FAK en gemeenskap van Graaff-Reinet omarm steeds die storie van Gideon Scheepers

Deur Seugnet van Zyl

Gideon Jacobus Scheepers is op 18 Januarie 120 jaar gelede op die ouderdom van 23 voor ’n vuurpeleton in Graaff-Reinet vir beweerde oorlogsmisdade tereggestel. Hy was ’n militêre leier, verkenner en heliograaf in die Anglo-Boereoorlog (ABO) en het gedien onder generaal Christiaan de Wet.

Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Oos-Kaap, vertel lede van die FAK-Kultuurnetwerk in Graaff-Reinet, die plaaslike Rapportryerkorps en mense uit die gemeenskap het vanjaar op die dag van Scheepers se dood saam stil geword by die Gideon Scheepers-monument langs die Murraypad buite die dorp. Scheepers is sowat 100 m van waar dié monument opgerig is, tereggestel.

Lede van die FAK-Kultuurnetwerk op Graaff-Reinet en ander inwoners kom op die 120ste herdenking van die die dood van Gideon Scheepers byeen by die monument net buite die dorp.

“Gideon Scheepers is deur ’n Britse militêre hof skuldig bevind en gevonnis om tereggestel te word. Die vonnis is voltrek maar sy liggaam is op ’n onbekende plek begrawe. Sy teregstelling, ná ’n twyfelagtige verhoor, het mense nie net in Suid-Afrika geskok nie, maar ook wyd reaksie in die buiteland ontlok. Sy lyk is in ’n onbekende graf begrawe en nooit gevind nie. Ten spyte van herhaalde vertoë dat die ligging van sy graf bekend gemaak word, het dit nooit gebeur nie en sterf sy moeder jare later sonder om te weet waar haar kind begrawe is.”

Luidens die FAK se Afrikanergeskiedenis-webblad is Gideon Jacobus Scheepers op 4 April 1878 in Middelburg in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gebore en het in die ouderdom van 16 jaar ’n heliografis by die ZAR-staatsartillerie geword. Hy is in 1897 tot korporaal bevorder en nadat hy die volgende jaar na die Oranje Vrystaat Artillerie gesekondeer is, na sersant.

Kommandant Gideon Scheepers

Toe die Anglo-Boereoorlog uitgebreek het, het hy die Vrystaatse kommando’s na die wesgrens vergesel. Genl. Christiaan de Wet het Scheepers as rapportryer gebruik en nadat hy Scheepers tot kaptein bevorder het, het hy Scheepers in bevel van sy eie verkennerskorps geplaas.

In Desember 1900 het Scheepers op bevel van kommandant Kritzinger die Kaapkolonie binnegegaan. Nadat hy Kaapse rebelle gewerf het, is Scheepers op 22-jarige ouderdom tot kommandant bevorder; hy was in bevel van ’n 150-maneenheid wat bekendgestaan het as die Witkoppenkommando na aanleiding van die wit bande om hul hoede. Dié kommando het veral sukses behaal met die sabotasie van spoor- en telegraafverbindings in die Oos-Kaap terwyl hinderlae die Britse troepe verliese toegedien het. Scheepers se heldhaftige optrede is in dié skermutselings ten toon gestel en sy teenwoordigheid in die Kaapkolonie het meegebring dat baie Kapenaars by die Boeremagte teen die Engelse aangesluit het. Gedurende die eerste helfte van 1901 was Murraysburg ’n veilige hawe vir die Boerekrygers omdat daar nie genoeg mense uit die dorp was wat met die beskerming daarvan wou help nie. Op 27 Junie 1901 het Scheepers aan die burgemeester van die dorp gesê dat hy alle openbare kantore sou afbrand as die Britte nie die dorp binne agt dae in garnisoen sou lê nie. Die Britte het nie op die dreigement gereageer nie en op 6 Julie is verskeie geboue, onder meer die openbare kantoor, poskantoor, hoofkonstabel se kantoor, ’n winkel en ’n huis aan die brand gesteek.

