Ina vertel haar verhaal eenvoudig en reguit

Ina – ’n Verhaal van genade en genesing

Skrywer: Ina Bonnette

Uitgewer: LUCA (LAPA Uitgewers)

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Hoe kan een vrou soveel onmenslike wreedheid beleef en die moed kry om op te staan en haar verhaal aan ander te vertel om hulle te inspireer?

Ina Bonnette is ’n ystervrou. Die hele land is geruk toe die media wyd berig het oor hoe sy aangeval en gemartel is deur die Modimolle-monster en sy drie trawante. Haar liggaam is geskend, sy is herhaaldelik verkrag en haar liefling- en enigste seun, Conrad, is vermoor.

Tog het sy besluit om nie ’n slagoffer te wees nie. Haar verhaal is, soos op die omslag van hierdie boek beskryf word, die merkwaardige getuienis van ’n oorwinnaar. Al moes sy ondenkbare trauma, pyn en die lewensveranderende gevolge van daardie dag verduur.

Ina is deur diep waters. Haar eerste huwelik met die ontroue “Sam” (’n skuilnaam), was allesbehalwe ’n sprokie. Sy vertel hoe sy met slot en ketting uit haar huis gesluit is en twee nagte in haar motor moes slaap. Sy was so radeloos dat sy ’n hand vol pynpille gedrink het om die pyn te verdoof en met die hoop dat sy sou sterf omdat sy tot die dood toe lewensmoeg was. ’n Polisieman het verby haar motor gestap en gevra of sy oukei is. Sy het besef dat sy nie dood was nie.

Sy het swaar tye beleef en honger gely. Verwerping, leuens en teleurstelling en van haar kinders geskei. Byna haar hele salaris is deur huurgeld ingesluk. Daar was in ’n stadium net Ricoffy in haar koskas.

Min wetende dat die ergste nog vir haar sou voorlê.

Toe ontmoet sy die monster wat sy net op sy van noem. Kotzé. Dit was aanvanklik maanskyn en rose. Hy was sjarmant en het haar op die hande gedra.

Met haar werk moes sy baie reis en toe sy in ’n stadium byna gekaap is, het sy aan Kotzé gesê: “Ek vrees die dag dat ek nie uit so ’n situasie kom nie, as ek van die pad af getrek en moontlik verkrag word.”

Hierdie woorde was onheilspellend profeties.

Maar die “ridder” was tipies psigopaat, ’n slinkse en gewetenlose verhoogakteur. Hy was ’n beheervraat en het haar van haar ouers probeer vervreem. Hy het Conrad of enigeen wat in sy pad sou staan om met Ina te trou, met moord gedreig. Dreigemente en manipulasie het gevolg. Hy het selfs besluit wat sy moes aantrek. Sy moes buitendien in geselskap “gesien maar nie gehoor” word nie.

Toe Kotzé nie sy sin kry nie en sy besluit om hom te los, het hy die ondenkbare aanval op haar beplan en uitgevoer.

Sy vertel hoe hy op sadistiese wyse instrumente soos op ’n dokter se makabere operasietafel uitgestal het om haar mee te martel: ’n draadknipper, ’n geroeste saaglem, spykers, ’n papierklip van staal en staaldruppels.

Gelukkig word die aanval nie in grafiese besonderhede beskryf nie. Dis ook nie nodig nie, want dit wat sy vertel, laat jou reeds sidder.

En toe hoor sy drie skote. Haar seun is koelbloedig doodgeskiet.

So ’n ervaring sou talle vroue na ’n psigiatriese hospitaal of selfdood dryf. Nie Ina nie.

Kort ná die aanval het sy besluit dat sy twee keuses het: Sy kan gaan lê of sy kan teen Kotzé opstaan. Sy sou nie toelaat dat die Modimolle-monster, deur die hele land gehaat, haar stukkende lewe verder verwoes nie.

Bloedsweettye het gevolg. Sy moes soms werk toe loop omdat haar brandstof opgeraak het. En sy moes weereens die gewelddadige aanval in pynlike besonderhede tydens Kotzé se verhoor herleef. Uitmergelend.

Dis bekend dat min vroue die moed daarvoor het omdat dit voel asof hulle weer “van voor af verkrag word”, maar sy het deurgedruk ter wille van geregtigheid vir haar vermoorde seun. Sy is dan ook as ’n sterk getuie beskryf. Nooit het sy van haar feite afgewyk nie. Kotzé is ’n effektiewe vonnis van 25 jaar tronkstraf opgelê. Myns insiens hopeloos te min.

Ina is ’n diep gelowige vrou en dis duidelik dat haar geloof ’n kardinale rol in haar pad na genesing vertolk het. Sy moet een van die sterkste vroue wees oor wie ek tot nog toe gelees het. Dit kan nie maklik wees as die hele land van jou grootste vernedering bewus is nie.

Maar soos sy sê, sy wou aan ander slagoffers wys dat dit die moeite werd is. Dat geen slagoffer skaam moet wees of stilbly nie, want hul aanvallers moet uit die samelewing verwyder word.

Haar woorde is: “Veg vir jou regte en moenie swyg nie.”

Veral interessant vir my is die hoofstuk getiteld: “Narsis of psigopaat?” wat deur die bekende kriminoloog, prof. Christiaan Bezuidenhout, geskryf is. Hy wys op die verskille maar ook op die ooreenkomste tussen die twee. Dis ooglopend dat Kotzé ’n volslae psigopaat is. As vroue maar net voorkennis hiervan gehad het voor hulle afhaak.

Daar is ook ’n hoofstuk deur Ina se dogter, Angelique, geskryf waarin mens meer insae in Ina se karakter kry.

Die hoofstuk wat Rhona van Niekerk, ’n kliniese maatskaplike werker en kriminoloog, onder die opskrif “Toerusting teen trauma” geskryf het, kan vir baie traumaslagoffers van waarde wees.

Ina vertel haar verhaal eenvoudig en reguit. So hoop sy om ander vroue met ’n moedige boodskap van hoop, genesing en oorwinning te inspireer. Daarin het sy geslaag.

Ek salueer haar.