FAK herdenk genl. De Wet se nalatenskap

Vandag, op die honderdste herdenking van genl. Christiaan de Wet se sterfdag, bring die FAK hulde aan hierdie Vrystaatse burger wat onder meer ook hoofgeneraal en president van die Oranje Vrystaat was.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê: “Dit is ’n voorreg om hulde te bring aan ’n man wat onthou word deur vriend en vyand vir sy getrouheid aan sy saak. Dit is ’n les wat ons gerus kan onthou om fokus te behou en getrou te wees waaraan ons glo. Dié onthou gee weer vir ons fokus om op te bou tydens 2022.”

“Genl. De Wet was voorwaar ’n man wat beïndruk het en wie se vryheidstrewe selfs vandag nog ’n voorbeeld is. Tydens die ondertekening van die Vredesverdrag op 31 Mei 1902 het Lord Milner vir dié generaal ‘Sir Dewet’ genoem. Ons generaal het kalm geantwoord: ‘Yes, General Milner’. Dit was natuurlik ’n klap in die Engelsman se gesig gewees, want hy is nie ’n gewone generaal nie maar ’n Lord. Spitsvondigheid was dus deel van hierdie dapper man se samestelling.”

Om dié besonderse man se nalatenskap te herdenk, het Malan Donderdag die Parys-museum, wat ’n uitstalling van De Wet het, besoek.

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Vrystaat, by die uitstalling van genl. Christiaan de Wet ter herdenking van sy afsterwe honded jare gelede by die Parys-museum.

Volgens Malan het De Wet baie in dié omgewing deurbeweeg en het hy  ook ‘n paar skermutselings gehad.

Die Parys-museum het onlangs ná vreeslike verval heropen. Dié museum het egter steeds baie hulp nodig. Gemeenskapslede van Parys kan vir Jan-Danie Malan bel by 082 965 7002 of Warren Flores  by 072 657 6056 om betrokke te raak by die Parys-museum.

De Wet se gewildheid onder die burgers word goed vasgevang in die volgende lied, “De Wet!”, uit die FAK-Sangbundel:

Woorde: DANIE THERON; gewysig: P. MCLACHLAN

Musiek: W. TOLSMA; verwerk: CHRIS LAMPRECHT

Wie is die dapper generaal?  De Wet!

Wie stry so dapper in Transvaal?  De Wet!

Wie is dit wat die trotse Brit so telkens in die stof laat sit?

De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet!

Wie kom, wie gaan net soos ’n gees?  De Wet!

Wie word deur Tommie meer gevrees?  De Wet!

Wie is dit wat so elke slag verskyn waar hul hom nie verwag?

De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet!

Wie ken die pad om koers te hou?  De Wet!

Wie is dit wat die moed behou?  De Wet!

Wie laat hom van geen vyand paai?  Wie toon hom immer ewe taai?

De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet, De Wet!

“Die bekende lied is deur kommandant Danie Theron ná die vyfdaggeveg van Frederikstad geskryf. Dit verwys na hoe dapper De Wet in die Transvaal geveg het. Generaal De Wet het vir President Steyn gaan aflewer vir samesprekings met die regering van die ZAR en op sy terugroete by Frederickstad, sowat 20 km buite Potchefstroom, saam met genl. Liebenberg aan die Slag van Frederickstad deelgeneem. Genl. De Wet se opmerking ná die slag was dat hy vreeslik van genl. Liebenberg as mens hou maar as generaal wil hy nie weer saam met hom veg.

Die De Wet-gedeelte is al lekker geskree deur baie jong Afrikanertjies vir hul held van die Vrystaat.”

Die mens wat gesag afgedwing het deur houding en nie woorde nie, word ook vasgepen deur die volgende gedig deur Jan F.E. Celliers.

Generaal De Wet
Stil, broers,
daar gaan ’n man verby,
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.

Die oog,
nou dof en weggesink,
soos vuurvonk kon hy blink –
die arendsblik,
die kakie- en renegateskrik.
Die stap en kraggebaar
is nou bedaar.
Is dit jul leier nog, per’ ruiterskaar?

Gewis!
en soos hy ons s’n was
en is.

Al is die oog verswak,
hy kyk nog fier omhoog
in jou
soos in sy God se oog.
Al stap hy kromgeknak
en afdraans af,
al klop die hart al flou:
soos altyd is nog nou
elk stap en hartslag trou
tot in sy graf.

En hierdie pure man
jou kind, Suid-Afrika!
Wat vrees ons dan?
Geseën sal wees
die grond, die bloed, die vlees
wat sulke vrugte dra.
In ons De Wet se gees
Voortwaarts,
Suid-Afrika!

Kontak gerus vir Malan 082 965 7002 as jy betrokke wil raak by ’n FAK-Kultuurnetwerk in die Vrystaat,  waar jy vandag nog ’n kulturele belegging kan maak deur jou betrokkenheid.