Scheepers het tereg gestaan op sestien aanklagte, waaronder brandstigting, moord, poging tot moord en saakbeskadiging. Die hofverrigtinge is voor die einde van 1901 afgehandel. Die oorkonde is na die Judge Advocate General gestuur vir sy beslissing en na Lord Kitchener vir bevestiging. Op 17 Januarie 1902 is Scheepers op elke aanklag, met een uitsondering, skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die volgende dag is hy geblinddoek en aan ’n stoel vasgemaak waarna hy gefusilleer is. Die Britte het geweier om sy stoflike oorskot te oorhandig omdat hulle wou keer dat Scheepers as ’n held begrawe sou word. Sy teregstelling is wyd veroordeel, veral omdat hy deurgaans aangevoer het dat hy die bevele van hoër offisiere uitgevoer het.

Neil Schreuder van die plaaslike Rapportryerskorps het Dinsdag die skriflesing gedoen en Theo Dorfling, skoolhoof van die Hoër Volkskool op Graaff Reinet, ’n gebed. Elri (8) en Jani Pretorius (9), twee sussies van die Laer Volkskool het saam met Johan Dames, lid van die FAK-Graaff-Reinet-Kultuurnetwerk, ’n krans namens die FAK by dié monument neergelê.

Elri (8) en Jani Pretorius (9), twee sussies van die Laer Volkskool in Graaff-Reinet, by die krans wat hulle namens die FAK by die monument ter nagedagtenis aan Gideon Scheepers net buite die dorp neergelê het.

Paul van den Berg en sy vrou Connie was ook teenwoordig saam met ander inwoners van die dorp.

“Oom Paul ken die verhaal van Gideon Scheepers. Sy verbintenis met hierdie verhaal van Gideon Scheepers kom van die dae toe hy as jongman een van die draers was by die begrafnis van Scheepers se moeder,” sê Smith.

Van den Berg het vir meer as 20 jaar jaarliks ’n gedenkgeleentheid vir Scheepers op Graaff-Reinet gereël.

Paul van den Berg en sy vrou, Connie, by die Gideon Scheepers-monument net buite Graaff-Reinet op die 120ste herdenking van Scheepers se dood.

Volgens Smith is dit opvallend hoe dié dorpsmense Scheepers se nalatenskap lewendig hou.

“Sy nalatenskap word sigbaar na gekyk in die dorp. Die gemeenskap omarm hulle om die Gideon Scheepers-storie. As jy vandag op Graaff-Reinet kom, is daar ’n geweldige bewustheid van Scheepers en daar is soveel plekke waarvan jy van hom bewus raak.”

Smith verwys onder meer na die Gideon Scheepers-monument self.

Die monument net buite Graaff-Reinet ter nagedagtenis aan Gideon Scheepers, wat sowat 100 m daarvandaan 120 jaar gelede tereggestel is.

“In die dorp op die hoek van Donkin- en Somersetstraat staan die Anglo-Boereoorlog-standbeeld, ’n huldeblyk aan agt Boeresoldate wat tydens die Anglo-Boereoorlog op die kerkplein in Graaff-Reinet tereggestel is. Die beeld bestaan uit ’n staande figuur met ’n geweer en ’n gestorwe soldaat. Die beeldhouer het die gesig van genl. Christiaan de Wet gebruik vir die staande figuur en Gideon Scheepers, een van sy baie bekwame verkenners, se gesig vir die gestorwe soldaat.

“In die begraafplaas is daar ook ’n steentjie vir Scheepers opgerig al is sy gebeendere nie daar nie. Die ander sewe Boeresoldate wat tydens die ABO tereggestel is, is daar begrawe. Hulle is een graf begrawe. Later jare is die grafsteen vir Scheepers bygesit.

“Juis daarom is dit vir die FAK ook belangrik om Gideon Scheepers se nalatenskap te vereer,” sê sy.

  • Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het in 2019 ter viering van sy 90ste bestaansjaar besluit om kultuurrade, oftewel kultuurnetwerke soos hulle nou bekend staan, weer tot stand te bring.

Daar is nou al meer as 20 FAK-Kultuurnetwerke landwyd.