#kouekoffie

Skrywer: Carla Lang

Uitgewer: Protea Boekhuis

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

 

Om kinders groot te maak, is nie kinderspeletjies nie. Om dan ook nog tussen die doekruilery te moet werk, is allesbehalwe ’n piekniek.

Baie ma’s van jong kinders sal jou vertel dat hulle dit nie sonder wyn kan doen nie. In Carla Lang se geval is dit meestal koffie. Soms wyn. Maar helaas, meestal koue koffie. #Kouekoffie is dan ook ’n gepaste titel vir hierdie boek.

Lang bied ’n humoristiese en soms roerende blik op die wel en wee van moederskap. Soos tereg op die agterplat genoem word: “As slaap en alleen piepie vir die voëls is, jy weke laas beenhare kon skeer, jy sukkel om in jou broeke te pas en push-up bra’s moet dra – o ja en gewoond is aan koue koffie – dan is hierdie rubriekbundel vir jou.”

Haar daaglikse roetine wentel om die chaotiese warrelwindlewe wat ’n vierjarige en ’n baba na die huishouding bring. Daar is vloermoere wat bedaar moet word totdat Pops se kleintongetjie nie meer sigbaar is nie en Boeta wat nie ’n tree wil versit sonder sy Spiderman-sambreel nie. En dan die alewige doeke …

“Snaaks,” vertel sy “hoe jou vierjarige die een dag ’n terroris kan wees en die volgende dag die oulikste, liefdevolste kind.”

Elke ma ken die gevoel as jou supermarktrollie propvol is en die kind wil skielik piepie en kan glad nie meer knyp nie. En die ongevraagde raad van hoogheilige ma’s in die winkel oor die noodsaaklikheid van langer borsvoeding as jy vir jou kind na 9 maande formule koop.

Oor haar baba wat slymerige slakke probeer eet, skryf sy tong in die kies: “Met die eerste kind jaag jy ongevalle toe, met die tweede spoel jy haar mond uit en met die derde een wonder jy of middagete nog nodig is.”

Met ’n hospitaalbesoek aan Oumagrootjie wat ’n heupvervanging gehad het, wil Boeta weet presies hoe haar heup “vasgesement” is. Dis vir hom die opwindendste ding ooit. Dit terwyl Pops die hospitaalvloer skoon lek.

Die kinders se huilsessies ontaard blykbaar gereeld in duette. As Boeta huil, dan huil Pops ook. “Sommer net vir die lekkerte,” skryf sy. En as hy ophou “gee Pops nog een of twee gille – die laaste stuiptrekkings – net om seker te maak ons hoor haar en weet van haar.”

Klein kinders is nie net drukkies en kuiltjies nie. Sy skryf dis mos net die goeie goed wat op sosiale media gedeel word. Kindertjies wat stroopsoet vir die kamera glimlag.

Soms hoor sy haarself op haar kinders gil en voel die irritasie. Sy is dankbaar vir vriendinne wat nie oordeel nie, verstaan, graag luister en eerlik daaroor is dat moederskap nie een lang stralende ervaring is nie.

Ma’s mag nie siek word nie. Regterhand neem tydig en ontydig verlof en die familie is ver. Geen village nie. En slaap, met apologie aan die digter “daardie wondersoete ding” bly jou ontglip.

Moet egter nie alleen voel as jy soms medikasie vir angs of depressie moet gebruik of al aan postnatale depressie gely het nie. Volgens Lang se navorsing is dit bykans die helfte van jong ma’s se voorland.

Sy kom tot die besef van die wysheid wat die woorde “Pick your battles” dra. Party dinge is ononderhandelbaar. Ander nie. Wat daarvan as haar kleuter 20 minute later gaan slaap en nie genoeg groente geëet het nie? Vir haar lyk hy springlewendig en gesond. En hoekom haar baba dwing om te slaap gedurende die dag as sy nie wil nie en haar ’n halfuur lank los om te skree? Hierdie motto werk vir haar en maak haar lewe soveel makliker.

Sy kom ook tot die gevolgtrekking dat omkoop nie ’n slegte ding is nie, maar ’n oorlewingsmeganisme.

Daarmee stem ek saam. In die grootmenswêreld kry jy mos ook net verhogings en bonusse as jy dit verdien, nie waar nie?

Interessante afdelings in die boek aan die einde van elke hoofstuk is: “Wat sê KoueKoffie ma’s?”

Soos byvoorbeeld, wat is vir jou die sexyste: ’n Man wat kan doekruil of ’n man met ’n six-pack? 98% verkies natuurlik ’n voorslag met ’n doek bo ’n spierpaleis.

Jong ma’s (en oumas wat nog nie aan geheueverlies ly nie) sal glimlag met die lees van dié eerlike boek. Dis pure déjà vu. Been there, done that.

Oor moederskap skryf sy immers: “Aangedryf deur liefde, aangevuur deur koffie, onderhou deur wyn.”

Nouja, wat kan mens sê?

Cheers op moederskap!