Bevat al die elemente van tragedie tot verbode liefde, verwerping, wreedheid en patos

Grootgeluk

Skrywer: Jan van Tonder

Uitgewer: Human en Rousseau

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Moet jou nie deur die ironiese titel laat mislei nie. Grootgeluk bevat al die elemente van tragedie tot verbode liefde, verwerping, wreedheid en patos. Nie almal is stralend van geluk op Grootgeluk nie.

Dié historiese roman speel af vanaf die 1850’s tot 1914, ’n onstuimige era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dis ’n tydperk van ossewaens, kapkarre, treppies, verewaens, vierperdekarre, perde, donkies, muile, osse en die opkoms en ondergang van die verebedryf. En die landskap is die Klein Karoo, hartskontrei van die skrywer.

Van Tonder is ’n bekroonde topverkoperskrywer wat veral bekend is vir Roepman en Die Verevrou wat al vir verskeie literêre pryse benoem is. Roepman is dan ook verfilm en was ’n groot treffer.

In ’n neutedop gaan die storie oor Tijs Velaat wat op die plaas Grootgeluk in die distrik Oudtshoorn gebore is. Hy moet voorgee dat hy stom is. Die gedagte is dat hy op hierdie wyse hopelik die hef in die hand kry, sodat sy lewenslot dalk net anders as dié van ander werksmense op die plaas verloop.

Tijs en sy ma woon naby die deftige Schoemans se opstal. En soos so dikwels met werknemers die geval is, beskik hulle oor eerstehandse inligting oor die ryk eienaars se wel en wee, familievetes en donker geheime. Tijs raak selfs ’n ooggetuie van dinge wat heeltemal taboe moet wees.

Moenie dink mense was so kuis in “die goeie ou dae” nie. Daar is behoorlik onder daardie lang rokke en vroom voorkoms gewoeker met die wellus van die lyf. Hulle was net meer skynheilig as wat vandag die geval is.

As Maria, die eienaar se enigste kind, op ’n Skotse beeldhouer verlief raak, loop die lewe verkeerde en onvoorspelbare paaie. Twee seuns vind eers laat in hul lewe uit wie hulle werklik is en waar hulle vandaan kom.

Dit is interessant dat Van Tonder om die beurt van twee vertellers gebruik maak; twee mense uit twee verskillende wêrelde, selfs al leef hulle so na aan mekaar maar nogtans apart; naamlik Tijs Velaat en Hendriena, die onverbiddelike Andries Schoeman se vrou. Onderdanig-eerbiedige terme soos “Baas”, “Kleinnooi” en “Mies” was aan die orde van die dag. Tog is daar die paradoks rondom intieme deelgenote enersyds en verskeurdheid aan die ander kant.

Die toeganklikheid van die roman kan toegeskryf word aan die onvergeetlike karakters wat jou om die beurt skok, verras en jou selfs met die soort vooroordeel en rassisme konfronteer wat al ’n lang pad in ons land se geskiedenis kom. Die veelvlakkige karakters ontwikkel voortdurend en dit lei daartoe dat die leser se emosies oor die karakters ook verander. Geeneen is heeltemal van onbesproke karakter en sonder integriteit nie.

Van Tonder maak van lieflike beskrywings gebruik soos: “Van alle soorte mense wat geskape is, moet dit vir ’n Skotsman wees wat Maria haar wimpers laat sak”, “by die huis loop hy stywebeen soos ’n sekretarisvoël saam met Maria voordeur toe”, “soos ’n taaibekperd byt Mame stang vas” en “sy kwyn soos ’n uitlandse blom wat Oudtshoorn se son nie ken nie.” En dan: “dit is so stil geword dat mens die dooies in die begraafplaas neffens die plein kan hoor omdraai.”

Hy maak ook van baie uitdrukkings gebruik wat die kontrei weerspieël soos byvoorbeeld: “Soos sy daar staan, lyk sy hangvlerk soos ’n volstruis op ’n warm dag” en “Hy sal uitstaan soos ’n struiskuiken met ’n omgedopte poephol.”

Mens lag soms hardop vir die droë humor soos wanneer Tijs aan die “overledene” dink wat “ver van oorlede af gelyk het” in die jong dame se kooi.

Van Tonder verval nie in die slaggat van sentimentaliteit of stereotipes nie. Wat my die meeste beïndruk, is sy diep verstaan van die psige van die vrou sonder om hulle te verromantiseer. Van hulle soos die Jodin Raizel – ’n paar lesers se gunstelingkarakter – is nogal heel aweregs vir daardie tydperk.

Van Tonder vertel dan ook tydens ’n onderhoud met Elsabé Brits vir Graffiti Books & Stationary in Graffiti Junction, dat hy in ’n huis met vyf susters, ’n ma, ’n ouma en ’n huiswerker grootgeword het. Vandaar die insig.

Mens kan skaars glo dat Van Tonder 30 jaar gelede aan die boek begin skryf het, die manuskrip telkens weggegooi het en van voor af begin het.

Wel liewer laat as nooit!

Hy kén die omgewing waaroor hy skryf omdat hy self daar gewoon het en oor eerstehandse ervaring daarvan beskik. Dis altyd tot ’n skrywer se voordeel.

Die moeite wat hy met sy navorsing gedoen het, het vrugte afgewerp. So het dit hom twee maande gekos om iedere uitgawe van die Oudtshoorn Courant en Het Zuid-Western wat tussen 1879 en 1914 verskyn het van voor tot agter deur te werk, advertensies en grappies inkluis. Hierdie gemeenskapskoerante het hom ’n goeie insig in die destydse lewe op Oudtshoorn gegee.

Ek is nie verbaas dat die boek so goed ontvang is nie. Lofbetuigings is volop.

Grootgeluk was vir my “onsitneerbaar” meesleurend en die skuld vir die swart pandabeerkringe om my oë. Jy sterf van nuuskierigheid oor wat met die karakters gaan gebeur.

Verskeie kenners het al voorspel dat Grootgeluk dalk net die roman van 2021 is. Soos Joan Hambidge oor Grootgeluk skryf: “Van Tonder is ’n meester in subtiliteit en suggestie.”

Netso!