FAK bied museum- en erfeniskursus aan

Ken jy bewaringsterminologie?  Weet jy wat is die wetgewing rondom monumente of die hantering van grafte? Weet jy wat is die verband tussen museums en erfenis?
 
Prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog en buitengewone professor in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit, het op 16 en 17 Februarie in samewerking met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en ander erfenisbewaringskundiges by die Voortrekkermonument in Pretoria ’n museum- en erfeniskursus aangebied wat ’n indiepte-ondersoek behels na aspekte rakende die beskerming, bewaring en onderhoud van ons erfenis en die toepaslike wetgewing daaraan gekoppel.

“Museumbestuur en administrasie is baie belangrik.”

Volgens Van Vollenhoven kortwiek museumkundiges wat “ongelukkig meestal nie opgelei is in administrasie en finansie” die bestuur van museums en die administrasie daarvan.

Oor die wetgewing rakende monumente het hy gesê dat erfenis dikwels nie ’n prioriteit is nie.

“Dit word maklik gebruik om eie belang te bevorder en word afgeskeep wanneer dit sy doel gedien het.”

Hy meen Suid-Afrika het van die beste erfeniswette ter wêreld.

Van Vollenhoven sê die kriteria wat in ag geneem moet word rakende die wetgewing van monumente, sluit in die kulturele, sosiale, historiese, wetenskaplike en estetiese waarde van die betrokke monument.

“Histories dui op die wie of wat herdenk word. Die sosiale waarde is die plek, plasing of atmosfeer van die monument, terwyl die kulturele waarde dui op wat dit in die algemeen beteken. Die estetiese waarde dui weer op die plek, plasing en atmosfeer van die monument.”

Prof. Anton van Vollenhoven, argeoloog en buitengewone professor in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit, spreek kursusgangers van die FAK se museum- erfeniskursus by die Voortrekkermonument in Pretoria toe.

Annemarie Carelsen, ‘n vakkundige by die Ditsong Kultuurhistoriese museum in Pretoria, het saam met Van Vollenhoven onder meer projekorganiseerders van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, Vrystaat en Kaap en ander belangstellendes toegespreek. Sy spesialiseer in historiese interieurs en die konservering van museumvoorwerpe. Sy is ook tans ‘n raadslid van die SA Vereniging vir Kultuurgeskiedenis.

“Bewaring van ons erfenis, is ons almal se taak.”

Leonie Marais, ‘n erfeniskonsultant wat spesifiek in argitektuur spesialiseer, is ook deel van die paneel gassprekers gewees van die twee dae lange kursus. Sy het al by verskeie museums gewerk en ook lank op die provinsiale erfenisowerheid gedien. Sy dien tans op die Raad van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis.

Kursusgangers is deur die span erfeniskundiges met kennis oor erfenisbewaring toegerus.

Kursusgangers by die heel eerste museum- en erfeniskursus in die kapel by die Voortrekkermonument.

Vir die afgelope drie jaar woeker lede van die FAK-Kultuurnetwerke oor die land heen met projekte.

Buiten dat lede van die FAK-Kultuurnetwerke, waaronder Jan Publiek, die Suid-Afrikaanse Weermag Vereeniging, Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, Die Voortrekkers, Volkspele, skole en ander kultuurorganisasies, toesien dat Afrikanererfenis soos monumente beskerm word, maak hulle ook seker dat hierdie monumente en ander gedenktekens onderhou, skoongemaak en bewaar word.

Die FAK het in 2019 ter viering van sy 90ste bestaansjaar besluit om kultuurrade, oftewel kultuurnetwerke soos hulle nou bekend staan, weer tot stand te bring. Die FAK het kort ná sy stigting in Desember 1929 begin om kultuurrade in gemeenskappe te vestig. Onderliggend hieraan was oortuiging dat een kultuurvlam op nasionale vlak nie genoeg is om ons Afrikaanse taal en kultuur doeltreffend te bevorder nie. Die eerste kultuurraad is in 1930 in Pretoria gestig en kort daarna het die kultuurvlam feitlik in elke dorp regoor Suid-Afrika helder gebrand.

Johan Jansen van Rensburg, wat die historiese ou Nederlands Zuid-Afrikaanse Spoorweg Maatskappy (NAZM)-stasiegebou op Middelburg verlede jaar ten volle gerestoureer het, het ook die dié kursus bygewoon.

Temas soos museums en erfenisbewaring, waaronder ook die verband daartussen, museumvoorwerpe en bewaringsterminologie is ook bespreek.