Veldhospitaal 12
Skrywer: Marinda van Zyl
Uitgewer: Tafelberg
Resensent: Carla van der Spuy
Ons wil tog so graag almal van adellikes afstam. Maar doen jy behoorlik ondersoek na jou oorgrootjies, kan die geraamtes in die kas dalk net begin rammel, ratel en raas.
Stel jou voor dat jy ’n heel eerbare bestaan voer en altyd vertel is dat jy ’n afstammeling van ’n beroemde Boeregeneraal is. Maar dan vind jy deur middel van dagboeke en briewe in ’n koekblik op ’n plaashuis se solder uit dat daar ’n skarlakenvrou en ’n koppesneller onder jou voorsate was! (Laasgenoemde is aldus Wikipedia ’n praktyk onder oorlogsugtige volke om die koppe van verslane vyande as trofee te gebruik.) In hierdie geval is die koppe van krygsgevangenes vir grusame mediese navorsing op die berugte Haai Eiland in Lüderitzbucht gebruik.
Veldhospitaal 12 is ’n boeiende boek wat gaan oor ’n Duitse mediese student, Helmut, wat in 1905 sy professor wat seksuele toenadering by hom soek, te lyf gaan. Die professor neem wraak deur vir hom ’n druippunt te gee. Helmut se onverbiddelike ouers straf hom deur sy studie te laat beëindig. Sy pa boots sy handtekening op ’n kontrak na waarin Helmut verbind word om vir twee jaar die Duitse mediese korps in die destydse Duits-Suidwes (Namibië) by te staan as mediese ordonnans.
So word hy getuie van ’n dokter in bevel wat hom verdiep in die studie van Afrikamense deur hul lyke te onthoof, die skedels te laat skoonskraap en die breine te weeg. ’n Bisarre soektog na die “verlore skakel.” ’n Praktyk wat later wyd veroordeel is.
Jy lees van ’n genadelose wêreld van sand, wind en stank met snerpende koue, mensvreterhaaie, verhongerde, ontwaterde en sterwende krygsgevangenes met longontsteking wat met kettings om hul nekke aan mekaar vasgemaak word.
Helmut se werk bestaan uit kadawers en outopsies en hy kry die naam “Slagter van Haai Eiland.” Hereros en Namas is die slagoffers. Hulle word geslag en in bottels “ingelê”.
As jy daagliks ’n deel aan sulke makabere praktyke het, rafel jy soms uit met die gebruik van opium en sterk drank om die gewete te sus. Jou hart gaan uit na Helmut wat voel dat sy ouers sy siel verkoop het. Hy bevind hom in ’n hel. Magteloos.
Sy behoud is die briewe aan en van sy geliefde Grete, sy gesin se huishoudster. Maar die storie kry ’n verrassende kinkel wat lesers self moet waarneem. Ook wat sy liefdesverhoudings met ’n Afrikaanse boeremeisie en ’n Namameisie betref.
Van die karakters in hierdie historiese verhaal het werklik bestaan. Maar die skrywer vertel dat sy fiktiewe karakters saam met die historiese mense gebruik om die verhaallyn te dra.
Sy het behoorlik navorsing gedoen oor die lewensomstandighede van en vergrype teenoor die krygsgevangenes wat op dokumentêre bewyse gegrond is.
Een van haar bronne se titel val mens veral op, naamlik The Kaiser’s Holocaust – Germany’s forgotten genocide.
Die gebeure herinner baie aan die volksmoord en dodekampe waarvoor die Nazi’s later so berug was. Wreed en sadisties.
Grusaam? Inderdaad. Maar die boek (nie vir sensitiewe siele nie) hou mens vasgenael omdat die karakters, veral die hoofkarakter met sy morele dilemma – soms wroegend en soms losbandig – jou nie wil los nie.
Sekere dele van die geskiedenis wat soos besoekers aan Shark Island op YouTube vertel, verswyg word en waaroor daar “geheueverlies” is, moet egter oopgeskryf word. Nes al dekades lank met die Holocaust gedoen word.
Sodat dit nooit weer sal gebeur nie.