Op soek na Saartjie – Langenhoven se geheime liefde
Skrywer: Dominique Malherbe
Uitgewer: Tafelberg
Resensent: Carla van der Spuy
Niemand kon ’n geheim bewaar soos die oumense nie. Maar dan is dit ook ’n geval van waar daar ’n rokie trek, brand daar altyd ’n vuurtjie. Dis waarskynlik waarom die skrywer op so ’n uitgebreide soektog gegaan het om uit te vind presies wie haar omstrede groottante, Sarah Goldblatt, was. Sy meen daar is nie genoeg erkenning aan haar gegee vir die reusebydrae wat sy tot die Afrikaanse letterkunde gelewer het nie. Opspraakwekkender nog, was sy Langenhoven se intieme platoniese sielsgenoot of sy minnares? En het hulle werklik ’n “liefdeskind” gehad?
Malherbe hou nie baie van die wyse waarop Kannemeyer haar Joodse groottante in sy boek oor Langenhoven uitbeeld nie en meen dat die Kannemeyer-konteks Sarah ’n onguns bewys het. Daarom voel sy dat sy die reg het om die storie te vertel presies soos wat sy daarop afgekom het. Nougeset, tydrowend, stelselmatig en met byna dieselfde obsessiewe toewyding waarmee haar groottante Langenhoven se literêre erfenis probeer bewaar het. In uitgebreide reise en besoeke aan biblioteke en argiewe asook onderhoude met nasate, probeer sy om agter die kap van die byl te kom.
Dis duidelik dat Sarah wat ’n “Boerejood op steroïede” genoem is, ’n formidabele voorslag van ’n vrou was. Sy is ook onder meer as ’n “beheervraat”, “iesegrimmig” en ’n “dominerende diktator met min geduld vir dwaasheid” beskryf. Kort en geset met ’n klein stappie en voete en ’n veglustige postuur, erken Sarah self dat rooikoppe soos sy “nie te sagsinnig of sagmoedig van geaardheid” is nie.
Met Sarah se aankoms in 1897 op 9-jarige ouderdom in Suid-Afrika, kon sy slegs Jiddish en Engels praat. Dis duidelik dat dit Langenhoven se invloed later was wat haar so sterk met Afrikaners laat identifiseer het. Sy skryf aan ’n Joodse filosoof dat sy ’n gebore Jodin is en alles van die Jodedom weet, maar dat sy ook met elke vesel in haar liggaam Afrikaans is. Sy is later as die eksekuteur van Langenhoven se nalatenskap benoem en het sodoende ’n enorme bydrae tot die Afrikaanse letterkunde gelewer. Sy het ’n Langenhoven-industrie geskep.
Sy het almal georganiseer. En resultate gekry. Sulke mense is uit die aard van die saak nie altyd ewe gewild nie. Aan een van haar beste vriendinne, die skrywer Elsa Joubert, het sy gesê toe sy begin grys word: “Ek het nie altyd so gelyk nie. My hare was vlamrooi en ek was verlief.”
Mooi was sy nooit, sê Sarah self. Haar krag was haar wakker verstand, onblusbare geesdrif en lewensvreugde. In teenstelling hiermee was Vroutjie, volgens een van haar kinders, glo “pragtig op alle vlakke”.
Dit is vir die skrywer duidelik dat Sarah volkome toegewyd en smoorverlief op Langenhoven was. Sy het vir hom en sy werk geleef. Sy was “sy skaduwee en vlerke”. Volgens Sarah se vriendin, die skrywer M.E.R. was hulle gebore om saam te werk – “albei so skeermesskerp van verstand.”
Malherbe glo vas dat Langenhoven en Sarah ’n verhouding gehad het. Sy verwys dan ook na ’n artikel in die Sunday Express van 22 Mei 1975 wat lui dat Langenhoven 20 jaar lank ’n Joodse minnares gehad het. Guillaume Brümmer, kleinseun van Langenhoven, het glo ook vir Malherbe gesê hy weet van die “liefdeskind”. En dat dit ’n seun was. Maar dit was in ’n stadium toe sy geheue hom volgens sy dogter, Willemien, reeds in die steek gelaat het.
