Propvol spanning, intrige en onvoorspelbaarheid

Vlug

Skrywer: Wilna Adriaanse

Uitgewer: Tafelberg

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Die treffende voorblad met die woorde: “Hoe vlug jy as jy nie weet waar die vyand is nie?” trek die nuuskierige leser dadelik in.

Die agterplat lui dat die verhaal oor ’n veearts, Milla Roux, gaan wat na ’n groot persoonlike tragedie in Suid-Afrika by ’n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die Demokratiese Republiek van die Kongo beland. Dit word vir haar ’n toevlugsoord waar sy haar hart en siel in haar werk stort. Sy glo hulle kan ’n wesenlike verskil maak in die voortbestaan van ’n spesie waarvan die getalle drasties krimp. Die doel van die sentrum is om soveel as moontlik van die sjimpansees te red en hulle dan terug in die natuur te plaas.

Dis egter allesbehalwe idilliese toeriste-brosjure Afrika, want wanneer skermutselinge tussen regeringstroepe en rebelle-organisasies van die hele omgewing ’n gevaarsone maak, is ook die rehabilitasiesentrum in die kruisvuur. ’n Gewonde Milla moet met drie klein sjimpansee-wesies op die vlug slaan, vergesel deur die enigmatiese en adrenalienbelaaide dokter Graham Saunders van Médecines Sans Frontières wat van sy eie problematiese verlede probeer ontsnap. Hulle persoonlikhede verskil hemelbreed en hulle is boonop so te sê vreemdelinge vir mekaar.

Benewens die lewensgevaar waarin hulle verkeer, aanskou hulle ook hartverskeurende hongersnood en beleef magtelose emosies omdat mens nie almal kan help nie.

Tydens hul vlug beland Milla en Graham in die kruisvuur. Daar is Ebolageteisterde gebiede, hulle aanskou klein nedersettings met lyke, huise in ligtelaaie, uitgebrande voertuie en sarsies geweervuur. Dis ’n slagting.

En ’n reis met onverwagte wendings. ’n “Gekkereis” met die sjimpansee babas wat stil gehou, gevoed, skoongemaak en oor grense gesmokkel moet word.

Hulle is vuil, moeg, styf en gatvol. Milla se hare hang in vuil toutjies. Slegter kan dit nie gaan nie.

Die sterk karakters in Vlug is mense van vlees en bloed. Nie heiliges nie.

Adriaanse swymel nie oor Graham nie. Soos sy in ’n aanlyn onderhoud vir Graffiti aan Phyllis Green vertel, is Graham “’n klein bietjie held en ’n klein bietjie anti-held.”

Sy skryf haar oortuigende manlike hoofkarakter toe aan die feit dat daar soveel mans/seuns in haar familie is.

Verskeie temas word in die boek aangespreek of raakgelees. Soos of ’n mens of dier se lewe belangriker is. Graham red mense en Milla red diere, maar beide het empatie met albei spesies. Milla het ’n besondere band met diere en vra dat as daar tussen haar lewe en dié van die sjimpansees gekies moet word, húlle eerder gered moet word. Daar is immers reeds te veel mense op die planeet en dis belangrik om wilde diere te bewaar.

Mens besef dat die skrywer wat in Botswana woon ’n natuurliefhebber en Afrika-mens is. Sy beleef Afrika eerstehands. Haar navorsing het met informele gesprekke begin omdat sy baie op lughawens kom waar sy met medepassasiers aan die gesels raak, waarna sy oor die temas gaan oplees het.

Tog oorheers die navorsing nie die verhaal nie. Inteendeel. Die fokus is eerder op die hoofkarakters. Uiteindelik gaan die verhaal oor ’n uiterlike sowel as ’n innerlike reis.

Albei dra ’n soort skuldlas. In Milla se geval sal sielkundiges dalk selfs van “oorlewingskuld” kan praat nadat haar geliefdes deel van Suid-Afrika se misdaadstatistiek geword het.

Nog ’n tema wat in die boek aangespreek word, is die diaspora. Afrika wemel van Westerlinge. Mense wat elders gebore is. Party kom weens humanistiese redes en om ’n verskil te maak, terwyl ander kansvatters is wat hulself net wil verryk. Maar al pas jy hoe goed aan en al gee jy jou alles – jy bly steeds ’n buitestaander.

En jy moet ook nie jou mond te veel uitspoel oor dinge wat jou nie in Afrika aanstaan nie. Jy kan immers vlug as die wêreld vir jou te warm word. Terug huis toe terwyl die ander agterbly.

So lui ’n gedig getiteld “Diaspora Blues”, heel gepas voor in die boek:

So,

Here you are

Too foreign for home

Too foreign for here

Never enough for both.

Ijeoma Omebinyuo.

Die skrywer het met opset die Covid-pandemie uitgelaat.

Dankie tog! Ons ly almal aan ’n Covid-oordosis en daar is oorgenoeg ander dramas in die boek.

Vlug is propvol spanning, intrige en onvoorspelbaarheid. Nommerpas vir lesers wat op ’n wilde avontuur wat in ’n woeste wêreld afspeel, wil wegbreek.