Welkome verruiming van die Afrikaanse spanningsliteratuur

Ivoor

Skrywer: Jaco Wolmarans

Uitgewer: Tafelberg

Resensent: Francois Bekker

 

 

 

Vriend of vyand. Tydens die Bosoorlog in Angola destyds was daar min of geen sprake van ’n grysgebied nie. Dit was ons teen hulle. Reg en verkeerd ononderhandelbaar. Jou Kubaan, my soldaat. Vir volk en vaderland mos. Dit was toe. En vandag? Vandag blyk die toekoms seker te wees. Dit is die verlede wat so onvoorspelbaar is. Ivoor is Jaco Wolmarans se derde spanningsroman. Dit neem die leser na plekke waarvan ons eerder nie wil weet nie. Tot binne in die hart van die hoer. Morsig en amoreel. En die ons in die verhaal van destyds van alle onskuld gestroop. Want gierigheid erken geen grense nie.

Tex Texeira dra swaar aan sy verlede. Die gevegsoldaat wat nie sy vrou teen moord kon beskerm nie. Sy verloofde, Helena Paxton, is ’n analis by Militêre Intelligensie – die een persoon wat sy wêreld, verlies en uitkyk op die lewe verstaan. En hy verstaan haar as sy verlore raak in haar ondersoeke. Soos die een waarmee sy op die oomblik besig is – geldwassery en vrae oor wie hierby betrokke is.

As Tex besef dat sy bewegings gemonitor word, flikker die rooi ligte. ’n Geval van gekruisde lyne. En die verlede wat hy nou eenmaal nie afgeskud kry nie.

As ’n verkenningssoldaat saam met sy kameraad Carlos Viyera in Angola destyds het hulle die wreedheid van oorlog eerstehands beleef. Instink, die nodige opleiding en die talent om takties te dink en te doen, was nie alleen ’n aanwins vir die weermag nie, dit was hulle deugde om te oorleef.

Die ontnugtering en vrae het miskien begin by die aanskou van ’n olifantbul wat weerloos was voor ’n wildstroper se geweerloop en dié se verbintenis met lede van die SAW. Ongemaklike vrae wat maklik met wraak en weerwraak beantwoord word.

Helena vra Tex om te help met die ondersoek waarmee sy besig is. In die koerant lees Tex en Carlos van die selfdood van ’n soldaat met wie hulle paaie op die grens gekruis het. Dit krap ou wonde oop. En iemand is kennelik op Tex se spoor. En soos daar gekrap word om vas te stel waar groot bedrae geld vandaan kom, so hoop die lyke ook op. En doem die oorlog van destyds weer glashelder in Tex se geheue op.

Jaco Wolmarans se Ivoor is welkome verruiming van die Afrikaanse spanningsliteratuur. Dit sluit veral aan by die genre wat as grensliteratuur bekend staan. As spanningsroman is daar ’n lekker aanbod aksie wat lesers wie op soek is na ontvlugtingsvermaak groot plesier sal verskaf. Ivoor is egter meer as blote ontvlugtingsvermaak. Dit is aktuele prosa wat vrae vra oor die moraliteit van rolspelers uit die vorige bedeling. En so met die lees agter ’n lekker storie aan besef die leser dat niks ooit is wat dit met ’n eerste oogopslag blyk te wees nie.

Die storie spring lekker rond tussen die hede en die verlede. Waarin Wolmarans meesterlik slaag, is om al die sintuie van die leser te betrek – ons ruik, voel, hoor sien en proe die milieu van daardie ongenaakbare ruimte waar ’n dodelike oorlog homself in die tagtigerjare uitgespeel het. Met hierdie derde roman bevestig Wolmarans homself as ’n virtuose en gedugte skrywer. Dit is ’n teks met verbysterende gravitas.

Met die konvensionele oorlog lank reeds verby word die wêreld vandag met nuwe bedreigings gekonfronteer. Tex se siening van die situasie is in die kol. “Dis nie ’n oorlog wat ek gekies het nie. Dis ’n wêreld waar nie eens grys meer grys is nie. … Maar dan, om eerlik te wees, was ons oorlog ooit mooi wit en swart?” (bl. 158)

Wolmarans se navorsing, of dit nou die oorlogsituasie in die bos is, of geldwassery met slim slenters waarin witboordjiemisdadigers gedy, dwing die hoogste respek af. Destyds oor die loop van ’n geweer, vandag die slinkse truuks om vuil geld skoon gewas te kry.

Met ’n spanningslyn wat snaarstyf gespan word, boei Ivoor die leser enduit en los jou met insigte en gedagtes wat jou nog sal treiter lank nadat jy die storie klaar gelees het.