Wat mens veral verwar, is die gemoedelike verhouding tussen Sarah en Vroutjie oor wie Langenhoven glo dol was. Hy skryf aan Vroutjie dat geen man haar liewer kon gehad het as hy nie. Vroutjie was tien jaar ouer as hy en hy was 16 jaar ouer as Sarah. Vroutjie verwys in briefwisseling na Sarah (daar is blykbaar 175 briewe van Vroutjie aan Sarah tussen 1918 en 1944 as “My liewe sub” (Langenhoven se naam vir haar, sy het hom “Chief” genoem) en “my kind”. Is dit hoe mens jou man se “minnares” aanspreek? Of was Vroutjie nader aan ’n lankmoedige heilige? Sarah verskyn selfs op familiefoto’s saam met die Langenhovens.
Die skrywer vertel dat Sarah se briewe aan Langenhoven wat in die Stellenbosse Universiteitsbiblioteek gevind kon word, ’n breukdeel is van die wat sy waarskynlik geskryf het en dat sommige steeds in die Brümmer-familie se privaat besit is. Is daardie briewe dalk meer onthullend? Hoe sal ons weet? Want in 1925 skryf Langenhoven aan Sarah: “Maar ek kan nie vir jou skryf nie, want die een ding wat my hart van vol is, moet ek nie skryf nie.” Was hy moontlik tegelykertyd op twee vroue verlief?
Bespiegelinge is volop. Malherbe vertel dat haar ma op ’n dag vir haar gesê het dat Sarah ’n kind by Langenhoven gehad het en dat haar tante Naomi (Sarah se broerskind) daarvan geweet het. Die einste kind was glo ’n Dr. Van der Merwe. Maar hy was glo ongetroud en kinderloos en ook oorlede.
Hoe sou hulle dit geweet het? Of dat ’n jong man wat Sarah besoek het, dalk haar bloedkind was?
Nog meer verwarrend is die feit dat Sarah van die boot met die “pragtige kajuit en stewardess praat om vir die baba te help sorg” en oor hoe soet hy op die boot was. Wie se baba was dit? En sou sy wel ’n kind by Langenhoven gehad het, hoekom is die kind dan nie dadelik aangeneem nie? Was aannemings daardie jare nie meer geslote as wat vandag die geval is nie?
Malherbe meen sy het minstens ’n gedeelte van die storie gevind. Sy het immers soos ’n speurder elke moontlike beskikbare leidraad opgevolg. Daarvoor salueer ek haar.
Die boek wat kritiek van Wium van Zyl op Litnet en van Langenhoven se agter-kleindogter die joernalis, Willemien Brümmer, ontlok het wat die storie oor die “liefdeskind” as ’n “skinderstorie” beskryf het, het vir my ondanks die skrywer se moeite, meer vrae as antwoorde geskep. Maar dalk is dit juis wat van die hoofkarakters sulke geheimsinnige legendes maak. Die leser moet sy eie afleidings maak want die waarheid is waarskynlik saam met die twee graf toe. Willemien glo wel dat daar ’n verhouding was. So skryf sy oor ’n afgeluisterde gesprek dat Engela (Langenhoven en Vroutjie se enigste kind) haar ma gevra het hoekom sy bereid was “om alles te verduur” waarop sy geantwoord het: “Ek het hom liefgehad.”
Die skrywer toon uitsonderlike deursettingsvermoë in haar soektog na Saartjie en skep ’n deeglike karakterprentjie van Sarah. Dalk aard sy net na haar beroemde groottante.
Wie sal dit lees? Aanhangers van Langenhoven, Afrikaans, die letterkunde en les bes, nuuskierige agies.