FAK en gemeenskap klaar water op by Heilbron-konsentrasiekampkerkhof

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het dadelik in samewerking met Die Erfenisstigting en AfriForum aan die werk gespring om ’n einde aan die dam water by die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas in die Vrystaat, wat vir die soveelste keer ná die onlangse baie reën in dié provinsie oorstroom het, te maak.

Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) is 1 124 bejaardes, vroue en kinders in hierdie konsentrasiekamp oorlede.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van die FAK se Kultuurnetwerke in die Vrystaat, het dadelik Woensdag (26 Januarie) in sy motor gespring toe hy die nuus gehoor het.

“Ek het van die gemors gehoor by die Heilbron-konsentrasiekamp deur ’n baie bekommerde inwoner, Quarta Pretorius. Sy is sedert 1998 al betrokke by hierdie konsentrasiekamp. Dié kamp lê haar en die gemeenskap baie na aan die hart.”

Na onlangse reën in Heilbron in die Vrystaat, het die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas oorstroom.

Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) is 1 124 bejaardes, vroue en kinders in hierdie konsentrasiekamp oorlede.

Malan het in die tussentyd Die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument in Pretoria en AfriForum onder meer om regshulp en erfenisbewaringswetgewing genader.

“Dit is absoluut onaanvaarbaar dat ons erfenis so vernietig word. Ons moet ingryp. Dit is hoekom die FAK daar is. Ons is ’n waghond wat sorg dat ons daar is in tye van nood. Ons maak seker dat die probleem aangespreek word en trek gemeenskappe en kultuurbewaringsorganisasies bymekaar om dit te op te los en te bewaar.”

Danie Knoetze, ’n inwoner, het ’n waterpomp beskikbaar gestel om “die dam water” te begin uitpomp.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van die FAK se Kultuurnetwerke in die Vrystaat, en Danie Knoetze, ‘n inwoner van Heilbron, maak reg om die water by die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas te begin uitpomp.

Malan en Knoetze sal Donderdag met meer mannekrag terugkeer met nog waterpompe en kragopwekkers om die duisende liters water op te klaar. Die FAK wil ook goedkeuring by die plaaslike munisipaliteit bekom om ’n dreineringstelsel by die Heilbron-begraafplaas aan te lê om ’n einde aan dié waterprobleem te maak.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van die FAK se Kultuurnetwerke in die Vrystaat, en Danie Knoetze, ‘n inwoner van Heilbron, en Samuel Mudupi begin om die water by die Heilbron-konsentrasiekampbegraafplaas uit te pomp.

Volgens Quarta Pretorius is daar aan twee kante van die Heilbron-begraafplaas persone in ongemerkte grafte begrawe. Die konsentrasiekampkerkhof is in die middel van dié begraafplaas.

“Die onwettige grafhope het veroorsaak dat die water nie kan wegloop nie en nou het dit ’n dam gevorm.”

Sy sê die plaaslike Ngwathe-munisipaliteit het in 2010 gesê dat die Heilbron-begraafplaas vol is en gevolglik is ’n nuwe begraafplaas op die Deneysville-pad aan die munisipaliteit toegeken.

Alta Pretorius, AfriForum-streekskoördineerder van die Mooirivier-streek waaronder Heilbron ook val, gaan dié saak nou verder met dié munisipaliteit bespreek, want “dit moet nou tot ’n punt kom”.