Die datum was 2 Februarie 1659. Dit was ’n warm, mooiweersdag en die wind het soos die vorige dag gewaai in die Kaap. So het Jan van Riebeeck in sy dagboek geskryf. Die eerste druiwe word gepars in die Kaap. Dit was ’n beskeie oes wat maar slegs sowat 12-14 liter mos opgelewer het, maar dit was ’n heuglike dag. Wingerde is later op groot skaal aangeplant op Jan van Riebeeck se plaas Bosheuvel, vandag Bishopscourt in Wynberg.
Die eerste steggies is reeds in 1654 ingevoer en die volgende jaar opgevolg met ’n groter besending uit Frankryk, Duitsland en Spanje. Teen Augustus daardie jaar is die eerste muskadel-, fransdruif- en hanepoot- wingerdstokke in die Kompanjiestuin aangeplant. Een van die redes wat aangevoer word vir die aanplanting van wingerd by die verversingspos was dat verkeerdelik geglo is dat druiwe en wyn skeurbuik onder matrose kon voorkom.
Van daardie eerste oes skryf Jan van Riebeeck dat dit meestal muskadel was asook ander ronde, wit druiwe met ’n baie lekker smaak en geur. Die Spaanse druiwe was egter nog nie ryp nie alhoewel dit reeds redelik swaar aan die wingerdstokke gehang het. Hierdie was die begin van ’n wynbedryf in Suid-Afrika wat vandag veral in die Wes-Kaap ’n baie groot bydrae lewer tot die ekonomie met wynplase soos Groot Constantia van Simon van der Stel waarvan die handelsmerk vandag internasionale bekendheid geniet.
Gister op 2 Februarie 2022 het lede van die FAK-Noordelike voorstede-Kultuurnetwerk die Kompanjiestuin in Kaapstad besoek om by die druiweprieel langs die groentetuin hierdie eerste druiwe-oes te herdenk. So anders as in 1659, was dit ’n bewolkte dag met ligte reën, maar geen wind nie. Christianne Mengel, ’n gebore Nederlander, het die dagboekinskrywing van 2 Februarie 1659 in Nederlands voorgelees waarna die Afrikaanse vertaling gevolg het en ’n praatjie oor die eerste druiwe aan die Kaap.
Christianne Mengel, ’n gebore Nederlander, het die dagboekinskrywing van 2 Februarie 1659 in Nederlands voorgelees waarna die Afrikaanse vertaling gevolg het en ’n praatjie oor die eerste druiwe aan die Kaap. Saam met haar is Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap.
“In die mooi omgewing van die Kompanjiestuin het ons saam met Jan en Maria van Riebeeck ’n glasie op die eerste druiwe-oes in Suid-Afrika geklink. Hoe sou hulle ooit kon raai hoe groot en wyd hierdie klein begin van hulle oor meer as drie eeue sou uitbrei,” het Elizma Smith, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Kaap, gesê.
As jy wil betrokke raak by ‘n FAK-Kultuurnetwerk in die Wes-, Oos en Suid-Kaap, stuur vir Elizma ‘n e-pos by elizma@kultuurtuiste.org.za.