Hans bars die bioborrel

Skrywer: Rudie van Rensburg

Uitgewer: Quillerie (NB)

Resensent: Carla van der Spuy

 

 

Nog nooit het ek so hard en uitbundig gelag soos met die lees van hierdie boek nie. Van Rensburg is ’n gesoute krimiskrywer maar hy vaar net so goed met humor.

Hier in ’n tydperk wat almal van ons so dikwels, so lank en so swaar sug, kyk die skrywer na die ligte kant van die lewe in ’n ouetehuis.

Huis Madeliefie se inwoners word deur die staat se vlak 5-inperking in die gesig gestaar. Die hoogbejaarde Hans wat nie te oud vir konkel en slinkse planne is nie, besef goed dat die Covid-19-pandemie elke faset van hul lewens raak “want teen hierdie virus groei geen onkruid.”

Vir hom bring die drakoniese bevelsraad van die tehuis geen vrolikheid nie. Boonop is hý wat Hans is, oor die hoof gesien as leier van die bevelsraad. Die teatrale afgetrede akteur, Altoon Allers, wat diep onder die indruk van homself is, neem die leisels. Hy is nog boonop ’n inkommer. Kort voor lank eet byna almal uit “Die Groot Akteur” se hand.

Hans en sy vriende laat dit egter nie daar nie en besluit om Allers luisterryk te onttroon. Hulle weier om deel van die “wierookswaaiers” en ’n opgehemelde toneelopvoering te wees. ’n Versetbeweging word gestig wat tot vele avonture lei. Maar hiervoor moet jy maar self lees hoe Hans die ondenkbare regkry …

Wat ek wel kan verklap, is dat Hans wat allesbehalwe hoofseunmateriaal is en sy makkers besluit die lewe sal veel draagliker wees as hulle die onwettige “vrug van die verbode sap” kan maak, drink en smous.

Van Rensburg het wonderlike karakters met beskrywende byname gekies. Mense wat ons almal ken. Die Dramakoning, die opstandiges, die meelopers, die breinsmokkelaars, die tannie wie se trots dit is om ’n voorslag in die kombuis te wees en die “partners in crime”.

Hy gebruik lekkerleesbeskrywings soos: “Hy kry vuil kyke van die pruimkommando”, “Hy swaai sy arms soos ’n tenteprediker rond” en die woord “gatomswaaiers”.

Van Rensburg beskryf die ouderdom sonder glans of glorie met byvoorbeeld: “Die frikkadelkoningin van die Laeveld gee ’n selfvoldane laggie wat haar nekhamme spontaan aan die skud laat gaan.”

Die virus is ’n saak van erns vir die groot visse in hierdie klein dammetjie. Mens besef net weer dat niemand so potsierlik is soos diegene wat hulself tog so belangrik ag nie. Hulle wat koning op hul eie mishope kraai. Soos Voëltjie wat die belangrike taak gekry het om daagliks volledige demonstrasies in sy “lesingstem” in die speletjieskamer te hou wat in ’n reinigingssentrum omskep is.

Vir Hans moet Huis Madeliefie egter nie ’n soort tronk wees nie, maar eerder “’n Plesiervesting waar die inwoners vrye teuels het om vir die laaste keer ’n bandelose genotsgalop te beleef voordat hulle ter ruste gelê word.”

Mens verkneukel jou ook in die outydse taal van die oumense met woorde soos: “Sê ek vir myselwers, dis nie almiskie nie” en “jou ou biesiepol!”

Die situasies waarin die bejaardes hulself bevind, is skreeusnaaks. As een inwoner nies sonder om die armsmoortegniek toe te pas, spat sy tafelgenote uitmekaar asof hy ’n handgranaat na hulle geslinger het. Borde breek en stoele word omgekeer soos wat mense van hom af probeer wegkom, skryf Van Rensburg.

’n Ander een gee “’n runniklaggie wat sy vals tande op mekaar laat klap.” Nog een word as so ’n goeie verkoopsman beskryf dat hy “turksvye kan verkoop aan iemand wat aan permanente hardlywigheid ly.”

Die lighartige Hans bars die bioborrel is beslis een van my gunstelinge van vanjaar. Dis toeganklik en suiwer onverdunde genot wat deur oud en jonk geniet sal word.

’n Serotonienontploffing!