Een maal ’n Affie, altyd ’n Affie

Deur Seugnet van Zyl

 

In ’n pragtige gedenkblad ter viering van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria se 100ste bestaansjaar, word dié skool se storie van ’n nederige begin in ’n huisie in Visagiestraat in 1920 tot een van die top skole in die land vandag, kleurryk vertel.

Die Afrikaanse Hoër Meisieskool vier hulle honderjarige bestaan met ‘n pragtige gedenkblad

 

Uitgesoekte gaste het op 2 Desember ’n “voorsmakie” gekry van hierdie langverwagte gedenkblad.

Die skool het reeds verlede jaar ’n eeu oud geword, maar weens die Covid 19-pandemie kon hulle dié groot mylpaal nog nie behoorlik vier nie. Weens hierdie rede, kon dié gedenkblad ook nog nie bekendgestel word nie.

Marna Jordaan, skoolhoof, sê: “Tradisies is vir ons ontsaglik belangrik, maar met hierdie gedenkblad het ons vars en nuut gedink. Ons fokus was om die hart van die skool oor te dra.”

In Affies Meisie se honderdjarige bestaan, is Jordaan die vyfde skoolhoof. Die FAK het haar in 2019 met die HB en MJ Thom Prestige-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding vereer.

Evelyn Verster, of “Ma Verster” soos baie haar geken het, was die eerste skoolhoof tussen 1930 en 1944. Haar opvolger was Elizabeth Steyn (Juffrou Steyn soos liefderik na haar verwys is) vanaf 1945 tot 1962. Steyn het 101 jaar oud geword. Daarna was Agnes Holtzhausen die hoof tussen 1964 en 1985.

Louisa Venter was vanaf 1986 tot 2007 aan die stuur van sake. Sy was ook die eerste oud-Affie wat ’n skoolhoof by haar alma mater geword het.

Jordaan het in 2008 die leisels by Venter oorgeneem.

Volgens Jordaan is Covid-19 ook nie die eerste pandemie wat dié skool omvergewerp het nie.

Hoofstukke word per dekade ingedeel, wat sowat 20 bladsye behels. Elkeen van hierdie vroue se bydrae en impak op die skool word vervolgens dan ook in hierdie onderskeie hoofstukke vervat. Een unieke kunswerk van die skool word per dekade beklemtoon, waar dié kunswerk en kunstenaar bespreek word. ’n Hele hoofstuk is ook aan 2020 self gewy.

In elke hoofstuk van die gedenkblad word een unieke kunswerk van die skool per dekade beklemtoon. Beide die kunswerk en kunstenaar word bespreek.

In elke hoofstuk word daar gefokus op die dekade se vernaamste gebeure (dit sluit plaaslike en internasionale gebeure in), statistiek, hoogtepunte, dit en datjies, waaroor die skoolmeisies in daardie betrokke era gepraat het en word dan met staaltjies afgesluit. Taalgebruik eie aan die eras vorm ook deel van die hoofstukke. Daar was byvoorbeeld voorheen na detensie as skoolsit verwys en na polio as kinderverlamming.

Heerlike staaltjies word in elke hoofstuk gedeel.

   

Prof. Marita Snyman, voormalige hoof van Lapa-uitgewers (deesdae deel van Penguin Random House) en ook voorheen professor in die departement inligtingskunde aan die Universiteit van Pretoria, is die redakteur van die boek.

Danielle Heyns, Louisa Slabbert en Annalette du Plessis, almal personeellede van dié skool, het die navorsing en skryfwerk behartig. Marhet Magnus het die pragboek uitgelê.

“Hierdie navorsing het ons só opgewonde gemaak. Wat ’n reis was dit nie? Ons het bly grawe en het op baie kleinode afgekom,” het Heyns vertel.

Louise Slabbert en Danielle Heyns met ‘n “voorsmakie” van die Afrikaanse Hoër Meisieskool se gedenkblad voor hulle. Slabbert en Heyns was deel van die navorsings- en skryfwerkspan van hierdie pragboek.

Volgens Heyns het hulle ook in hul navorsingsreis afgekom op die eerste bloudrukke van die skool en só uitgevind dat John Cleland die argitek was.

“Ons het dít vir die eerste keer uitgevind.”

John Cleland was die argitek gewees van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria.

Slabbert sê sy het letterlik haar pen opgetel en begin skryf toe hulle twee en half jaar gelede aan hierdie reusetaak begin werk het.

Ou skoolkoerante, jaarblaaie, waaronder ook dié van die Afrikaanse Hoër Seunskool van die eerste nege jaar van die skool se bestaan toe dit nog ’n gekombineerde skool was, en notules van die personeel, beheerliggaam en koshuispersoneel is gebruik om die gedenkblad saam te stel. Die oud-Affiebond en ander oud-Affies het ook bykomende inligting en staaltjies selfs via die skool se Facebook-blad verskaf.

Die boek sal op die skool se 102de verjaarsdag op 27 Januarie te koop wees.

AHMP-Eeufeesgedenkblad