FAK en ander organisasies onthou Henriette Armstrong só

Twee-en-tagtig jaar gelede het byna 10 000 vroue van regoor die land heen danksy haar skrywe na die Uniegebou in Pretoria gestap om beswaar te maak teen die Tweede Wêreldoorlog.

Henriette Armstrong het die bewoording opgestel vir die protesoptog op 22 Junie 1944 deur vroue wat beswaar gemaak het teen die Tweede Wêreldoorlog. Dié optog is binne vyf dae gereël en het vroue die kans gegee om hul stem in verset teen die oorlog te laat hoor. Die Ossewa-Brandwag, met dr. Hans van Rensburg as hoofleier, het ’n belangrike rol in die reëlings gespeel. Sowat 6000 vroue vanoor die hele land het van Kerkplein tot by die Uniegebou gestap. Langs die pad het nóg vroue aangesluit, wat die totale aantal deelnemers op 9900 te staan gebring het. Die “bejaarde volksmoeders” het die versoekskrif om neutraliteit aan genl. Jan Smuts se adjunk, min. JH Hofmeyr, oorhandig. Smuts het egter geen tyd gehad vir “partypolitieke propaganda” wat in stryd was met die aangenome landsbeleid nie.

Armstrong was ook een van die stigterslede van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF).

Vroue en mans van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), SAVF, Voortrekkermonument, Erfenisstigting en Die Dameskring het op 21 Februarie op Armstrong se 160ste verjaarsdag kranse by haar graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria gaan lê.

Die FAK en ander organisasies het op Henriette Armstrong se 160ste verjaardag kranse by haar graf in die Rebeccastraat-begraafplaas gelê. Van links agter is: Graeme Peplar, voorsitter van die SAVF, Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, Marietjie van der Spuy, bemarkingskoördineerder van die SAVF en Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK. Middel: Karien Snyman, uitvoerende beampte van Die Dameskring, Petra Luus, kurator van Voortrekkermonument en Erfenisstigting, Maureen Miller, ontvangsdame van die Voortrekkermonument, Charlotte Drotsky, FAK-projekbeampte en Katrien Botha, voormalige president van die SAVF. Voor: Quentin Meyer, lid van die FAK-Noord van die berg-Kultuurnetwerk.

Graeme Peplar, president van die SAVF, het ook ’n Vrouefederasie-roos by haar graf geplant en Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, het ’n spekboom namens die FAK daar geplant.

“Ons bring vandag hulde aan hierdie formidabele vrou. Ons moet leer uit ons geskiedenis en mense soos Henriette Armstrong onthou,” sê Müller.

Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, en Quentin Meyer, lid van die FAK-Noord van die berg-Kultuurnetwerk, plant ’n spekboom namens die FAK ’n spekboom by Henriette Armstrong se graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria ter viering van haar 160ste verjaarsdag.

Toe die Anglo-Boereoorlog in 1899 uitgebreek het, het sy as verpleegster by genl. Piet Joubert se kommando aangesluit. Sy het sewe reise met gewondes van Ladysmith in KwaZulu-Natal na Pretoria onderneem. Met die Britse oorname van Pretoria op 5 Junie 1900 het sy daarheen teruggekeer en ’n groep vrywillige verpleegsters wat in die Irene-konsentrasiekamp sou werk, georganiseer. Sy was van April tot Oktober 1901 in dié kamp en het dagboek gehou van haar wedervaringe. Sy was bevriend met offisiere van die Britse besettingsmag en het die inligting wat hulle vir haar gegee het, deur kapt. JJ Naudé aan die Boereleiers in die veld oorgedra.

Ná die oorlog was sy in 1904 ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die volgende jaar het sy die Reddingshuis (Armstrong-Berning-sentrum) vir ongehude moeders, wat nog dekades lank sou bestaan, ingerig. In 1911 het sy die SAVF oorreed om die verwaarloosde kinderkerkhof by Irene op te knap en elke Goeie Vrydag ’n gedenkdiens en kranslegging daar te hou. Sy was ook ’n stigter van die Langlaagte-weeshuis vir oorlogsweeskinders.

Tydens die Rebellie van 1914 het sy gedien op ’n hulpkomitee wat die rebelliegevangenes van voedsel voorsien het en in 1916 het sy gehelp met die organisasie van ’n optog deur vroue wat amnestie vir die rebelliegevangenes bepleit het. In dieselfde jaar was sy betrokke by die stigting van die Vroue-Nasionale Party waarvan sy hoofbestuurslid was. Sy het hierdie party in 1919 verteenwoordig by die stigting van die Bond van Afrikaanse Moeders; dit was een van die eerste opleidingsentrums vir vroedvroue in Suid-Afrika.

In 1939 het sy ’n beroerteaanval gehad en omdat sy haarself nie meer kon help nie, het sy by ’n neef, Heinrich Stuart, gaan woon. Hy het haar vir die laaste vyf jaar van haar lewe versorg. Sy is op 17 Oktober 1944 in die ouderdom van 82 jaar oorlede en langs haar ma in die Ou Begraafplaas in Rebeccastraat in Pretoria begrawe.

Peplar sê sy eie storie het by die Armstrong-Berning-sentrum begin.

“Dankie vir diep spore wat sy (Armstrong) getrap het. Dankie vir die FAK wat hierdie inisiatief gereël het en dat julle en ander organisasies ons kultuur en geskiedenis bewaar en ons aandag daarop vestig.”

Graeme Peplar, president van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), by Henriette Armstrong se graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in die weste van Pretoria.