Iewers êrens

Outeur: Willem Pretorius

Uitgewer: Protea Boekhuis

Resensent: Francois Bekker

 

 

 

Wat die oog sien, behoef ons ook om dit onder woorde te bring. Die koerantredakteur Arthur Brisbane was reg toe hy in 1911 tydens ’n praatjie daarop gewys het dat ’n prent ’n duisend woorde werd is. (A picture paints a thousand words). Willem Pretorius se Iewers êrens bied die leser ’n unieke geleentheid om te kan kyk en te lees met essays deur van ons voorste skrywers wat in gesprek tree met vyftig van Pretorius se kunswerke.

Huise uit vervloë dae, verwaarloos en vergete. Swembaddens wat in onbruik verval het. Skrootwerwe. Vernielde speelparkies. Motorwrakke. Straattonele wat swaar dra aan gister. ’n Inryteater oorgroei met onkruid. Karoo-dorpe. Lokomotiewe. ’n Eensame karavaan en voertuie wat die afstand lank reeds afgelê het. Gehawende teerpaaie met enorme slaggate en plek-plek nog pad.

Willem Pretorius se skilderye adem ’n sonderlinge en magiese gevoel. Enersyds foto-realisties en tog. Wat vasgevang word, is atmosferies ryk en wek verskillende gevoelens by die kyker. In sy essay noem Nicol Stassen die name vir hierdie gevoel van “… verlies, pyn, of verlange na daardie onbereikbare verlede wat vir altyd verlore is.” Die Portugese woord is saudade. Die Turkse woord is hüzün. En die Duitse woord is Sehnsucht (bl. 111).

Wanneer jy na die prente kyk, sal jy saam met Toast Coetzer vra: “Waar is hierdie?” (bl. 35). En soos dit vir die meeste van die eassayiste is wat aan hierdie projek deelgeneem het, sal dit herinneringe van lank gelede aktiveer. Van ’n wêreld en ’n lewe wat nie meer bestaan nie. En nes jy dink jou greep op wat jy sien stewig is, verdwyn dit deur wat Schalk Scoombie die “kraak van tyd noem” (bl. 69).

Daar is iets besonder elegies aan die vervalle swembaddens wat Pretorius op doek verewig. Hierdie prente is uitstekende voorbeelde van sy vermoë om die estetika van verganklikheid vas te vang. Ronel Nel se skryfsel by een so verlate swembad is eenvoudig aangrypend. Nel betrek Jung en noem die “dieptes wat Willem Pretorius in oënskynlike vlakheid vind” (bl. 71).

Andries Bezuidenhout oorweeg op insiggewende wyse die invloed van die ontslape landskapkunstenaar Walter Meyer op Pretorius se werk. Hierdie treffende skryfstuk vergesel ’n toneel wat Walter Meyer ook geskilder het – daarom die titel “Walter se view” (bl. 80). Hierdie kunswerk is ’n ode aan tipiese Karoo-dorpsargitektuur.

Hoe verskillend die tientalle skrywers op die prente reageer, word opsigself ’n interessante spel. By sommiges werklike herinneringe uit hulle kinderdae. Ander oorweeg die skilder se besondere tegniek om tonele op doek te verewig. 

Ook fiksie en filosofiese mymeringe. Selfs digters kom aan die woord. 

Elke skildery vertel ’n storie. En die leser/kyker sal in sy of haar eie kop ook ’n storie opmaak.

Danie Marais noem dit: “… ’n kroniek van verderf wat die onverskillige meedoënloosheid van tyd konfronteer saam met ’n nostalgie vir wat was, maar nooit ’n kans gestaan het nie” (bl. 92).

Hierdie bundel wat keurig saamgestel is deur Deborah Steinmair word paslik ingelei deur Andries Bezuidenhout. Bezuidenhout wys daarop dat oëverblindery dikwels ’n wesenskenmerk van landskapskilderye is. Dit behels ’n tweegesprek tussen fotografie en skilder. Met die platteland as muse vir Willem Pretorius se kunswerke loop dit meermaal uit op die illusie van bekendheid, van herkenning. Want al was die leser nooit op die plekke wat op doek geskilder word nie, is dit tog asof ons al daar was, eendag lank gelede.

Iewers êrens is niks anders as ’n liefdesdaad wat die virtuositeit van ’n begaafde skilder en gerekende woordkunstenaars bymekaar bring nie. ’n Bundel wat hom onbeskaamd bemoei met wat verby is, maar beloof om ’n durende metgesel vir die leser te wees. Alle lof aan Protea Boekhuis met hierdie besondere publikasie. Bederf jouself met waarskynlik die mooiste en treffendste boek van die jaar.