit met die AHI se bedrywighede ingemeng nie, maar altyd ’n oorsigtelike rol gespeel.
Tekenend van die veranderde tye vorentoe waarin die AHI hom bevind het, was die wrywing tussen dr. Anton Rupert en dr. HF Verwoerd nadat Rupert in 1961 reeds ’n nuwe rassebenadering en nywerheidsvennootskap bepleit het – ’n konsep van “mededeelsame welvaart”. Rupert was natuurlik sy tyd ver vooruit.
Aanpassings moes mettertyd gemaak word, alles is verengels en dit was nie meer nodig om Afrikaanssprekend te wees om aan die organisasie te behoort nie. Iets wat deur sekere lede verwelkom is, terwyl ander die hasepad gekies het. Die AHI sou nie vir ewig eksklusief Afrikaans (hul belangrikste kultuurwaarde) bly nie. By die 1987-Bosberaad is besluit dat Engelstalige ondernemings ook kan aansluit, solank hulle die taal- en kultuurwaardes van die AHI ondersteun.
Dit klink vir my heel billik.
Dr. Matthews Phosa wat Afrikaans vlot magtig was, het in 2005 die eerste swart AHI-president geword. Dis verblydend dat Phosa die AHI geloof het as ’n organisasie waar hy baie van die Afrikaanse sakegemeenskap geleer het.
Vir talle het die Afrikaanse Handelsinstituut egter die Engelse Handelsinstituut geword. Myns insiens met goeie rede. Afrikaners moes – soos vandag nog die geval is – agteroorbuig om Engels ter wille van enkele Engelssprekendes te praat terwyl al die ander Afrikaans praat. Ons is seker maar net beleefd grootgemaak.
Verskeie redes word in die boek aangevoer oor hoekom die AHI agteruit geboer het. Nouja, dalk kan die lesers net uit ander se foute leer.
Die hoofstuk oor hoe die AHI as’t ware uit nood gebore is en wat ook handel oor die 300 000 armblankes (aldus die beraming in die Carnegie-verslag van 1928), die Groot Depressie en hoe die Volkshandel en Reddingsdaadbond en Reddingsdaadfonds tot stand gekom het toe baie Afrikaners sukkelaars was, is insiggewend.
Die hoofstuk oor Wie is wie in Afrikanerbesighede in Suid-Afrika is interessant. Hy beskryf hierdie mense as “dromers”, “gefokus” en “alleenlopermense wat hul gedagtes formuleer”. Hy noem name soos Jan S Marais, Louis Luyt, Christo Wiese, Jannie Mouton en Whitey Basson.
Moodie maak egter ’n paar aanvegbare stellings, naamlik dat die Afrikaner Broederbond nie Afrikaanssprekendes bevoordeel het nie, en dat die grootbaas van Perskor, Marius Jooste, charismaties was.
Jooste het wel ’n teenwoordigheid gehad maar is ook in K’RANT ’n webjoernaal vir oudwerknemers van Perskor in ’n artikel as “kortaf, onvoorspelbaar en “ongenaakbaar” beskryf. Baie stories het oor hom in die wandelgange van die vier koerante wat later almal gevou het, geloop. Hy was omstrede.
Moodie spog tereg met die Afrikaner se rol tot die uitbou van die landsekonomie en semi-staatsorganisasies soos Evkom, Yskor, Sasik en Ukor wat deur Afrikaners uitgebou is.
Nie al die AHI-leiers was helde nie. Soos al sedert die Groot Trek die geval is, was daar eie aan die koppige Afrikaner, persoonlikheidsbotsings, besef jy. Swak besluite, gebrekkige insig en om die gemors wat jou voorganger agtergelaat het te erf word ook beskryf.