Die geskiedenis van Pretoria: Van vroegste tye tot hoofstad en Jakarandastad
Skrywer: Anton Carl van Vollenhoven
Uitgewer: FAK
Resensent: Francois Bekker
Nog ’n boek oor Pretoria sal sommige lesers vra? Gelukkig ja, is die antwoord.
Anton Carl van Vollenhoven kry juis met ’n anderste aanslag iets reg sodat hierdie publikasie verskil van vele ander oor die onderwerp. Die stad se geskiedenis word as’t ware in ’n neutedop – die boek beslaan maar 72 bladsye – onder die vergrootglas geplaas. ’n Publikasie wat ek as ’n tydlyngebaseerde werk beskou met net genoeg inligting en feite wat die leser aan die lees hou en nuuskierig genoeg sal maak om meer oor die stad te wete te kom deur verdere leeswerk.
Prof. Anton van Vollenhoven tydens die bekendstelling van sy boek oor Pretoria, Die geskiedenis van Pretoria: van vroegste tye tot hoofstad en Jakarandastad, verlede jaar.
Vanuit ’n geologiese oogpunt is dit insiggewend om te sien waarom die gebied waar die stad ontstaan het, die natuurlike omgewing dus, homself daartoe geleen het tot menslike bedrywigheid.
Wat dan deeglik aan die bod kom, is die prehistoriese tydperk wat die omgewing se Steen- sowel as Ystertydperk onder die loep neem. Dit word gevolg deur die historiese tydperk, met ander woorde die beskikbaarheid van historiese bronne omrede mense op die toneel verskyn het wat oor die vermoë van skrif beskik het.
Baie interessant is die aanduiding van die eerste wit pioniers wat hulle in die gebied gevestig het. Van Vollenhoven se deeglike navorsing en soeke na historiese egtheid noop hom om dit deurgaans duidelik te maak dat inligting oor wie inderdaad eerste ’n huis hier sou bou – dit word algemeen aanvaar dat Lucas Bonkhorst die eerste persoon was – krities beskou moet word weens gebrek aan voldoende bewyse. Die storie rondom die Bronkhorst-broers, die gebied wat vandag as Fonteinedal bekend staan en die eerste natuurreservaat op die vaste land is egter by uitstek interessant.
Wat uiters insiggewend is, is die 1841-Rapport wat die plase en hul onderskeie eienaars in die Pretoria omgewing aandui.
Hoofstuk 5 kyk na die latere historiese tydvak van Pretoria. Dit sluit in die vestiging van ’n kerksetel in 1854 met ’n kerk op die plek wat vandag as Kerkplein bekend staan. Hoe dit gebeur het dat Pretoria die hoofstad van die ZAR sou word en die verskeie rolspelers hierby betrokke. Daar is soveel interessante feite – te veel om hier op te noem – wat bondig geboekstaaf word. Soos die feit dat Pretoria in 1894 ’n elektrisiteitstelsel gekry het. Op bladsye 94 en 95 is ’n nuttige tydlyn wat strek van die Steentydperk (1 miljoen jaar gelede) tot by die punt waar die Stad Tshwane in 2000 tot stand gekom het. Van Tshwane gepraat – die waarskynlikheid dat daar ’n persoon met die naam Tshwane was na wie die stad vernoem is, word deeglik onder die vergrootglas geplaas.
Die publikasie word kleurvol en interessant afgesluit met ’n kykie na die geskiedenis van die jakarandabome wat die karakter en siel van die stad vandag nog onderlê.
Hierdie nuttige publikasie wat die interessante geskiedenis van die land se hoofstad in ’n neutedop saamvat, strek sowel die skrywer as die FAK tot eer. Verpligte leesstof vir almal wat hierdie stad as hul tuiste beskou.
Die geskiedenis van Pretoria: van vroegste tye tot hoofstad en Jakarandastad is by die FAK, Graffitti Books & Stationary en Protea Boekhuis te koop. Stuur vir Izelle ‘n e-pos by: izelle@kultuurtuiste.org.za as jy hierdie boek by die FAK wil aankoop.