14 maal moord
Skrywer: Daniël Lötter
Uitgewer: Protea Boekhuis
Resensent: Carla van der Spuy
Die gebeure in 14 maal moord is so verregaande dat jy skaars kan glo dat dit werklik plaasgevind het, hoewel ek vermoed dat die skrywer die stories soms geesdriftig ingekleur het. Maar wie gaan met hom stry? Die meeste van die moordenaars en hul slagoffers is immers lankal saliger.
14 maal moord is ’n sappige opvolg op Daniël Lötter se eerste bundel moordstories, 17 maal moord. En soos die agterplat lui, vertel hy dit weereens in sy gemaklike en dikwels humoristiese trant.
Van die moordstories soos die grusame voorval van die koplose vrou wie se liggaamsdele in ’n kartonkoffer in die Boksburgmeer gevind is, het nog in my leeftyd plaasgevind. Koerante het natuurlik van die rakke gevlieg want nes die skrywer wat ruiterlik erken dat hy “’n makabere belangstelling in misdaad, veral moord” het wat “Die koning van misdaad” is, is dit ook die geval met baie lesers. Partykeer is die mensdom nou eenmaal net in sy diepste wese bloeddorstig. Nie te lank gelede nie, was dit skarevermaak om kyk hoe mense op die dorpsplein opgehang word.
Party kriminoloë glo ook dat enige mens onder gegewe omstandighede tot moord in staat is. Ek. Jy. Enigeen. Dus doodgewone mense. Maar met donker motiewe. Soos die mense waaroor Lötter skryf.
Interessante gegewens kom in die boek voor soos dat die gruwelikste moorde gewoonlik deur amateurs gepleeg word. Maar, kan mens byvoeg, agterna besonder vindingryk moet optree en glad moet lieg om die lyk weg te steek. Niks minder nie as verhoogakteurs wat ’n Oscar-vertoning gee.
Hy skryf oor Maria Mouton wat haar man in ’n ystervarkgat begrawe het, oor Dora Kraft wat ’n gat in die ashoop gegrou het, Andries du Plessis wat verbranding probeer het en Ronald Burch wat die oorskot stukkie vir stukkie in tasse opgepak en weggegooi het.
Die motiewe vir die moorde is fassinerend. Dit wil voorkom asof egskeiding, ongepoetsheid en suinigheid moord in die hart en bloed op die hande van party keelvol vroue tot gevolg gehad het. (Laat dit ’n waarskuwing vir mans wees. Veral die suinigheid.)
Een hoofstuk met politieke ondertone se opskrif lui: “’n Boeregalg vir ’n Engelsman” wat in die negentiende eeu ’n gesinsmoord gepleeg het deur sy vrou en kinders te vermoor. En sowaar was hy so skelm soos die houtjie van die galg, omdat hy die aand voor die dag dat hy gehang is, probeer ontsnap het, maar later ewe edel verklaar het dat sou hy vlug dit ’n bewys van sy skuld sou wees. Hy wou klaarblyklik soos “’n English gentleman” voorkom.
As ’n jong man met ’n skatryk, lywige tannie wat sy ma of ouma kon gewees het afhaak, moet jy weet dis nie omdat hy dronk van liefde is nie. Veral nog as binne gemeenskap van goedere getrou word.
Dan was daar meer as een Daisy de Melker soos die koelbloedige gifmoordenares wat haar dronk rondloperman met two-step uitgehaal het en sy liggaam daarna in die vrieskas versteek het.
Ja-nee, hell hath no fury like a woman scorned.
Lötter skryf oor bloedskande, bygelowe, waansinnige massamoord, oor gierigaards en tikkende tydbomme wie se koppe hulle gelos het. Mens lees ook met ontsteltenis van moordorgies en kannibalisme waar ’n liefdevolle en onskuldige non die slagoffer was.
Hy gaan haal die stories ver. Party daarvan het eeue gelede plaasgevind. Om afstande te skat, is destyds byvoorbeeld nog van “vyf uur te perd” gepraat.
Hy het ontsettend baie navorsing gedoen om vir lesers ’n agtergrond van die opspraakwekkende gebeure uit vergange dae te skets. Soos die gesin wat tussen 1855 en 1877 altesame 14 (sowaar!) kinders gehad het. Tye toe klere uit uitgekookte meelsakke gemaak is.
Mens kyk ook terug op die vyftigerjare met die eendsterte wat hul hare met brylcream agtertoe in ’n punt in die nek gekam het en wit sokkies en leerbaadjies gedra het.
Mens verlekker jou in die beskrywings van sy karakters soos die pa “wat sy broek se gat blink sit op die voorstoep” en die stomme stiefma “wie se hande rooi van die boerseep is van al die klere en kooigoed was.” As die ou oom 82 is, sit hy nie meer “uit gewoonte nie maar omdat hy nie anders kan nie.”
Goed geslyp aan die goue beginsel van “wys, moet nie vertel nie.”
Jy lag lekker vir sy vergelykings soos “Maans is altemit nie die skerpste ploegskaar op die plaas nie, maar hy is ’n man met ’n plan.” En sy geslepenheid oor die voorneme: “Trou sy hom dan het hy ’n plaas. Sy is nou wel amper twee keer so oud soos hy, maar ’n man kan mos maar kers doodblaas en doen wat jy moet doen ter wille van die plaas.”
Dan is daar Jiem “wat hom nie toespits op die edelheid wat arbeid bring nie.” En die man wat deur ’n meisie se kamervenster geklim het en op heterdaad deur die woedende pa betrap is terwyl hulle “nie juis oor die droogte gesels het nie.” Hy beskryf ’n sekere meisiekind as “welluswekkend en astrant” of overgesetsynde ’n “voor-op-die-wa tert” in Oos-Randse taal.
Daar is interessante feite oor gesinne met te min dogters wat hulle toeka dan sommer ’n seunsnaam soos “Gert” gegee het.
Ek is altyd skrikkerig vir ’n man met te veel sjarme. Van Lötter se moordenaars is blindelings aanbid omdat hulle emmersvol charisma gehad het. Soos die briljante speurder wat ’n donker dubbele lewe gelei het. Dit is juis wat sulke mans so gevaarlik maak.
Die doodstraf is natuurlik lankal in Suid-Afrika afgeskaf maar mens kry steeds koue rillings as jy terugdink aan die vonnisse wat destyds deur regters uitgespreek is, bv. “Dat jy hiervandaan geneem word na ’n plek van aanhouding en daarvandaan na ’n plek van teregstelling en dat jy daar gehang sal word aan jou nek tot jy dood is.”
Lötter blaas nuwe lewe in ou onopgeloste moorde soos dié van Bubbles Schroeder wat tussen die ryk mans van Johannesburg geflenter het en wie se moord 70 jaar later steeds deur geheimsinnigheid omhul word.
Dan is daar die vreemde verhaal van die baron se tweedehandse selfdood en “moord op eie versoek.”
Die waarheid hieroor is natuurlik saam met die moordenaars en slagoffers graf toe.