Boeiend. Slim. En spannend tot reg aan die einde

Vlam

Skrywer: Sidney Gilroy

Uitgewer: Human & Rousseau

Resensent: Francois Bekker

 

 

 

Parys is nie sommer ’n gewone Vrystaatse dorpie nie. Ja, dit is soos wat mens kan verwag ’n klein plekkie wat deur skinderstories aan mekaar gehou – of soms aan flarde geruk – word. Ja, landbou en die wel en wee van die boere vorm ’n belangrike hoeksteen van die gemeenskap. In Parys tref ’n mens egter ook die eksentrieke en boheemse aan met ’n kunstenaarsgemeenskap wat hier kom nesskop het. Voeg seks en geld as twee belangrike dryfvere by en jy verstaan waarom Parys ’n hutspot van gevaarlike intrige kan wees.

Die Xanadu-landgoed net buite Parys staan in ligte laaie. Naburige boere probeer laatnag om die inferno in bedwang te bring. Tevergeefs. Van die internasionaal bekende kunsgalery, wat ook die woning van die kunstenares Aretha Hatting was, bly net verskroeide as oor. Was dit ’n ongeluk? Was dit brandstigting? Wat Aretha betref, word selfs selfdood as moontlikheid genoem.

Anders as voorheen is dit met moeite dat sersant Sollie Mthembu, Parkwegstasie in Bloemfontein se nou reeds befaamde speurder, die pad vat Parys toe. Dit is nou om agter die kap van die byl te kom oor die brand waartydens nie alleen miljoene rande se kuns in puin gelê is nie, dit het straks ook ’n kunstenaar se lewe abrup beëindig. Wat het tot die brand aanleiding gegee? Wie sit hier agter? ’n Dossier moet saamgestel word. En swaar op Sollie se skouers weeg die wete dat sy huwelik met die vrou vir wie hy oneindig lief is klaarblyklik op die rotse is.

Twee verhale ontvou jukstaposisioneel. Enersyds die geheimsinnigheid wat Aretha as kunstenaar en mens in Parys omgeef het en haar verhouding met die mense op die dorp. Hoekom sommige mense nie van haar gehou het nie. Wat sy vir mense beteken het en waarom daar ook diesulkes is wat haar eer tot elke prys sal beskerm.

Andersyds vertel dit die verhaal van ’n jong Aretha wat haar kleindorpse bestaan op Viljoenskroon sover moontlik agter haar wil laat. Hierdie hartswens van haar neem haar na Nederland waar ’n getroue kliënt van haar reg staan om haar te help. Haar mikpunt is om die internasionale kunsmark te betree. Kort voor lank besef sy, sy het die grootste fout van haar lewe gemaak.

Sidney Gilroy bevestig homself met Vlam as een van ons beste krimiskrywers. Hy lê menslike boosheid op ’n sonderlinge dog ongenadige manier bloot. Uiteindelik vertel hierdie misdaadroman twee liefdesverhale. Aan die een kant is daar Sollie wat bo sy verlede wil uitstyg en alles sal doen om sy huwelik te red omdat hy oneindig lief is vir sy vrou. Aan die ander kant is daar die kunstenaar Aretha wat ook bo haar omstandighede wil uitstyg. Sy loop haar vas teen ’n monster wie se idee van liefde alle gesonde verstand te bowe gaan. Boeiend. Slim. En spannend tot reg aan die einde.