Die emosies, die ontkenning en die verwyte met vaardigheid beskryf

Die Stella-Moorde

Skrywer: Susan Cilliers

Uitgewer: Lapa

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Die dubbele moorde op die twee boesemvriendinne, die tieners Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht wat so berekend en gewetenloos beplan is, het nie net die Stella-boeregemeenskap nie, maar ook die hele land in 2018 geruk. Toe ’n plaasseun van die omgewing Xander Bylsma (19) van die wrede wurgmoorde aangekla is, het die raaisel verder verdiep.

Wat kon so verskriklik skeefgeloop het dat Bylsma sy eks-meisie en haar vriendin se lewens so koelbloedig beeïndig het? Hy het boonop tydens die ondersoek en hofsaak soos ’n tandetrekker gelieg en geen berou getoon nie.

Bylsma se eks-meisie Sharnelle, wat hom in ’n stadium na sy matriekafskeid toe vergesel het, het hom gelos en ’n nuwe kêrel gekry. Dit vorm alles deel van eindelose bespiegelinge en intrige wat drie ouerpare stom van verdriet laat en hul lewens verwoes het.

Hoekom? Hoekom? Dis die vraag wat altyd gevra word as kinders sulke grudade pleeg.

Eers word die meisies vermis. Dan het hulle kamma selfdood gepleeg. Maar gou kom die waarheid na vore. Sharnelle hang leweloos aan die trappe. Met ’n lus om Marna se nek, moet dit lyk asof sy haarself ook opgehang het. Maar ervare ondersoekbeamptes kom gou agter die kap van die byl.

Susan Cilliers beskryf die emosies, die ontkenning en die verwyte met vaardigheid. Soos mens soveel keer hoor wanneer ’n kind of tiener moord gepleeg het, glo Bylsma se ouers ook onwrikbaar in sy onskuld.

Soos altyd die geval is, hoor mens in hierdie geval ook dat hul “saggeaarde” geliefde kind wat huilend na die moord teen die plaasskuur aangetref is, nie dieselfde mens is wat in die verhoor beskryf word nie.

Aan Huisgenoot vertel Bylsma se ma Mercia haar kind is nie ‘”n demoon nie” en dat die Here nie ’n fout met hom gemaak het nie. Bylsma lyk immers soos die buurseun. Doodgewoon. Hy noem ouer mans nog “Oom”.

Soos talle moordenaars is Bylsma egter ’n briljante verhoogakteur want Sharnelle se ma, Sonja, is aanvanklik beïndruk met “die beleefde jong man wat haar al te graag met takies wil help.”

Sy ander kant van uitbarstings en woede steek hy dus goed weg. Maar stuk-stuk kom sy gedragsprobleme van jongs af na vore, hoe hardhandig hy teenoor meisies opgetree het, sy beheervraatgedrag teenoor Sharnelle (hy hou nie daarvan dat sy grimering dra nie) en die disrespek wat hy teenoor sy ma in ’n manipulerende brief toon wanneer hy eis dat sy ’n korrupte landdros kry om hom met borg te help.

Hy word in die hof as “jaloers”, “perfeksionisties”, “pynlik netjies” maar ook as een beskryf wat nie van struktuur en roetine hou nie. Daar word ook melding gemaak van sy paranoïese persoonlikheidstrekke, hoe hy voel dat ander hom te na kom, hoe hy homself altyd as die slagoffer beskou en hoe hy oorreageer. Hy word ook as ’n “skaamtelose patologiese leuenaar” in die hof beskryf.

Hoe, wonder mens, is dit moontlik dat die gevaartekens nie vroeër of betyds raakgesien is nie? Maar ongelukkig is ouers dikwels blind vir hul eie kinders se foute.

Ek verwag dat hierdie boek ’n blitsverkoper sal wees. Baie van ons toon mos maar ’n morbiede belangstelling in ware misdaadverhale. Ons wil weet hoekom dit gebeur. Lesers kan dan die waarheid saam met forensiese kenners ontleed.

Cilliers slaag daarin om feite sowel as gedramatiseerde weergawes gemaklik te vervleg sodat die boek soos ’n fiksieboek lees – wat natuurlik ’n groot kompliment vir ’n niefiksieskrywer is aangesien dit so maklik tot ’n koue, harde feitlike weergawe kan lei. Sy skryf met al haar sintuie oor die voorkoms, lyftaal en optrede van die ware karakters in die boek soos byvoorbeeld die privaatspeurder Chris Saunders se stem wat “rustig, diep en vaderlik” is en senior advokaat Johan Smit SC “se vlymskerp regsargumente wat hy soos wenkaarte op die tafel gooi”.

Veral aangrypend is die wyse waarop sy die drie geknakte ouerpare se smart uitbeeld en hoe die moorde hulle vir ewig verander het. Die slagoffers sowel as die oortreder se ouers kry bitter swaar. So dikwels word laasgenoemde beskinder, en soos uitgeworpenes behandel. Die stigma is onbeskryflik.

Die tonele waarin Mercia “byna biddend” aan haar enigste kind “Worsman” in die beskuldigdebank vasklou, versinnebeeld rou verdriet.

Ouers wie se kinders agter tralies is, gaan deur hel. Hulle wroeg oor die gevangenes se veiligheid en gesondheid en of hulle genoeg kos kry. Bylsma het 23 kg verloor maar nouja, ’n tronk is nie ’n vyfsterhotel nie.

Mens raak bewus van Cilliers se deernis vir Sharnelle se oupa tydens die verhoor. Sy skryf dit was die hardste slag wat hom in sy meer as agt dekades getref het. Die oupa meen dis eintlik genadig dat Sharnelle se ouma aan Alzheimer se siekte ly en nie hiervan bewus is nie.

Ek het groot respek vir die sensitiewe wyse waarop Cilliers die lykskouings onder die hoof: “Hul liggame praat” beskryf. Mens moet onthou dat die ouers moontlik ook die boek lees.

Mens het egter ook begrip vir Marna se pa, Stefans, wat so getraumatiseer met sy dogter se moord is dat hy ’n vuurwapen uitpluk en op Bylsma en sy pa, Monty, rig. Dit lek uit dat Monty weens die enorme regskostes sy plaas met al die roerende bates moet verkoop.

Maar vreemd genoeg – dit het ek met die slagoffers van plaasmoorde ervaar – is daar ook altyd die onverklaarbare krag van geloof en vergifnis. So vertel Marna se ma, die diep gelowige Rianet Engelbrecht, dat sy nie wrokkig is nie. Hoewel sy voor die vonnis byna “ingekonk” het, is daar lesse uit die tragedie te leer en gee dit ’n geleentheid vir geestelike getuienis, troos sy haarself.

Cilliers wat ook die skrywer van die topverkoper Huis van Gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel geskryf het, vestig haarself as ’n gerekende misdaad niefiksieskrywer. Die Stella-Moorde is in 33 kort hoofstukke opgeteken wat deurgaans boei. Haar deeglike agtergrond in koerant- sowel as tydskrifjoernalistiek is duidelik.